Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Spinnerakkant”—Paraguay se fassinerende handwerk

“Spinnerakkant”—Paraguay se fassinerende handwerk

“Spinnerakkant”—Paraguay se fassinerende handwerk

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN PARAGUAY

ASUNCION, PARAGUAY. Aangesien ons tasse nog afgelaai word, het ons ’n paar minute om bietjie rond te kyk. My vrou sleep my skielik na ’n muurbehangsel toe. “Is dit nie pragtig nie!” roep sy uit en wys na ’n lieflike kanttafeldoek met ’n baie ingewikkelde ontwerp. Sy wonder onmiddellik hoe dit gemaak is.

Spinnerakkant het in Arabië ontstaan. Volgens die boek Paraguay, Touristic and General Information “is dit na die Kanariese Eilande en na Spanje geneem, en tussen die 17de en 18de eeu is dit na Paraguay gebring, waar die sogenaamde sonkant uit Teneriffe tot Paraguaanse kant, of nanduti, herdoop is”. In Paraguay het hierdie delikate kant die kantmaker se persoonlike stempel gedra, en plaaslike plante en diere is daarop uitgebeeld. Hoewel die kant nie ’n plaaslike uitvinding is nie, het die Paraguane hulle kant wel met nuwe steke versier. Baie van die inwoners maak ’n bestaan uit kantmakery.

Hoe maak hulle hierdie ingewikkelde kant wat soos ’n spinnerak lyk? Om ons die antwoord te help vind, het ons gids ons 30 kilometer oos van Asuncion na die klein dorpie Itauguá geneem. Hy het vir ons gesê dat baie van Paraguay se spinnerakkant in hierdie omgewing gemaak word. Trouens, baie geweefde artikels word uitgestal in winkels langs die hoofstraat.

Die eienares van een winkel het ons vriendelik gegroet en vir ons ’n paar mooi artikels gewys. Sy het verduidelik: “Handgemaakte kant word geklassifiseer volgens die manier waarop dit gemaak is. Spinnerakkant is ’n naaldkant. Die meeste Paraguaanse kantmakers memoriseer hulle ontwerpe, hoewel ander patrone gebruik. Hulle gebruik almal ’n stuk katoenmateriaal in ’n houtraam en maak kant met ’n naald en gare. Hulle leer hierdie handwerk van kleins af by hulle moeder en leer dit dan weer vir hulle kinders.”

Dit neem die wielwebspinnekop net twee of drie uur om ’n web te spin. “Dit neem tussen twee en drie maande om ’n tafeldoek met plek vir agt mense te maak as growwe gare gebruik word. Om dieselfde tafeldoek met dun gare te maak, neem ses tot agt maande”, het ons gasvrou gesê. “Hoe dunner die gare, hoe mooier is die eindproduk.”

Terwyl sy ’n wit kantdoilie vashou, verduidelik sy: “Die ontwerp in die middel is die blom van die koejawelboom, en hierdie draadjies moet getel word terwyl dit gemaak word. Hierdie ontwerp is die moeilikste om te maak, en dit neem twee weke om dit met dun gare te maak. Kantmakers het oorspronklik net dun gare gebruik en al die kant was peperduur. Daarom het baie kantmakers growwe gare begin gebruik sodat hulle artikels vinniger en goedkoper kon maak.”

Veelkleurige en wit plekmatjies, tafeldoeke, doilies, drupmatjies en ander huishoudelike artikels is uitgestal. Toe ons haar oor klere gevra het, het ons gasvrou gou ’n tipiese rok uitgehaal, wat aan haar dogter behoort, waarop sy vanselfsprekend baie trots is. Dit was ’n pragtige lang, reënboogkleurige rok. In ander winkels het ons ’n paar goed gemaakte poskaarte met fyn kant daarop gekry. Dit is geen wonder dat spinnerakkant as Paraguay se beroemdste handwerk beskou word nie.

[Volbladillustrasie op bladsy 18]