Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wie is vandag slawe?

Wie is vandag slawe?

Wie is vandag slawe?

DINK net hoeveel mense is hierby betrokke. Daar word geskat dat tussen 200 en 250 miljoen kinders onder die ouderdom van 15 die grootste deel van die tyd wat hulle wakker is by die werk deurbring. Gedurende 1995 en 1996 alleen is ’n kwartmiljoen kinders, waarvan party net sewe jaar oud was, gedwing om by gewapende konflikte betrokke te raak, en party het dus oorlogslawe geword. Die aantal vroue en kinders wat elke jaar as slawe verkoop word, is na raming meer as ’n miljoen.

Maar blote syfers kan onmoontlik die desperaatheid van hierdie mense beskryf. In ’n land in noordelike Afrika het die skrywer Elinor Burkett byvoorbeeld ’n jong vrou met die naam Fatma ontmoet wat daarin geslaag het om van haar wrede eienaar te ontsnap. Maar nadat Burkett met haar gesels het, het sy besef dat Fatma “in haar gedagtes altyd ’n slaaf sal wees”. Kan Fatma hoegenaamd van ’n beter toekoms droom? “Sy kan nie verder as môre dink nie”, sê Burkett. “Die toekoms is een van die talle abstrakte konsepte wat sy nie verstaan nie.”

Ja, op hierdie oomblik is miljoene van ons medemense slawe wat geen hoop het nie. Waarom en hoe word al hierdie mense slawe? In watter vorme van slawerny word hulle gedompel?

Handelaars in mense

Die toeristebrosjure wat in die Verenigde State versprei is, kon nie meer eksplisiet gewees het nie: “Sekstoere na Thailand. Baie meisies. Baie seks. Baie goedkoop. . . . Het jy geweet dat jy ’n jong maagd vir net $200 [R1 230] kan kry?” Wat die brosjure nie gesê het nie, is dat hierdie “maagde” waarskynlik ontvoer is of onder dwang aan bordele verkoop is, waar hulle elke dag gemiddeld 10 tot 20 klante het. As hulle nie seksuele dienste lewer nie, word hulle geslaan. Toe ’n brand in ’n bordeel op Phuket-eiland, ’n oord in suidelike Thailand, uitgebreek het, het vyf prostitute doodgebrand. Waarom? Omdat hulle eienaars hulle aan hulle beddens vasgeketting het om te keer dat hulle uit hulle slawerny probeer ontsnap.

Waar kom hierdie jong vroue vandaan? Na bewering word hierdie sektor van die seksbedryf gevul deur miljoene meisies en vroue van regoor die wêreld wat ontvoer, geforseer en as prostitute verkoop is. Die internasionale sekshandel floreer weens ’n kombinasie van armoede in ontwikkelende lande, welvaart in ryk lande en wette wat internasionale handel en kontrakslawerny moontlik maak.

Vroueorganisasies in Suidoos-Asië het bereken dat daar sedert die middel-1970’s tot die vroeë 1990’s wêreldwyd 30 miljoen vroue verkoop is. Handelaars soek by treinstasies, in arm dorpies en in die strate na jong meisies en vroue wat kwesbaar lyk. Gewoonlik is die slagoffers onopgevoed, wees, verwaarloos of sonder heenkome. Hulle ontvang valse beloftes van werk, word oor landsgrense vervoer en dan aan bordele verkoop.

Sedert die verbrokkeling van die Kommunistiese blok in 1991 is daar ’n hele nuwe geslag arm meisies en vroue. Deregulasie, privatisering en groter klasseongelykheid het tot meer misdaad, armoede en werkloosheid gelei. Baie Russiese en Oos-Europese vroue en meisies het nou ’n nuwe bron van inkomste vir internasionaal georganiseerde prostitusie geword. “Daar is minder risiko’s wanneer jy met mense handel dryf as wanneer jy met dwelms handel dryf”, het die voormalige Europese Kommissaris van Justisie, Anita Gradin, gesê.

Verlore kinderjare

In een klein matfabriek in Asië werk kinders wat net vyf jaar oud is sonder betaling van 4 uur in die oggend tot 11 uur in die nag. In baie gevalle word sulke kinderarbeiders aan groot gesondheidsgevare blootgestel: onveilige masjinerie, lang ure in ’n swak verligte en swak geventileerde omgewing, asook blootstelling aan gevaarlike chemikalieë wat tydens vervaardiging gebruik word. *

Waarom is daar so ’n groot vraag na kinderarbeid? Omdat kinderarbeid goedkoop is en omdat kinders van nature inskiklik is, maklik gedissiplineer kan word en te bang is om te kla. Gewetenlose werkgewers sien hulle klein liggaampies en behendige vingertjies as bates om sekere soorte werk te doen, soos matwewery. Dikwels kry sulke kinders werk, terwyl hulle ouers werkloos by die huis sit.

Wat hulle ellende erger maak, is dat kinders wat in mense se huise werk veral vir seksuele en fisiese mishandeling kwesbaar is. Baie kinders word ontvoer, in afgeleë kampe aangehou en snags vasgeketting om te keer dat hulle ontsnap. Gedurende die dag word hulle gebruik om paaie te bou en klippe uit te kap.

Nog ’n manier waarop kinderjare verlore gaan, is deur gedwonge huwelike. Antislawerny Internasionaal noem ’n tipiese geval: “Daar word vir ’n 12-jarige meisie gesê dat haar gesin gereël het dat sy met ’n 60-jarige man trou. Sy het kastig die reg om te weier, maar in die praktyk het sy geen geleentheid om daardie reg uit te oefen nie en is sy onbewus dat sy dit wel kan doen.”

Slawe van skuld

Honderdduisende arbeiders is slawe van hulle werkgewers en werksplek weens lenings wat hulle of hulle ouers ontvang het. Arbeiders wat werk om skuld af te betaal, word tradisioneel in landbougebiede gevind, waar hulle as algemene arbeiders of as plaasarbeiders werk. In party gevalle word skuld van een geslag na die volgende oorgedra, wat verseker dat lede van ’n familie permanent in slawerny bly. In ander gevalle verkoop werkgewers wat geld verskuldig is die skuld aan ’n nuwe werkgewer. In uiterste gevalle ontvang werkers wat hulle werkgewer geld skuld geen betaling vir al die werk wat hulle doen nie. Of hulle word gebind deur betreklike klein voorskotte op hulle lone, wat oor en oor herhaal word, sodat hulle uiteindelik slawe van hulle werkgewer word.

Rituele slawerny

Binti, van Wes-Afrika, is 12 jaar oud en is een van duisende meisies wat as trocosi dien, wat in Ewe “slavinne van die gode” beteken. Sy is gedwing om ’n lewe van slawerny en vrykoping te lei vir ’n misdaad wat sy nie gepleeg het nie—die verkragting wat tot haar geboorte gelei het! Haar verantwoordelikhede behels tans dat sy vir ’n plaaslike fetisjpriester huishoudelike takies verrig. Later sal Binti se pligte uitbrei sodat sy seksuele dienste sal voorsien aan die priester, wat haar eienaar is. Dan, wanneer Binti haar middeljare bereik, sal sy vervang word—die priester sal ander mooi meisies kry om hom as trocosi te bedien.

Soos Binti word duisende wat slagoffers van rituele slawerny is deur hulle gesinne aangebied om feitlik as slawe te werk in ’n poging om versoening te doen vir ’n daad wat as ’n sonde of as ’n oortreding van ’n heilige raadsbesluit beskou word. In verskeie dele van die wêreld word meisies of vroue gedwing om godsdienstige pligte te verrig en seksuele dienste aan priesters of ander te lewer—onder die voorwendsel dat hierdie vroue met ’n godheid getroud is. In baie gevalle verrig die vroue ander onbetaalde dienste. Hulle het nie die vryheid om hulle woonplek of werk te verander nie, en dikwels bly hulle baie jare lank in slawerny.

Tradisionele slawerny

Hoewel die meeste lande sê dat hulle slawerny wetlik afgeskaf het, is daar in onlangse tye ’n herlewing van tradisionele slawerny in party gebiede. Dit vind gewoonlik plaas in gebiede wat deur burgerlike onrus of gewapende konflik ontwrig word. “In die konflikgebiede is daar so te sê geen regsorde nie”, berig Antislawerny Internasionaal, “en soldate of gewapende burgermagte slaag daarin om mense te dwing om sonder betaling vir hulle te werk . . . sonder vrees vir vergelding; sulke gebruike is veral in gebiede aangemeld onder die beheer van gewapende groepe wat nie internasionale erkenning verkry het nie”. Maar volgens dieselfde organisasie “was daar ook onlangs berigte van regeringsoldate wat burgerlikes dwing om, sonder ’n wetlike grondslag, as slawe te werk. Soldate en burgermagte het na bewering ook slawehandel gedryf deur diegene wat hulle gevange geneem het te verkoop om vir ander te werk.”

Ongelukkig teister die vloek van slawerny die mensdom nog steeds op baie maniere en in baie vorme. Dink net weer vir ’n oomblik aan hoeveel mense betrokke is—die miljoene mense wat regoor die wêreld as slawe ly. Dink dan aan die een of twee hedendaagse slawe van wie jy hier gelees het—miskien Lin-Lin of Binti. Wil jy die einde sien van die misdaad van hedendaagse slawerny? Sal die afskaffing van slawerny ooit ’n werklikheid word? Drastiese veranderinge moet plaasvind voor dit kan gebeur. Lees asseblief hiervan in die volgende artikel.

[Voetnoot]

^ par. 11 Sien “Kinderarbeid—Die einde is in sig!” in die Ontwaak! van 22 Mei 1999.

[Venster/Prent op bladsy 6]

DIE SOEKE NA OPLOSSINGS

Verskeie amptelike instansies, soos die Verenigde Nasies-kinderfonds en die Internasionale Arbeidsorganisasie, is naarstiglik besig om strategieë saam te stel en te implementeer om ’n einde aan hedendaagse slawerny te maak. Daarbenewens het baie nie-regeringsorganisasies, soos Antislawerny Internasionaal en Human Rights Watch, pogings aangewend om die publiek meer bewus te maak van hedendaagse slawerny en om die slagoffers daarvan te bevry. Van hierdie organisasies beywer hulle vir die gebruik van spesiale etikette om aan te dui dat produkte nie deur slawe- of kinderarbeid vervaardig is nie. Ander agentskappe vra vir wetgewing in lande waar “sekstoere” bedryf word, sodat mense wat seks met kinders het, vervolg kan word wanneer hulle na hulle land terugkeer. Party menseregteaktiviste het selfs groot somme geld aan slawehandelaars en -eienaars betaal om soveel slawe moontlik vry te koop. Dit het ’n geskilpunt geword omdat sulke praktyke ’n winsgewende mark vir slawe kan skep en hulle prys kan verhoog.

[Prent op bladsy 7]

Talle jong meisies word gedwing om te trou

[Erkenning]

UNITED NATIONS/J.P. LAFFONT

[Prent op bladsy 8]

Kostou vir slawe wat werk om skuld af te betaal

[Erkenning]

Ricardo Funari

[Prent op bladsy 8]

Soms word jong kinders gedwing om militêre diens te doen

[Erkenning]

UNITED NATIONS/J.P. LAFFONT