Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe jy kan ophou

Hoe jy kan ophou

Hoe jy kan ophou

OM TABAK op te gee, is baie soos om te leer fietsry—’n mens kry dit selde die eerste keer reg. As jy vasbeslote is om op te hou, moet jy dus bereid wees om oor en oor te probeer totdat jy suksesvol is. Moet dit nie as ’n nederlaag beskou as jy terugval nie. Dink daaraan as ’n ondervinding waaruit jy iets kan leer, ’n klein terugslag in wat ’n suksesvolle program kan wees. Hier volg ’n paar wenke wat vir ander gewerk het. Dit sal heel moontlik ook vir jou werk.

Berei jou verstandelik daarop voor

■ Eerstens moet jy jouself oortuig dat dit die moeite werd is om op te hou. Skryf al die redes neer waarom jy wil ophou, asook al die voordele. Nadat jy opgehou het, sal ’n hersiening van hierdie lys jou versterk om by jou besluit te bly. ’n Begeerte om God te behaag, is die beste beweegrede om op te hou. Die Bybel sê dat ons God met ons hele verstand, hart, siel en krag moet liefhê. Dit is iets wat ons nie kan doen as ons aan tabak verslaaf is nie.—Markus 12:30.

■ Ontleed jou rookgewoontes om te bepaal wanneer en waarom jy rook. Jy sal dit dalk nuttig vind om op papier neer te skryf wanneer en waar jy gedurende ’n normale dag elke sigaret rook. Dit sal jou help om bedag te wees op situasies wat jou in die versoeking kan bring om te rook nadat jy opgehou het.

Besluit op ’n dag om op te hou

■ Kies ’n datum waarop jy gaan ophou, en merk dit op jou kalender. Dit is die beste om ’n dag te kies wanneer jy nie onder baie druk van buite sal wees nie. Wanneer daardie dag aanbreek, moet jy geheel en al ophou.

■ Nog voor dié dag aanbreek, moet jy van asbakkies, vuurhoutjies en sigaretaanstekers ontslae raak. Maak al jou klere skoon wat na tabakrook ruik.

■ Kry die hulp van kollegas, vriende en gesinslede om jou aan te moedig in jou pogings om op te hou. Moenie bang wees om ander te vra om nie in jou teenwoordigheid te rook nie.

■ Beplan bedrywighede vir hierdie dag. Miskien kan jy ’n plek besoek waar rook nie toegelaat word nie, soos ’n museum of ’n teater. Jy kan ook oefeninge doen—swem, fietsry of ver gaan stap.

Hoe om onttrekkingsimptome te verwerk

As jy ’n strawwe roker is, sal jy waarskynlik onttrekkingsimptome ondervind, wat begin binne ure nadat jy die laaste sigaret gerook het. Dit kan buierigheid, ongeduld, vyandigheid, angs, depressie, slapeloosheid, rusteloosheid, ’n verhoogde eetlus en ’n drang na sigarette insluit. Jou dokter kan moontlik geneesmiddels voorskryf wat hierdie simptome sal help verlig. Daarbenewens is daar dinge wat jy kan doen om jou die stryd te help wen.

■ Gedurende die eerste paar moeilike weke moet jy voedsel met ’n lae kilojoule-inhoud eet en baie water drink. Party het dit nuttig gevind om rou groente, soos wortels of seldery, te eet. As jy oefen, sal dit jou help om nie gewig aan te sit nie en jou senuwees kalmeer.

■ Vermy plekke en situasies wat jou in die versoeking sal bring om te rook.

■ Stry teen verkeerde redenasies wat jou in die versoeking kan bring om te rook. Gedurende die tyd wanneer ’n mens onttrekkingsimptome ervaar, kan van die volgende gedagtes by jou opkom: ‘Ek sal net vandag rook om my deur hierdie moeilike tyd te kry.’ ‘Rook is my enigste fout!’ ‘Tabak kan nie só sleg wees nie; party strawwe rokers word meer as 90 jaar oud.’ ‘Ek moet aan iets doodgaan.’ ‘Sonder tabak is die lewe nie pret nie.’

Wag eers as jy voel dat jy die handdoek wil ingooi. As jy net tien minute wag, sal die groot drang dalk verbygaan. Soms is die gedagte om nooit weer te rook nie oorweldigend. As jy so voel, kan jy jou daarop toelê om net vir vandag op te hou.

■ Bid vir hulp as jy God wil dien. Ons liefdevolle Skepper kan “hulp op die regte tyd” gee vir diegene wat daarna streef om hulle lewe in ooreenstemming met sy wil te bring (Hebreërs 4:16). Maar moenie ’n wonderwerk verwag nie. Jy moet in ooreenstemming met jou gebede optree.

Hou permanent op rook

■ Die eerste drie maande is die moeilikste, maar selfs daarna moet jy, wanneer dit moontlik is, rokers vermy sowel as situasies wat jou in die versoeking kan bring om te rook.

■ Moenie jouself flous en dink dat jy ’n geleentheidsroker kan wees nie, selfs al het jy ’n jaar terug of langer opgehou.

■ Weerstaan die versoeking om “net een sigaret” te rook. Net een kan maklik tot meer lei, en kort voor lank sal jy al jou harde werk ongedaan maak. Maar as jy wel ingee en ’n sigaret rook, is daar geen rede om nog een te rook nie. As jy terugval, hou weer op.

Miljoene rokers het dit reggekry om op te hou. Met vasbeslotenheid en volharding kan jy dit ook doen!