’n Goed bewaarde geheim
’n Goed bewaarde geheim
“Niemand sal in slawerny of knegskap gehou word nie: alle vorme van slawerny en die slawehandel sal verbode wees.”—Die Universele Verklaring Van Menseregte.
WANNEER jy weer suiker in jou koffie gooi, kan jy gerus aan Prevot dink, ’n Haïtiaan wat ’n goeie werk in ’n ander Karibiese land belowe is. Hy het nooit die werk gekry nie, maar is vir R50 verkoop.
Soos duisende van sy landgenote wat as slawe verkoop is, word Prevot gedwing om ses of sewe maande lank suikerriet te sny teen min of geen betaling nie. Hierdie gevangenes word in oorvol, smerige toestande aangehou. Nadat hulle besittings van hulle afgeneem word, kry hulle kapmesse. As hulle kos wil hê, moet hulle werk. Hulle sal moontlik geslaan word as hulle probeer ontsnap.
Beskou die geval van Lin-Lin, ’n meisie van Suidoos-Asië. Sy was 13 toe haar ma dood is. ’n Werkverskaffingsagentskap het haar vir R2 940 by haar pa gekoop en het haar ’n goeie werk belowe. Die prys wat vir haar betaal is, is “’n voorskot op haar inkomste” genoem—’n besliste manier om haar vir goed van haar nuwe eienaars afhanklik te maak. Lin-Lin is nie ’n ordentlike werk gegee nie, maar sy is eerder na ’n bordeel geneem, waar klante die eienaar R25 per uur vir haar betaal. Lin-Lin is so te sê ’n gevangene, want sy kan nie weggaan voor haar skuld afbetaal is nie. Dit sluit in haar uitgawes by die bordeeleienaar, asook rente en ander uitgawes. As Lin-Lin weier om aan haar werkgewer se wense te voldoen, sal sy moontlik geslaan of gemartel word. Nog erger, as sy probeer ontsnap, kan sy doodgemaak word.
Vryheid vir almal?
Die meeste mense dink dat slawerny nie meer bestaan nie. Trouens, ná etlike konvensies, verklarings en wette is dit in die meeste lande amptelik afgeskaf. Oral spreek mense hulle sterk teen slawerny uit. Landswette verbied slawerny, en die afskaffing daarvan is vasgelê in internasionale dokumente—in die besonder Artikel 4 van die Universele Verklaring van Menseregte van 1948, wat hierbo aangehaal is.
Maar slawerny floreer steeds—selfs al is dit vir sommige ’n goed bewaarde geheim. Van Phnom Penh tot Parys, van Mumbaai tot Brasília word miljoene mense—mans, vroue en kinders—gedwing om onder ’n slawejuk of onder sulke toestande te lewe en te werk. Volgens Antislawerny Internasionaal in Londen, die wêreld se oudste organisasie wat gedwonge arbeid monitor, is daar honderdmiljoene mense wat in slawerny is. Trouens, daar is dalk vandag meer slawe in die wêreld as ooit tevore!
Die bekende gesig van boeie, swepe en veilings is wel nie kenmerkend van hedendaagse slawerny nie. Gedwonge arbeid, gedwonge huwelike, slawe wat werk om skuld af te betaal, kinderarbeid en dikwels prostitusie is net van die ooglopender hedendaagse vorme van slawerny. Slawe kan byvroue, kameeljokkies, suikerrietsnyers, matwewers of padbouers wees. Die meeste word weliswaar nie op openbare veilings verkoop nie, maar hulle is hoegenaamd nie beter daaraan toe as hulle voorgangers nie. In party gevalle is hulle lewe selfs tragieser.
Wie word slawe? Hoe word hulle slawe? Wat word gedoen om hulle te help? Is die algehele afskaffing van slawerny in sig?
[Venster/Prent op bladsy 4]
WAT IS HEDENDAAGSE SLAWERNY?
Dit is ’n vraag wat selfs die Verenigde Nasies ná jare van navorsing moeilik vind om te beantwoord. Een definisie van slawerny is deur die Slawernykonvensie van 1926 geformuleer, wat gesê het: “Slawerny is die status of toestand van iemand oor wie enige of al die magte uitgeoefen word wat aan die reg van eienaarskap geheg word.” Nogtans kan die term op baie maniere vertolk word. Volgens die joernalis Barbara Crossette “is slawerny ’n naam wat toegepas word op goedkoop arbeid in die klere- en sportdragnywerhede in die buiteland en fabrieke in Amerikaanse stede wat hongerlone betaal. Dit word gebruik om die seksbedryf en bandietarbeid te veroordeel.”
Mike Dottridge, die direkteur van Antislawerny Internasionaal, meen dat “die gevaar bestaan dat die betekenis daarvan afgewater sal word of selfs verlore sal gaan namate slawerny blykbaar nuwe vorme aanneem—of namate die woord op meer toestande toegepas word”. Hy voel dat “slawerny gekenmerk word deur ’n element van eienaarskap of beheer oor ’n ander se lewe”. Dit sluit dwang en beperking van beweging in—die feit dat “iemand nie vry is om weg te gaan, om van werkgewer te verander nie”.
A. M. Rosenthal het in The New York Times geskryf: “Die slawe lei ’n slawelewe—wrede werksomstandighede, verkragting, honger, marteling, algehele vernedering.” Hy het bygevoeg: “’n Slaaf kos vyftig dollar [R300], daarom maak dit werklik nie [vir die eienaars] saak hoe lank hulle bly lewe voordat hulle lyke in die een of ander rivier gegooi word nie.”
[Erkenning]
Ricardo Funari