Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sal groter gewetensvryheid in Mexiko toegelaat word?

Sal groter gewetensvryheid in Mexiko toegelaat word?

Sal groter gewetensvryheid in Mexiko toegelaat word?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO

GODSDIENSVRYHEID in Mexiko word deur die wet gewaarborg. Die wet bevat nietemin nog steeds sekere beperkings op godsdiensvryheid. Die idee van gewetensbeswaar teen militêre diens is byvoorbeeld betreklik onbekend in hierdie land. Daarom het die Instituut vir Regsnavorsing, van die Nasionale Outonome Universiteit van Mexiko (UNAM), besluit om ’n internasionale simposium te hou met die titel “Gewetensbeswaar in Mexiko en die wêreld”. UNAM se Instituut vir Regsnavorsing moet aan die regering rekenskap gee, maar hulle doel is om die bestaande wette en die toepassing daarvan te ondersoek. Jehovah se Getuies in Mexiko is genooi om ’n verteenwoordiger te stuur om ’n toespraak te hou oor die onderwerp “Jehovah se Getuies en gewetensbeswaar”.

Professors sê wat hulle dink

Die aanbieding “Gewetensbeswaar in internasionale reg”, deur dr. Javier Martínez Torrón, professor aan die Granada-regsuniversiteit, in Spanje, het getoon dat gewetensvryheid en die reg om op grond van die gewete beswaar te maak teen die toepassing van sommige wette of verpligtinge alreeds internasionaal erken word. Hy het die situasie genoem van Jehovah se Getuies in Spanje en die Kokkinakis-saak in Griekeland. *

Dr. José Luis Soberanes Fernández, ’n professor aan UNAM se Instituut vir Regsnavorsing, het gepraat oor die onderwerp “Die Mexikaanse ondervinding in verband met die aangeleentheid”. “Ons moet daarop wys dat die Mexikaanse Wet op Godsdiensverenigings en Openbare Aanbidding gewetensbeswaar feitlik verbied”, het hy gesê en na die Eerste Artikel verwys, wat sê: “In geen geval onthef godsdiensoortuigings enigeen van gehoorsaamheid aan die wette van hierdie land nie. Niemand sal hom op godsdiensredes kan beroep ten einde die verantwoordelikhede en pligte te ontduik wat deur die wette voorgeskryf word nie.” Ter afsluiting het dr. Soberanes gesê: “Ons glo dat dit noodsaaklik is om wette te maak oor die kwessie van gewetensbeswaar in Mexiko.”

Hy het verwys na die feit dat honderde Getuie-kinders in Mexiko elke jaar voor probleme te staan kom in verband met hulle opvoeding omdat hulle op grond van die Bybel weier om die vlag te salueer. Sommige Getuie-kinders word nie eers toegelaat om vir die skool in te skryf nie. Maar deur hulle op die Menseregtekommissie te beroep, het baie van hulle hulle reg op opvoeding teruggekry. Party opvoedkundiges het selfs maatreëls getref om te voorkom dat kinders uit skole geskors word, maar party onderwysers doen nie sulke moeite nie. Die owerheid was verdraagsaam teenoor die Getuies se posisie, maar daar was nie ’n standaard wat die skole in Mexiko kan volg nie.

Die simposium het ook gewetensbesware gedek wat deur ander godsdienste geopper is, soos dat hulle gedwing word om te werk op dae wat hulle as heilig beskou, dat hulle werksklere moet dra wat hulle godsdiensoortuigings skend, ensovoorts. Besware teen militêre diens en teen sekere mediese behandelings is ook gedek.

Jehovah se Getuies en Caesar

’n Personeellid van die takkantoor van Jehovah se Getuies in Mexiko het kortliks hulle basiese oortuigings uiteengesit. Hy het verduidelik dat hulle by sulke Bybelbeginsels bly soos die een in Lukas 20:25, wat vir Christene sê om “aan Caesar terug [te betaal] wat aan Caesar behoort”. Hy het ook na Romeine 13:1 verwys, wat sê dat Christene die sekulêre owerhede moet respekteer. Hy het beklemtoon dat Jehovah se Getuies normale, wetsgehoorsame burgers is wat daarna streef om hulle belasting te betaal, ordelike lewens te lei, hulle huise skoon te hou en hulle kinders skool toe te stuur.

Daarna het hy die skriftuurlike grondslag beklemtoon vir die Getuies se weiering om die vlag te salueer, wat gevind kan word in die Tien Gebooie, in Exodus 20:3-5: “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie.”

Jehovah se Getuies aanbid God alleen, en onder geen omstandighede aanbid hulle ’n beeld nie. Maar hulle sal nooit enige oneerbiedige daad teenoor ’n nasionale embleem pleeg of oneerbiedig daarvan praat nie.

Die video Purple Triangles is vertoon om nadruk te lê op die standpunt van Jehovah se Getuies oor hierdie kwessie. Hierdie video toon die ferm standpunt wat Jehovah se Getuies in Nazi-Duitsland (1933-45) ingeneem het. Dit vertel die verhaal van die Kusserows, ’n gesin wat tydens die Nazi-regime vasgestaan het in hulle geloof. *

Toe is die skriftuurlike grondslag vir Jehovah se Getuies se weiering van bloedoortappings gegee (Genesis 9:3, 4; Handelinge 15:28, 29). Die reëling van Hospitaalskakelkomitees regoor die wêreld is verduidelik. Die prestasies van tegemoetkomende dokters wat bloedlose chirurgie op Jehovah se Getuies doen, is ook beklemtoon.

Elke dag het sowat 100 mense die simposium bygewoon, waarvan baie regsgeleerdes was. Verteenwoordigers van die Kantoor van Godsdiensaangeleenthede in Mexiko was ook teenwoordig. Almal wat aanwesig was, kon luister na deskundiges se standpunt oor respek vir gewetensbesware. Hierdie idee is nuut vir wetgewers in Mexiko, al word dit algemeen aanvaar in talle demokratiese lande, soos Frankryk, Portugal, Spanje en die Verenigde State sowel as in party voormalige Kommunistiese lande, soos Tsjeggië en Slowakye.

[Voetnote]

^ par. 5 Sien die artikels “Die Europese Hoër Hof bekragtig die reg om in Griekeland te preek” en “Die wetlike beskerming van die goeie nuus” in Die Wagtoring van 1 September 1993 en 1 Desember 1998.

^ par. 13 Sien Die Wagtoring van 1 September 1985, “My gesin se liefde vir God ondanks gevangenskap en die dood”. Sien ook die nommer van 15 Januarie 1994, bladsy 5.

[Prent op bladsy 21]

Jehovah se Getuies in Mexiko waardeer hulle vryheid om die predikingswerk te doen