Petra—’n Stad uit rots gekap
Petra—’n Stad uit rots gekap
BAIE stede van die antieke wêreld het belangrike riviere gehad wat deur hulle gevloei het, waarvan die oorvloed water hulle gevoed en beskerm het. Maar daar was een stad aan die noordwestelike grens van die Arabiese Woestyn wat bekendheid verwerf het vanweë die gebrek aan water. Die stad se naam was Petra.
In die woestynlande wat aan die Middellandse See grens, het karavaanroetes verafgeleë stede met mekaar verbind, amper soos ons moderne hoofweë vastelande deurkruis. Maar net soos motors vulstasies nodig het, het kamele—ondanks hulle welbekende uithouvermoë—rusplekke nodig vir water. Tweeduisend jaar gelede was Petra een van die bekendste plekke in die Midde-Ooste om water te kry.
Petra was by die kruising van twee belangrike handelsroetes geleë. Een het die Rooi See met Damaskus verbind, en die ander een het die Persiese Golf met Gasa, aan die Middellandse See, verbind. Karavane van die Golf, met hulle kosbare vragte speserye, moes die gevare van die Arabiese Woestyn weke lank trotseer voor hulle uiteindelik die koel, nou poort—die Siq—bereik het wat die welkome ingang na Petra was. Petra het kos en huisvesting en veral koel, verkwikkende water beteken.
Die inwoners van Petra het natuurlik nie hierdie geriewe gratis voorsien nie. Die Romeinse geskiedskrywer Plinius
skryf dat geskenke aan die wagte, poortwagters, die priesters en die koning se knegte gegee moes word—afgesien van die betaling vir voer en huisvesting. Maar die buitensporige pryse wat speserye en parfuum in die welvarende stede van Europa kon behaal, het gesorg dat die karavane bly kom het en dat die geldkoffers van Petra vol geword het.Besparing van water en bemeestering van klip
Net ongeveer 150 millimeter reën val elke jaar in Petra, en daar is feitlik geen strome nie. Hoe het die mense van Petra die kosbare water gekry om in die stad se behoefte te voorsien? Hulle het kanale, opvangdamme en waterbakke uit soliede rots gekap. Mettertyd is feitlik elke druppel reën wat om Petra geval het, opgevang en opgegaar. Hulle meesterlike benutting van water het die mense van Petra in staat gestel om gewasse te verbou, kamele te teel en ’n handelsentrum te bou waarvan die handelaars ryk geword het van die wierook en mirre wat deur hulle hande gegaan het. Selfs vandag nog word water met ’n kronkelende klipkanaal al langs die Siq gelei.
Die inwoners van Petra het nie net geweet hoe om met water te werk nie, maar was ook meesters op die gebied van klipwerk. Selfs die naam Petra, wat “Rotsmassa” beteken, laat ’n mens aan klip dink. En Petra was inderdaad ’n stad van klip—heeltemal anders as enige ander stad in die Romeinse wêreld. Die Nabateërs, die stad se bouers, het met geduld hulle huise, grafte en tempels uit soliede rots gekap. Die rooi sandsteenberge waarin Petra lê, was baie geskik hiervoor, en teen die eerste eeu G.J. het ’n indrukwekkende stad in die middel van die woestyn verrys.
Van handel tot toerisme
Twee millenniums gelede het handel Petra welvarend gemaak. Maar toe die Romeine seeweë na die Ooste gevind het, het die speseryhandel oor land tot niet gegaan en is Petra gaandeweg aan die woestyn oorgegee. Maar die werk van die klipwerkers van die woestyn het nie verdwyn nie. Vandag besoek ongeveer ’n halfmiljoen toeriste elke jaar Jordanië om die roosrooi stad Petra te besoek, waarvan die geboue steeds van ’n glorieryke verlede getuig.
Nadat die besoeker deur die koel kilometer lange Siq geloop het, vertoon ’n draai in die poort se kranse skielik die Skatkamer, ’n indrukwekkende struktuur waarvan die voorkant uit ’n massiewe krans gekap is. Min mense sal die eerste keer vergeet wat hulle dit gesien het, een van die bes bewaarde geboue van die eerste eeu. Die gebou is vernoem na die reuseklipkruik bo-op die gebou, waarin goud en edelstene vermoedelik bewaar is.
Waar die poort wyer word, gaan die toeris ’n ontsaglike natuurlike amfiteater binne met sandsteenkranse wat vol grotte is. Maar dit is die grafte wat sy aandag trek—grafte wat uit die krans gekap is en so hoog is dat dit die besoekers verdwerg wat dit waag om die donkerte binne te gaan. ’n Suilegang en teater getuig van die Romeine se teenwoordigheid in die stad tydens die eerste en tweede eeu.
Hedendaagse Bedoeïene, afstammelinge van die Nabateërs, bied die minder energieke toeriste kameelritte aan, verkoop aandenkings of gee hulle troppe bokke water by die fonteine van Petra, wat die dors van mens en dier les. Die ou geplaveide hoofweë van Petra word steeds net deur kamele, perde en donkies gebruik. Die stad weerklink dus vandag van dieselfde geluide wat in vervloë dae gehoor is, toe die kameel koning was en Petra oor die woestyn geheers het.
Terwyl die son oor die stad sak en die kranse selfs rooier kleur, besin die nadenkende besoeker moontlik oor die lesse wat Petra ons leer. Die stad getuig ongetwyfeld van die mens se vindingrykheid om beperkte hulpbronne te bewaar, selfs in so ’n onherbergsame omgewing. Maar dit dien ook as ’n treffende herinnering dat materiële rykdom al te gou ‘na die hemel toe kan vlieg’.—Spreuke 23:4, 5.
[Foto-erkenning op bladsy 18]
Inlas: Garo Nalbandian