Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Lamu—’n Eiland waar die verlede voortleef

Lamu—’n Eiland waar die verlede voortleef

Lamu—’n Eiland waar die verlede voortleef

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KENIA

DIE seebries het die seil bol laat staan en die klein houtskip deur die water laat sny. Hoog bo die dek het ’n matroos aan die mas geklou terwyl hy die horison vir land bespied en sy oë op ’n skrefie trek om dit teen die blink weerkaatsing van die Indiese Oseaan te beskerm. Dit was die 15de eeu G.J., en hierdie seevaarders was op soek na die eiland Lamu.

Goud, ivoor, speserye en slawe—Afrika het dit alles voorsien. Geharde manne wat deur Afrika se skatte gelok is en deur verkenningsdrang aangedryf is, het van verafgeleë lande na die kus van Oos-Afrika geseil. Seevaarders het onstuimige seë en stormagtige winde getrotseer op soek na skatte. Hulle het aan boord beknopte houtseilbote gegaan en hulle lang reise onderneem.

Halfpad op teen die kus van Oos-Afrika het ’n klein groepie eilande, die Lamu-eilandgroep, hierdie seevarende reisigers en hulle klein skepe van ’n diep, veilige hawe voorsien wat deur koraalriwwe beskut is. Hier kon seevaarders die voorraad vars water en voedsel op hulle vaartuie aanvul.

Teen die 15de eeu was die eiland Lamu reeds ’n florerende handel- en voorraadsentrum. Portugese seevaarders wat Lamu in die 16de eeu besoek het, het ryk handelaars daar gevind wat sytulbande en lang kaftans gedra het. Hulle kon die geur van parfuum ruik wanneer vroue, met goue juweliersware om hulle arms en enkels, deur die nou straatjies geloop het. Al langs die dok het seilskepe met hulle opgerolde driehoekseile swaar in die water gelê, vol goedere gelaai wat na ver lande geneem sou word. Slawe wat aan mekaar vasgemaak en saamgebondel is, het gewag om soos skape op Arabiese seilskepe, wat ook daus genoem word, gejaag te word.

Die vroeë Europese verkenners was verbaas om ’n hoë standaard van sanitasie en boukundige ontwerp in Lamu te vind. Huise aan die waterkant is met koraalstene gebou wat met die hand uit plaaslike koraalgroewe gekap is, en swaar houtdeure, wat pragtig uitgekerf is, het die ingange bewaak. Huise is in ordelike rye gebou sodat koel seebriese deur die nou straatjies kon waai en verligting van die skroeiende hitte kon bied.

Die huise van die ryker bewoners was groot en ruim. Badkamers het vars lopende water gehad wat deur middel van eenvoudige pypstelsels daarheen gelei is. Rioolverwydering was net so indrukwekkend en was destyds meer gevorderd as dié in baie Europese lande. Groot kanale wat uit klip gekap is en na die see toe afgeloop het, het rioolwater na weekkuile afgevoer wat ver van varswaterbronne geleë was. In die kliptenks wat die huise van vars water voorsien het, was daar klein vissies wat die muskietlarwes gevreet het en sodoende die lastige insekte onder beheer gehou het.

Teen die 19de eeu het Lamu seevarende daus van ivoor, olie, sade, dierevelle, skilpaddoppe, seekoeitande en slawe in groot hoeveelhede voorsien. Maar mettertyd het Lamu se welvaart begin kwyn. Pessiektes, strooptogte deur vyandige stamme en beperkings op die slawehandel het Lamu se ekonomiese belangrikheid laat afneem.

’n Besoek aan die verlede

Wanneer ’n mens vandag in Lamu se hawe invaar, is dit soos om in die geskiedenis terug te gaan. Die wind waai voortdurend van die groot blou uitgestrektheid van die Indiese Oseaan af. Klein blougroen golfies breek op die wit sanderige strande. Houtdaus wat volgens ’n baie ou ontwerp gemaak is, vaar langs die kus, en hulle driehoekige wit seile lyk soos vlieënde skoenlappers. Hulle is op pad na Lamu se hawe, gelaai met vis, vrugte, kokosneute, koeie, hoenders en passasiers.

By die dok bied palmbome wat in die warm bries ritsel maar min skaduwee vir die mans wat die goedere van die houtvaartuie aflaai. Die mark gons van die mense wat oor pryse van koopware knibbel. Hierdie handelaars soek nie goud, ivoor of slawe nie, maar piesangs, kokosneute, vis en mandjies.

In die skaduwee van groot mangobome vleg mans lang toue van sisalvesels en lap hulle die seile wat hulle houtdaus aandryf. Die strate is smal en krioel van mense wat in alle rigtings loop. Winkeliers wat in lang, wit gewade geklee is, roep klante na hulle winkels wat propvol goedere is en beduie dat hulle moet inkom en na hulle ware moet kom kyk. ’n Donkie, wat sukkel om ’n houtwa te trek wat met swaar sakke graan gelaai is, vleg ’n pad deur die stroom mense. Lamu se bewoners gaan te voet van die een deel van die eiland na die ander, want daar is geen motors op die eiland om hulle te vervoer nie. Die eiland kan slegs per boot bereik word.

Wanneer die son sy hoogste punt om twaalfuur bereik, voel dit of die tyd gaan stilstaan. In die drukkende hitte beweeg min mense rond, en selfs die donkies staan doodstil met hulle oë styf toe terwyl hulle wag vir verligting van die hitte.

Wanneer die son begin sak en dit koeler word, kry die slaperige eiland weer lewe. Winkeliers swaai hulle swaar uitgekerfde deure oop om weer sake te doen, en hulle sal hulle lampe tot laat in die nag brand. Vrouens bad hulle kindertjies en smeer hulle met kokosolie totdat hulle vel blink. Terwyl hulle op matte sit wat van kokosblare geweef is, begin vroue ook hulle kos voorberei. Hier kook hulle nog oor oop vure en maak hulle heerlike maaltye met vis wat met geurige speserye gegeur is en rys wat in kokosmelk gekook is. Die mense is vriendelik, gasvry en rustig.

Al het Lamu sy voormalige prag verloor, floreer die tradisionele Afrikakultuur wat uit die tyd voor die 20ste eeu kom nog hier. Onder die warm tropiese son gaan die lewe voort net soos dit al baie eeue lank voortgaan. Hier kan ’n mens die verlede en die hede saam besoek. Lamu is ongetwyfeld ’n unieke oorblyfsel van ’n vergange tyd, ’n eiland waar die verlede voortleef.

[Venster/Prent op bladsy 16, 17]

Ons besoek aan Lamu

Nie te lank gelede nie was ek deel van ’n groep wat Lamu besoek het, maar dit was nie om goedere te koop of te verkoop nie. Ons het gegaan om ons Christenbroers en -susters, mede-Getuies van Jehovah, te besoek. Ons ligte vliegtuig het noordwaarts oor die ongelyke kuslyn van Kenia gevlieg. Ver onder ons het sagte golwe op ’n wit strand uitgespoel wat begrens is deur ryk, groen tropiese woude. En toe, amper asof uit die niet, het ons die eilande van die Lamu-eilandgroep gesien wat soos juwele in die blougroen see glinster. Ons het soos ’n groot Afrika-arend om die eilande gevlieg en toe op ’n klein landingstrook op die vasteland neergestryk. Ons het van die vliegtuig afgeklim, na die waterkant geloop en aan boord ’n houtdau gegaan vir die reis na Lamu.

Dit was ’n pragtige sonnige dag, en die seebries was vars en aangenaam. Toe ons die eiland nader, het ons gesien dat die kaai van die mense wemel. Sterk mans het swaar vragte van die bote afgelig, en vroue het hulle goedere versigtig op hulle kop gedra. Met ons bagasie in die hand het ons deur die skare gebeur en in die skaduwee van ’n palmboom gaan staan. Binne minute het ons Christenbroers ons raakgesien en ons hartlik op hulle eilandtuiste verwelkom.

In die oggend het ons lank voor sonsopkoms opgestaan om ons broers en susters by die see te ontmoet. Die reis om die gemeentelike vergaderinge by te woon, was lank en sou etlike ure neem. Ons het ons voorberei deur drinkwater, breërandhoede en goeie stapskoene saam te neem. Met die môrelig agter ons het ons uitgevaar na die vasteland, waar die vergaderinge gehou is.

Die broers het van die geleentheid gebruik gemaak om vir die mense op die boot te getuig, en teen die tyd dat ons vasgemeer het, het ons ’n paar Bybelbesprekings gehad en ’n hele paar tydskrifte by mense gelaat. Die verlate pad waarop ons was, was warm en stowwerig. Omdat ons deur onbewoonde boswêreld geloop het, is daar vir ons gesê om ons oë oop te hou vir wilde diere, onder andere olifante wat soms oor die pad loop. Die broers was opgeruimd en gelukkig terwyl ons stadig na ons bestemming geloop het.

Kort voor lank het ons in ’n klein dorpie aangekom waar ons ander in die gemeente ontmoet het wat van verafgeleë gebiede geloop het. Weens die lang afstande wat die broers moet aflê, is vier gemeentelike vergaderinge op daardie een dag gehou.

Vergaderinge is in ’n klein skooltjie gehou wat met rowwe stene gebou is en geen afgewerkte vensters of deure het nie. In ’n klaskamer het 15 van ons op smal houtbankies gesit en ’n uitstekende Bybelprogram geniet, wat bemoedigend en leersaam was. Dit het nie gelyk asof die drukkende hitte onder die sinkdak enigiemand gepla het nie. Almal was net bly om saam te wees. Nadat ons vier uur lank vergadering gehou het, het ons tot siens gesê en het almal hulle verskillende rigtings ingeslaan. Teen die tyd dat ons na Lamu teruggekeer het, het die goue son al laag bo die horison gesit.

Daardie aand het ons, in die koelte van die nag, ’n eenvoudige maaltyd saam met die Getuiegesinne geniet wat op Lamu woon. Gedurende die daaropvolgende dae het ons saam met hulle deur die nou kronkelende straatjies geloop terwyl ons aan die predikingswerk deelgeneem het, op soek na mense wat na Bybelwaarheid honger. Die ywer en moed van hierdie paar broers en susters het ons bemoedig.

Toe het die dag aangebreek waarop ons moes vertrek. Die broers het ons na die hawe geneem waar ons met swaar harte tot siens gesê het. Hulle het vir ons gesê dat ons besoek hulle bemoedig het. Ons het gewonder of hulle besef het hoe hulle ons bemoedig het! Nadat ons na die vasteland teruggekeer het, was ons gou weer in ons klein vliegtuig. Terwyl ons al hoe hoër in die lug geklim het, het ons afgekyk na die pragtige eiland Lamu. Ons het gedink aan die sterk geloof van die broers wat daar woon, die lang afstande wat hulle aflê om by hulle vergaderinge te kom en die ywer en liefde wat hulle vir die waarheid het. Lank gelede is die profesie in Psalm 97:1 opgeteken: “Die HERE is Koning; laat die aarde juig; laat baie eilande bly wees!” Ja, selfs op die afgeleë eiland Lamu word mense die geleentheid gebied om hulle in die wonderlike hoop van ’n toekomstige paradys onder God se Koninkryk te verheug.—Bygedra.

[Kaarte/Prent op bladsy 15]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

AFRIKA

KENIA

LAMU

[Foto-erkenning op bladsy 15]

© Alice Garrard

[Foto-erkenning op bladsy 16]

© Alice Garrard