Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Eksotiese vleis te koop

Ten spyte van internasionale wette wat die handel in vlermuisvleis en die gebruik daarvan as voedsel in Europa verbied, word dit onwettig in Britse winkels en restaurante verkoop. “Dit is ’n groot bron van kommer dat beskermde vlermuisspesies doodgemaak en in die geheim ingevoer word, om nie eens te praat van die gevaar wat dit vir die openbare gesondheid inhou as vleis geëet word wat nie geïnspekteer is nie”, sê Richard Barnwell, van die Wêreld-natuurfonds. In dele van Afrika is vrugtevlermuise al lank ’n belangrike voedselbron, en in Maleisië en Indonesië het sommige van die seldsaamste spesies vrugtevlermuise geweldig verminder weens die handel in hulle vleis. Ook in die Seychelle word vlermuiskerrie as ’n luukse beskou. The Sunday Times van Londen berig egter dat vlermuise “nie die enigste bedreigde diere is wat in Europa gesog is nie”. Restaurante in Brussel, die hoofstad van België, bedien sjimpanseevleis.

Vroetel jy?

Ongeveer 15 persent van die algemene bevolking het senuwee-aanwensels, sê die Kanadese koerant die Globe and Mail. Navorsers sê dat sommige vroetel deur “hulle hare om hulle vingers te draai, met hulle voete op die vloer te klop, hulle bene te wikkel, onder hulle vingernaels te krap en dies meer”. Waarom vroetel mense? Peggy Richter, ’n psigiater by Toronto se Sentrum vir Verslawing en Geestesgesondheid, meen dat sulke herhalingsbewegings gerusstellend is. Aan die ander kant sê die kliniese sielkundige Paul Kelly dat mense vroetel omdat hulle gespanne is en dat dit ’n outomatiese, onbewuste reaksie is wat spontaan gebeur en ’n spanningsvolle situasie vir jou kan verlig. Volgens deskundiges “kan jy leer om die gewoonte te onderbreek en uiteindelik daarmee op te hou deur middel van vervangingsterapie—dit wil sê konsentreer op ’n ander voorwerp wanneer jy agterkom dat jy vroetel”, sê die Globe.

Verslaaf aan kola?

Mexikane drink gemiddeld 160 liter koladrankies per persoon per jaar, berig die Mexican Association of Studies for Consumer Defense. Jaarliks word meer geld aan koladrankies bestee as wat daar altesaam aan die tien mees basiese voedselsoorte bestee word. Volgens sommige is die hoë verbruik van hierdie koeldranke glo een van die hoofoorsake van wanvoeding in Mexiko. Sekere bestanddele van kola kan die opname van kalsium en yster belemmer. Probleme wat ook vermoedelik aan kolaverbruik gekoppel kan word, sluit in dat ’n mens makliker probleme ondervind met nierstene, gaatjies in die tande, vetsug en hoë bloeddruk, sowel as met slaaploosheid, maagsere en angstigheid. ‘Ons was voorheen “graanmense”’, sê Consumer’s Guide Magazine, ‘maar nou kan ’n mens sê dat ons “kola”-mense is.’

’n “Regverdige oorlog”?

“Die oorlog in Joego-Slawië het aanleiding gegee tot ware verdeeldheid in kerke, wat op die interpretasie van die tradisionele idee van ’n ‘regverdige oorlog’ gebaseer is”, sê die Franse koerant Le Monde. Die idee van ’n regverdige oorlog (jus ad bellum) dateer uit die tyd van Augustinus, wat in die vyfde eeu geleef het. Volgens Le Monde is die “sedelike” regverdiging vir so ’n oorlog later deur ’n Katolieke filosoof, Tomas van Aquino, soos volg geformuleer: Daar moet ’n “regverdige oorsaak” wees, die oorlog moet ’n “laaste uitweg” wees, diegene wat oorlog voer moet “wettige gesag” hê en “die gebruik van wapens [moenie] meer skade en wanorde veroorsaak as die euwel wat verwyder moet word nie”. ’n Verdere voorwaarde wat in die 17de eeu bygevoeg is, is “kans op sukses”. Hoewel die meeste kerke nou die idee van ’n “heilige oorlog” verwerp, stry hulle nog steeds oor wat ’n “regverdige oorlog” is.

Brasilië se seksueel aktiewe jongmense

In Brasilië “het 33% van die meisies en 64% van die seuns hulle eerste seksuele verhouding tussen 14- en 19-jarige ouderdom gehad”, berig O Estado de S. Paulo. Daarbenewens het die aantal Brasiliaanse meisies tussen 15 en 19 wat seksueel aktief raak voordat hulle trou binne net tien jaar verdubbel. Volgens die demograaf Elizabeth Ferraz was daar “’n opvallende verandering in gesindheid teenoor seksualiteit”. ’n Ander studie toon byvoorbeeld dat 18 persent van Brasiliaanse adolessente alreeds ten minste een kind het of nou ’n kind verwag.

Hoe veilig is jou hospitaal?

“Pasiënte het ’n groter kans as een uit 10 om in ’n Ierse hospitaal infeksies te kry”, berig The Irish Times. Hospitaalverwekte-infeksies (HVI), soos dit genoem word, vereis bykomende behandeling en ’n langer verblyf in die hospitaal. ’n Enkele episode van HVI kan gemiddeld R13 500 per pasiënt kos, en dit vereis 11 ekstra dae in die hospitaal as dit ’n infeksie in die bloedstroom is. Wat veral kommerwekkend is, is infeksies wat deur “superbakterieë” veroorsaak word, wat “al hoe meer bestand raak teen ’n groot verskeidenheid antibiotika”, sê die koerant. “Bejaardes, klein kindertjies, mense wat lang tye in die hospitaal deurbring [en] diegene met onderliggende chroniese toestande soos hartsiektes of chroniese brongitis” is die vatbaarste vir HVI.

Na raming meer gene

Navorsers het onlangs die geskatte aantal gene in elke menslike sel hersien en dit op 140 000 gestel, berig The New York Times. Vorige skattings het gewissel van 50 000 tot 100 000 menslike gene. Dit beteken dat die mens aansienlik ingewikkelder is as wat voorheen gedink is. Gene gee die liggaam se selle die instruksies om aminosure in die regte volgorde te plaas om proteïene te maak. Die groot toename in die skatting “toon hoeveel daar nog oor die mens se genetiese programmering geleer moet word”, sê die koerant.

Beskouing oor hel verander

Die Katolieke Kerk het eeue lank geleer dat die hel ’n plek is waar die siele van goddelose mense vir ewig gepynig word. Dit het blykbaar verander. Die hel “is nie ’n straf wat van buite deur God toegedien word nie”, sê pous Johannes-Paulus II, “maar die gevolg van ’n uitgangspunt wat mense reeds in hierdie lewe geopenbaar het”. Dit is wat in L’Osservatore Romano berig is. “In plaas van ’n plek”, sê die Pous, “dui die hel die toestand aan van diegene wat hulleself vryelik en beslis afskei van God, die bron van alle lewe en vreugde.” Hy voeg by dat “ewige verdoemenis” nie God se werk is nie; dit is eerder “die skepsel wat nie [God se] liefde wil aanvaar nie”.

Stap vir jou gesondheid

Buiten dat stap jou help om gewig te verloor en stres te verlig, help dit om jou “bloeddruk [te verlaag] en is die risiko dat jy ’n hartaanval sal kry” kleiner, sê The Globe and Mail, van Toronto. As jy gesond wil bly, moet jy tyd daaraan bestee. Hoeveel? “Volgens Canada’s Physical Activity Guide to Healthy Active Living moet jy, as jy teen ’n matige pas loop, probeer om altesaam 60 minute per dag te stap—in periodes van ten minste 10 minute elk.” As jy 30 tot 60 minute per dag vinnig loop of fietsry of 20 tot 30 minute elke dag draf, kan dit jou ook gesond hou. Die Globe beveel aan dat jy ligte skoene dra wat asemhaal en veerkragtige sole het, goeie ondersteuning vir die voetrug bied, sagte binnesole en gemaklike ruimte vir die tone het.

Vroeë waarskuwing

“’n Dekade van ‘superrampe’ is moontlik die wêreld se voorland”, berig World Press Review, gebaseer op ’n artikel in Londen se Financial Times. Die Internasionale Federasie van Rooi Kruis- en Rooi Halfmaan-verenigings noem natuurrampe soos siklone en aardbewings en waarsku dat groot bevolkings deur katastrofes getref kan word. “Veertig van die 50 snelgroeiendste stede ter wêreld is in aardbewingsones geleë, en die helfte van die wêreld se bevolking woon in kusstreke waar hulle blootgestel is aan stygende seevlakke”, sê die tydskrif. ’n Ander onheilspellende teken is dat regerings in baie lande minder geld vir noodleniging beskikbaar stel, al is daar meer rampe.

’n Lang nag

“Majestueuse duisternis.” Dit is die Noorse poolreisiger Fridtjof Nansen se beskrywing van die “Mörketid”, of die tyd wanneer die son in noordelike Noorweë glad nie opkom nie. Twee maande lank is slegs ’n grysrooi skemerlig ’n paar uur teen die middag sigbaar. Maar nie almal verwelkom hierdie donker tyd nie. Volgens die koerant Ibbenbürener Volkszeitung ly 21,2 persent van Noorweërs wat anderkant die poolsirkel woon aan winterdepressie. Die oorsaak is dalk ’n tekort aan melatonien, ’n hormoon wat in die brein vervaardig word. Al wat help, is lig. Maar al hoe meer toeriste word na die poolsirkel gelok deur die flikkerende poolligte, die glinsterende sneeu in die maanlig en die vriendelike liggies van verspreide dorpies.