Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Sterf Europese bruinbere uit?

Bruinbere in Wes-Europa is besig om uit te sterf, aldus die Wêreld-natuurfonds (WWF). Hulle getalle het afgeneem tot net ses klein bevolkings. “Die bruinbeerbevolkings wat in die grootste gevaar verkeer, is dié in Frankryk, Spanje en Italië, waar bewaringsgesindes waarsku dat hulle waarskynlik sal uitsterf as hulle getalle nie aangevul word met bere van ander plekke nie”, sê The Daily Telegraph van Londen. “In Italië is daar net vier bere in die suidelike Alpe”, voeg die koerant by. ’n Ernstige probleem in Griekeland is bees- en byeboere wat bere doodmaak, omdat hulle kwaad is oor die verwoesting wat bere onder vee of byekorwe saai. Daarteenoor word verslae van florerende beerbevolkings uit Oos-Europa ontvang. Roemenië se streng bewaringsmaatreëls en aanvullingsprogramme het gehelp dat beerbevolkings opgebou is en gegroei het. En in Rusland, waar die beer beskerm word, is daar ongeveer 36 000 bere. “Vinnige optrede is noodsaaklik om Wes-Europa se laaste bere te red”, sê Callum Rankine, van die WWF se Veldtog vir Europa se Karnivore. “Sonder onmiddellike ingryping sal hierdie bere uitsterf.”

Duur liefdadigheid

Miljoene mense het al gedurende ’n krisis by geskenkte medisyne baat gevind. Maar ’n onlangse opname deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) toon dat geskenkte medisyne dikwels nie behoorlik geïdentifiseer is nie of ’n beperkte raklewe het. Hoewel dit met die beste bedoelings gestuur word, “voldoen [baie medisyne] nie aan die dringendste en werklike gesondheidsbehoeftes nie, en sodra dit in die land is, oorlaai dit verspreidingstelsels wat reeds oorvol is en word dit moeilik om daarvan ontslae te raak”, sê dr. Jonathan Quick, ’n amptenaar van die WGO. Meer as die helfte van die medisyne wat aan Bosnië geskenk is, kon nie gebruik word nie. Spesiale verbrandingsoonde moes na Armenië en na Mostar, Bosnië en Herzegowina gestuur word om ongeskikte medisyne te vernietig. Die versendingskoste van 1 000 ton ongeskikte medisyne vanaf Kroasië vir behoorlike vernietiging elders word op tussen 12 en 24 miljoen rand gestel.

Klank as lokaas

Terwyl die meeste plante bestuiwers deur middel van kleure of reuke lok, doen die tropiese Mucuna holtoni dieselfde met behulp van klankweerkaatsing, berig die Duitse tydskrif Das Tier. Hierdie rankplant word deur vlermuise besoek, wat ’n beeld van hulle omgewing vorm deur ultraklankseine uit te stuur. Wetenskaplikes aan die Erlangen-universiteit het ontdek dat die plant se nektar as ’n “akoestiese katoog” funksioneer, deur die ultraklankseine reguit terug na die vlermuise te weerkaats. “So maak die plant dit vir die vlermuise makliker om die blomme te vind”, sê die tydskrif.

Fungusgevaar

“In Oos-Europa en noordelike Italië, waar sampioenplukkery ’n tradisie is, is daar elke jaar heelwat sterftes en gevalle van vergiftiging”, berig The Times van Londen. Omdat dit gewild geword het om wilde swamme in kos te gebruik, waarsku kenners teen die gevare daarvan om enige van die sowat 250 giftige soorte te eet wat in Brittanje se platteland groei. Duiwelsbrood en die verwoestingsengel kan albei tot die dood lei as dit geëet word. Om hulleself te beskerm, word sampioenplukkers aangemoedig om by groepe aan te sluit wat gelei word deur ’n kenner wat sampioene kan identifiseer. “Daar is geen maklike reël waarvolgens ’n mens kan bepaal of ’n [swam] skadelik of onskadelik is nie, en daarom is dit dwaas om alleen sonder ’n kenner te gaan pluk”, waarsku ’n senior lid van die Britse Mikologiese Genootskap.

Die ekonomiese uitwerking van vigs

Vigs is nie net ’n openbare gesondheidstragedie nie, maar dit is vinnig besig om ’n ekonomiese ramp in Afrika te word, berig Le Monde. Met sowat 23 miljoen mense wat HIV-positief is en 2 miljoen wat elke jaar weens die virus sterf, “sal die vigsepidemie binnekort die voordele van ontwikkeling in Afrika uitwis”. Maatskappye in Afrika sukkel met al hoe meer werkers wat afwesig is of aan die siekte sterf. Een nasionale spoorwegmaatskappy het meer as 10 persent van sy personeel verloor. In ’n ander groot firma is 3 400 van die 11 500 werkers HIV-positief. Landboubedrywighede verminder namate boere aan vigs sterf. Daarbenewens gaan opvoeding agteruit en neem ongeletterdheid toe, aangesien gesinne nie die geld of die tyd het om hulle kinders skool toe te stuur nie, en honderde onderwysers het al aan vigs gesterf.

Sterrekundiges vra stilte

Radiosterrekundiges, wat luister vir seine wat inligting bevat oor die geboorte van die eerste sterrestelsels en sterre, voel al hoe meer gefrustreerd weens “al die toestelle van die moderne samelewing”, berig die International Herald Tribune. Televisiestasies, radiosenders, kommunikasiesatelliete en sellulêre telefone verdoof die agtergrondgeraas vanuit die ruimte wat hierdie wetenskaplikes probeer hoor. Ten einde hulle navorsing voort te sit, is sterrekundiges op soek na ’n stil plek “waar alle vorme van radio-uitsending verbied sal word”. Daar is hulle van plan om oor ’n afstand van honderde kilometers ’n reeks radioskottels op te rig wat “100 keer kragtiger sal wees as enige instrumente wat vandag gebruik word”. Wetenskaplikes hoop dat die inligting wat hulle sal inwin hulle sal help om vrae te beantwoord in verband met die oorsprong van tyd, ruimte en materie.

Voëlbevolking neem skerp toe in Mexikostad

Die voëlbevolking in Mexikostad is besig om buite beheer te raak. Soos in die koerant Reforma berig is, is daar nou ongeveer 1 335 000 duiwe in die stadsgebied. Monumente en standbeelde is die gunstelingrusplekke van die voëls. Volgens kenners op die gebied van voëlbeheer “verdeel die voëls wat hulle by die hoofstad aangepas het hulle daaglikse vliegroetine in drie fases”, sê die koerant. “Hulle kies een plek om die nag deur te bring, ’n ander plek om kos te soek en ’n ander om te rus, maar by [elke plek] laat hulle met hulle mis tekens van hulle teenwoordigheid agter.” Hulle veroorsaak ook ’n verskeidenheid siektes wat wissel van allergieë tot bakterie-, fungus- en virusinfeksies. Die Internasionale Vereniging vir die Ekologiese Beskerming en Vreedsame Hervestiging van Stadsduiwe “het voorgestel dat ’n wet uitgevaardig word wat mense verbied om voëls in openbare plekke te voer”. Maar dit stel ook voor “dat enigiemand wat voëls as ’n beheermaatreël doodmaak, gestraf moet word”.

“Doodgedruk”

“Een van die wêreld se oudste en grootste bome word doodgedruk”, berig The Australian. Die kauri-boom, wat noord van Auckland, Nieu-Seeland, staan, word elke jaar deur duisende toeriste besoek wat die gebruik het om reg rondom sy enorme stam te staan terwyl hulle hande vashou, en gevolglik sy wortels vertrap. “Die boom is meer as 50 meter hoog, maar is nie een van die wêreld se hoogste bome nie”, sê die koerant. “Wat die volume hout betref, is hy egter een van die grootstes.” Die boom, wat as “die ou man van die woud” bekend staan, is amptelik 2 000 jaar oud, maar party meen dat hy dubbel so oud is. Nadat hy al daardie jare se natuurrampe, plae en dreigemente om hom af te kap, oorleef het, word hy nou dalk doodgedruk. ’n Bewaringsbeampte sê: “Dit lyk of hy besig is om dood te gaan, maar of dit omkeerbaar is, weet ons nie.”

Borsvoeding beheer gewig?

Navorsers sê dat hulle nog ’n voordeel van borsvoeding ontdek het: Dit kan voorkom dat die baba later in sy lewe oorgewig word. Die Duitse nuustydskrif Focus het berig dat ’n navorsingspan van die München-universiteit 9 357 vyf- tot sesjarige kinders geweeg en elkeen se dieet as baba ondersoek het. Die resultate het getoon dat die kinders wat drie tot vyf maande lank geborsvoed is se kanse om oorgewig te wees wanneer hulle begin skoolgaan 35 persent minder is as dié wat nooit gesoog is nie. Trouens, hoe langer ’n baba geborsvoed is, hoe minder waarskynlik is dit dat hy oorgewig sal wees. Een navorser skryf dié voordeel toe aan die bestanddele van moedersmelk, wat die metabolisme aanhelp.

Hoeveel water het kinders nodig?

Kinders tussen een- en vierjarige ouderdom neem dikwels te min vloeistowwe in. Dit was die bevinding van ’n studie deur die Navorsingsinstituut vir Kindervoeding, in Dortmund, Duitsland, wat in die verbruikerstydskrif Test verskyn het. Een- tot vierjarige kinders is veral onderhewig aan ontwatering en moet elke dag amper ’n liter vloeistof drink, en dit sluit nie in wat hulle saam met hulle etes kry nie. Kinders drink gemiddeld ’n derde minder as dit—en dit is nie altyd hulle keuse nie. Die navorsers het gevind dat in 1 uit 5 gevalle ’n kind se versoek vir iets om te drink deur die ouer geweier is. Wat is die beste vir die kind om te drink? Waar dit veilig is, is gewone water ideaal, sê Test.