Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Voormalige misdadiger Ek moet skryf om te sê hoeveel ek die ondervinding van Enrique Torres jr. met die titel “Van ’n brullende leeu tot ’n sagmoedige lammetjie” (8 Augustus 1999) geniet het. Dit het die liefde en barmhartigheid van ons God, Jehovah, beklemtoon, asook sy geduld met ons. Dit het ook getoon dat ons as ouers nooit moet opgee met ons kinders nie, al dwaal hulle ook hoe ver van God se standaarde af.

J. F., Engeland

Ek is as ’n Christen grootgemaak, maar weens slegte omgang het ek by dwelms en geweld betrokke geraak. Toe ek 18 was, is ek tot 25 jaar tronkstraf gevonnis. Hoewel ek in die Christengemeente herstel is, voel ek dikwels onwaardig. Maar nadat ek hierdie artikel gelees het, het ek besef dat Jehovah nie ver is van diegene wat hom soek nie. Ofskoon ek nog in die tronk is, het hierdie ondervinding my aangemoedig om standvastig te bly.

R. B., Verenigde State

Kolibries Die artikel “Die voëltjie wat blomme kus” (8 Augustus 1999) was uitstekend. Ek het al vantevore kolibries gesien, maar ek het nie geweet dat hulle so klein kan wees nie. Deur woorde en prente het julle my belangstelling in hierdie fassinerende voëltjies gewek.

R. H., Duitsland

Die inligting en pragtige prente het my beïndruk. In die somer sien ek dikwels kolibries in my tuin. Ek geniet dit regtig om hierdie ongelooflike voëltjies dop te hou. Ek hoef hulle baie keer net te sien om opgebeur te voel.

C.S.S., Brasilië

Lere Dankie vir die artikel “Lere—Pas jy hierdie veiligheidsmaatreëls toe?” (8 Augustus 1999). Ek het onlangs van ’n leer afgeval en moes gevolglik ’n knie-operasie ondergaan. Ek waardeer die tien wenke wat julle gegee het en sal dit onthou wanneer ek weer ’n leer gebruik.

D. N., Mexiko

Ruimtestasie Ek is 16 jaar oud, en ruimteverkenning het my nog altyd gefassineer. Ek wil dus my dankbaarheid uitspreek vir die artikel “Die internasionale ruimtestasie—’n laboratorium in ’n wentelbaan” (22 Augustus 1999). Sulke artikels beteken vir my baie!

K. E., Verenigde State

Julle verheerlik hierdie ruimtestasie sonder om een woord van veroordeling uit te spreek. God het dit nie genoem as deel van sy plan vir die mens nie. En dit is ’n skande om te sien hoeveel geld aan een lansering bestee word terwyl miljoene mense honger ly. Julle doen God oneer aan wanneer julle sulke dinge verheerlik.

P.N.M., Engeland

Die Bybel sê dat ‘die aarde aan die mensekinders gegee is’ (Psalm 115:16). Maar daar is geen skriftuurlike grond om te sê dat dit verkeerd van die mens is om in die ruimte belang te stel nie. Trouens, die Bybel moedig mense van geloof aan om die hemele te betrag as ’n manier om God se wysheid en skeppingskrag te bewonder (Psalm 8:4, 5; 19:2). Dit was in elk geval nie ons bedoeling om die voorgenome ruimtestasie te verheerlik nie; ons het bloot vertel van die planne om dit te bou. Ons sal nog moet sien of die ruimtestasie navorsing oplewer wat die groot koste daaraan verbonde, regverdig.—RED.

Getrou gedurende vervolging Ek het pas die artikel “Ek het God gedien ten spyte van doodsgevaar” (22 Augustus 1999) gelees. Weens die broers in Angola se volharding oor ’n tydperk van meer as 17 jaar, is ’n land wat voorheen geestelik onvrugbaar gelyk het nou met ’n groot oes geseën!

R. J., Japan