Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ware geloof—Wat is dit?

Ware geloof—Wat is dit?

Die Bybel se beskouing

Ware geloof—Wat is dit?

“SONDER GELOOF IS DIT ONMOONTLIK OM VIR HOM WELBEHAAGLIK TE WEES, WANT HY WAT TOT GOD NADER, MOET GLO DAT HY IS EN DAT HY DIE BELONER WORD VAN DIÉ WAT HOM ERNSTIG SOEK.”—HEBREËRS 11:6.

WAT is geloof? Sommige verduidelik dit as ’n godsdienstige geloof in God sonder gegronde bewyse dat hy bestaan. Die Amerikaanse joernalis H. L. Mencken het dit gedefinieer as “’n onlogiese geloof dat die onwaarskynlike sal gebeur”. Is dit die ware geloof wat in die Bybel beskryf word? Dit is noodsaaklik om ’n duidelike begrip te hê van wat geloof is, want ‘sonder geloof is dit onmoontlik om vir God welbehaaglik te wees’, soos hierbo aangehaal is.

Die Bybel sê: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop” (Hebreërs 11:1, NAV). Geloof is dus gegrond op juiste kennis, feite waarop die regte besluite gebaseer kan word. Dit vereis nie net geloof nie, maar ’n rede om te glo.

Ter toeligting: Jy het moontlik ’n vriend van wie jy kan sê: “Ek vertrou hom. Ek kan op hom reken om sy woord te hou. Ek weet dat hy my sal help as ek ’n probleem het.” Dit is onwaarskynlik dat jy dit van iemand sal sê wat jy net ’n dag of twee lank ken, nie waar nie? Hy moet iemand wees wat keer op keer bewys het dat hy betroubaar is. Dit behoort dieselfde te wees met godsdienstige geloof, wat hoop en oortuiging moet voortbring wat op gegronde, betroubare bewyse gebaseer is.

Geloof of goedgelowigheid?

Baie van wat vandag as geloof beskou word, is in werklikheid goedgelowigheid—’n gereedheid om te glo sonder ’n geldige rede. Goedgelowigheid is dikwels op die veranderlike sand van emosies en bygelowigheid gebou. Dit is nie gegronde geloof nie omdat dit nie ’n betroubare grondslag vir geloof het nie.

Goedgelowigheid kan ’n mens oorhaastige gevolgtrekkings laat maak wat nie in ooreenstemming met Bybelwaarheid is nie. Gevolglik waarsku die Bybel teen ongegronde geloof: “Die eenvoudige glo elke woord, maar die skrandere let op sy voetstappe” (Spreuke 14:15). Die apostel Paulus het geskryf: “Maak seker van alle dinge; hou vas aan wat voortreflik is” (1 Tessalonisense 5:21). Die Bybel bevorder nie goedgelowigheid nie. Dit moedig wel geloof aan wat op bewyse gegrond is.

Dit is ’n ernstige saak om tussen ware geloof en goedgelowigheid te kan onderskei. ’n Mens kan godsdienstig wees en tog nie ware geloof hê nie. Paulus het gesê: “Geloof is nie iets wat alle mense besit nie” (2 Tessalonisense 3:2). Maar geloof wat op die Bybel gebaseer is, is wel iets wat sommige mense besit, en dit beïnvloed hulle lewe.

Ware geloof verbind die mens aan God

Geloof kan met ’n ketting vergelyk word met skakels van sekerheid en vertroue wat die mens aan God verbind. Maar hierdie soort geloof is iets wat aangekweek word; dit is nie iets waarmee ons gebore word nie. Hoe kan jy ware geloof opbou? Die Bybel verduidelik: “Geloof volg . . . op wat gehoor word. En wat gehoor word, is deur die woord oor Christus.”—Romeine 10:17.

Daarom moet jy tyd inruim om God en die leringe van sy Seun, Jesus Christus, te leer ken. Dit vereis inspanning om hierdie kennis op te doen (Spreuke 2:1-9). Jy moet jou inspan om uit te vind wat die Bybel sê sodat jy oortuig kan wees dat dit betroubaar is.

Ware geloof behels egter meer as om net kennis te hê of te glo dat iets waar is. Die hart—die setel van motivering—is ook betrokke. Romeine 10:10 sê: “Met die hart beoefen ’n mens geloof.” Wat beteken dit? Namate jy oor goddelike dinge nadink en waardering daarvoor opbou, laat jy die Bybel se boodskap toe om diep in jou hart in te sink. Geloof groei en word sterker namate jy beweeg word om op God se beloftes te reageer en jy bewyse van sy seëninge sien.—2 Tessalonisense 1:3.

Wat ’n kosbare besitting is ware geloof tog! Ons vind daarby baat wanneer ons moeilike toestande met vertroue in God die hoof kan bied deur te vertrou in sy vermoë om ons voetstappe te rig en in sy gewilligheid om in ons behoeftes te voorsien. Daarbenewens het God se Seun, Jesus Christus, op ’n langtermynvoordeel van geloof gewys: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Die ewige lewe—wat ’n wonderlike gawe vir diegene wat geloof het!

Geloof in God se belofte om sy knegte te beloon, gee ’n mens ’n nuwe uitkyk op die lewe. Hebreërs 11:6 sê ware geloof behels dat ’n mens glo in God se vermoë om “dié wat hom ernstig soek” te beloon. Dit is dus duidelik dat ware geloof nie goedgelowigheid is nie, en dit is baie meer as om net te glo dat God bestaan. Dit behels dat ’n mens aanvaar dat God die vermoë het om op te tree as ’n beloner van dié wat hom ernstig soek. Wil jy God werklik ken? Indien wel, moet jy juiste kennis van sy Woord, die Bybel, opdoen, en jou geloof sal beloon word.—Kolossense 1:9, 10.

[Foto-erkenning op bladsy 26]

Drawings of Albrecht Dürer/Dover Publications, Inc.