Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Teologie van welvaart Ek het die brokkie “Teologie van welvaart” in “Ons beskou die wêreld” (22 Junie 1999) uiters misleidend gevind, om die minste te sê. Oral moedig Pinkster- en charismatiese kerke mense aan om op grond van goeie Bybelbeginsels te gee. Die artikel is met ’n veroordelende gesindheid geskryf.

C. B., Verenigde State

Ons brokkie het akkuraat en objektief die woorde van die Lutherse teoloog Wanda Deifelt aangehaal soos dit verskyn het in die “ENI Bulletin”, die nuusbrief van die Wêreldraad van Kerke. Soos ons gesê het, was die artikel in daardie nuusbrief nie oor Pinkster- en charismatiese kerke in die algemeen nie, maar dit was spesifiek oor sekere kerke in Latyns-Amerika.—RED.

Vinland Ek wil julle graag bedank vir die artikel “Waar is die legendariese Vinland?” (8 Julie 1999). Ek stel al lank in die Vikings belang en het gehoop dat julle hierdie onderwerp sou bespreek. Uiteindelik is my wens bewaarheid.

S. S., Japan

Julle artikels is opvoedkundig. Maar ek dink dat een punt opgeklaar moet word. Baie geskiedskrywers gebruik die term “Vikings” net vir die Noorse seerowers wat die Europese kus geplunder het.

J. S., Verenigde State

“Ontwaak!” het verskeie gesiene geskiedskrywers in Noorweë en Groenland oor hierdie saak geraadpleeg. Die algemene opinie is dat die terme “Vikings” en “Noormanne” feitlik sinoniem is in die Engelssprekende wêreld, al is daar dalk meningsverskille onder geskiedskrywers oor die gebruik van die term “Viking”.—RED.

Tronkoorlewende Ek wil julle uit my hart bedank vir die artikel “God is ons helper” (22 Junie 1999). My oë het vol trane van vreugde geskiet toe ek gelees het hoe Francisco Coana die waarheid geleer het en sy diens aan Jehovah die belangrikste ding in sy lewe gemaak het. Dit was waarlik geloofversterkend om te lees van die beproewinge wat my Christenbroers in Mosambiek deurgemaak het.

J. H., Verenigde State

Siek ouers Ek was diep geraak deur die artikel “Jongmense vra . . . Waarom is my ma so siek?” (22 Julie 1999). Ek het nie gedink dat daar so baie jongmense is wat, soos ek, die voorreg het om na ’n siek geliefde om te sien nie. My ouma bly by ons, en sy is al vier maande bedlêend. Ek het bedruk en moeg begin voel om na haar om te sien. Ek het die nodige krag uit die artikel geput. Dit het my die vertroue gegee dat Jehovah my onderskraag.

J. P., Filippyne

Die artikel het my baie bemoedig, en dit het my die krag gegee om my ma, wat aan depressie ly, te ondersteun. Ek kon die wenke toepas wat die artikel gegee het om die situasie meer realisties te sien en om meer empatie en begrip te toon en taktvoller te wees.

G. L., Italië

Die artikel het net op die regte tyd gekom. Ek het kanker, en my seun bly by my. Hy het so erg gely dat ek nie meer geweet het hoe om hom te troos nie. Die artikel het sy gevoelens raak beskryf. Hierdie artikels is nie net vir jongmense nie. Hulle gaan oor die lewe self.

R. Z., Duitsland

Hierdie artikel het my help besef hoe belangrik dit is om geestelik bedrywig te bly. Ek het besef dat ’n mens net ’n sieke kan help as God se Koninkryk die spil is waarom jou eie lewe draai.

P. E., Oostenryk