Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom moet ek ophou rook?

Waarom moet ek ophou rook?

Waarom moet ek ophou rook?

ROOK is nie vir diegene wat ’n lang en gelukkige lewe wil hê nie. Die moontlikheid dat iemand wat al lank rook weens tabakverwante oorsake sal sterf, is 1 uit 2. Die direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het gesê: “’n Sigaret is . . . ’n produk wat baie slim ontwerp is om net die regte hoeveelheid nikotien af te gee om die gebruiker lewenslank verslaaf te hou voordat dit hom doodmaak.”

Een rede om op te hou rook, is dus dat dit ’n mens se gesondheid en lewe in gevaar stel. Rook is al met meer as 25 lewensgevaarlike siektes verbind. Dit is byvoorbeeld ’n vername bydraende faktor by hartaanvalle, beroertes, chroniese brongitis, emfiseem en verskeie kankers, in die besonder longkanker.

’n Mens kan natuurlik jare lank rook voor jy een van hierdie siektes kry. Intussen word jy nie aantrekliker vir ander mense as jy rook nie. Advertensies beeld rokers as aantreklike en gesonde mense uit. Die werklikheid is anders. Rook laat ’n mens se asem sleg ruik en vlek jou tande en vingers ’n geelbruin kleur. By mans dra dit tot impotensie by. Dit veroorsaak ’n rokershoesie en kortasemigheid. Die moontlikheid is ook groter dat rokers op ’n vroeë ouderdom plooie in hulle gesig en ander velprobleme sal hê.

Hoe rook ander raak

Die Bybel sê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Matteus 22:39). Liefde vir jou naaste—wat veral jou gesin beteken—is ’n kragtige rede om op te hou rook.

Rook benadeel ander. Tot onlangs kon ’n roker sy sigaret omtrent oral aansteek en geen beswaar verwag nie. Maar gesindhede verander omdat meer mense verstaan hoe gevaarlik dit is om die rook van ander se sigarette in te asem. ’n Nieroker wat met ’n roker getroud is, loop byvoorbeeld ’n 30 persent groter risiko om longkanker te kry as iemand wat met ’n nieroker getroud is. Die moontlikheid dat kinders wat by rokende ouers woon in die eerste twee jaar van hulle lewe longontsteking of brongitis sal kry, is ook groter as by kinders wat in huise woon waar niemand rook nie.

Swanger vroue wat rook, stel hulle ongebore babas in gevaar. Die nikotien, koolstofmonoksied en ander gevaarlike chemiese stowwe in sigaretrook gaan die moeder se bloedstroom binne en beweeg direk na die kind in die baarmoeder. Dit verhoog die moontlikheid van ’n miskraam, doodgeboorte en sterfte by pasgebore babas. Daarbenewens is die risiko van die sindroom van skielike sterfte by suigelinge drie keer hoër vir babas wie se moeders gedurende swangerskap gerook het.

Dit is duur

Nog ’n rede om op te hou rook, is dat dit duur is. ’n Studie deur die Wêreldbank het geskat dat die koste van gesondheidsorg wat ’n direkte gevolg van rook is elke jaar ongeveer R1,2 biljoen beloop. Hierdie syfer weerspieël natuurlik glad nie die koste in terme van die pyn en lyding van diegene wat siektes opgedoen het wat deur tabak veroorsaak is nie.

Dit is maklik om die direkte koste van sigarette vir die individuele roker uit te werk. As jy rook, vermenigvuldig die bedrag wat jy in een dag aan sigarette uitgee met 365. Dit sal vir jou wys hoeveel geld jy in ’n jaar daaraan bestee. Vermenigvuldig daardie syfer met tien en jy sal sien hoeveel sigarette jou gaan kos as jy nog tien jaar rook. Die antwoord sal jou moontlik verbaas. Dink net wat jy andersins met soveel geld kan doen.

Is ’n ander opsie dalk veiliger?

Die tabakbedryf adverteer sigarette met ’n lae teer- en nikotieninhoud—ligte sigarette—as ’n manier om die gesondheidsrisiko’s van rook te verminder. Maar diegene wat oorslaan na sigarette met ’n lae teer- en nikotieninhoud het dieselfde hoeveelheid nikotien nodig as tevore. Gevolglik vergoed rokers wat oorskakel gewoonlik daarvoor deur meer sigarette te rook, dieper en meer dikwels aan hulle sigarette te trek of meer van elke sigaret te rook. Selfs vir diegene wat nie op hierdie maniere probeer vergoed vir die oorskakeling nie, is die gesondheidsvoordele min in vergelyking met die voordele daarvan om heeltemal op te hou.

Wat van pype en sigare? Hoewel die tabakbedryf pype en sigare al lank as statussimbole bevorder, is die rook wat dit afgee net so dodelik soos dié van sigarette. Selfs as rokers nie sigaar- of pyprook inasem nie, loop hulle ’n groter risiko om lip-, mond- of tongkanker te kry.

Is rooklose tabak veilig? Daar is twee vorme: snuif en pruimtabak. Snuif is fyngemaalde tabak, en dit word gewoonlik in blikkies of sakkies verkoop. Gebruikers sit dit gewoonlik binne die onderlip of wang. Pruimtabak word in lang stringe verkoop, gewoonlik in ’n sakkie. Dit word gekou en nie gesuig nie. Snuif en pruimtabak veroorsaak albei ’n slegte asem, gevlekte tande, mond- en keelkanker, verslawing aan nikotien, wit seertjies in die mond wat tot kanker kan lei, tandvleis wat van die tande wegtrek en beenverlies om die tande. Om tabak te suig of te kou, is inderdaad nie ’n verstandige alternatief vir rook nie.

Die voordele daarvan om op te hou

Gestel jy rook al baie lank. Wat sal gebeur as jy ophou? Binne 20 minute ná jou laaste sigaret sal jou bloeddruk na die normale vlak daal. Ná ’n week sal jou liggaam nikotienvry wees. Ná ’n maand sal jy minder hoes, jou sinusse sal minder verstop wees en jy sal nie meer so moeg en kortasem wees nie. Ná vyf jaar sal die risiko dat jy aan longkanker sal sterf met 50 persent afgeneem het. Ná 15 jaar sal die risiko dat jy koronêre hartsiekte sal kry, afneem tot dié van iemand wat nog nooit gerook het nie.

Jou kos sal beter smaak. Jou asem, liggaam en klere sal beter ruik. Jy sal nie meer die moeite of die uitgawe hê om tabak te koop nie. Jy sal voel dat jy iets bereik het. As jy kinders het, sal jou voorbeeld die moontlikheid verminder dat hulle rokers sal wees. Jy sal waarskynlik langer lewe. Daarbenewens sal jy in ooreenstemming met God se wil optree, want die Bybel sê: “Laat ons ons van elke verontreiniging van die vlees . . . reinig” (2 Korintiërs 7:1). Moenie voel dat dit te laat vir jou is om op te hou nie; hoe gouer jy ophou, hoe beter.

Waarom dit so moeilik is om op te hou

Dit is moeilik om op te hou rook—selfs vir diegene wat baie vasbeslote is. Dit is veral so omdat die nikotien in tabak ’n uiters verslawende dwelm is. “Toe ’n lys gemaak is om te bepaal watter psigoaktiewe dwelms die verslawendste is, is daar vasgestel dat nikotien meer verslawend as heroïen [en] kokaïen is”, sê die WGO. Anders as heroïen en kokaïen veroorsaak nikotien nie dramatiese getuienis van bedwelming nie en gevolglik is dit maklik om die krag daarvan te onderskat. Maar die matige gevoel van euforie wat dit veroorsaak, laat die meeste mense aanhou rook sodat hulle die gevoel keer op keer kan ervaar. Nikotien wysig inderdaad jou luim; dit verlig angstigheid. Maar die spanning wat die sigaret verlig, is juis gedeeltelik te wyte aan die drang na nikotien.

Dit is ook moeilik om op te hou rook omdat rook ’n gedragsgewoonte is. Behalwe dat rokers aan nikotien verslaaf is, kom hulle in die gewoonte om aanhoudend sigarette aan te steek en daaraan te trek. ‘Dit gee jou hande iets om te doen.’ ‘Dit kry die tyd om’, sal party moontlik sê.

’n Derde faktor wat dit moeilik maak om op te hou, is dat tabak ’n deel van die daaglikse lewe is. Die tabakbedryf spandeer elke jaar byna 37 miljard rand aan advertensieveldtogte wat rokers as aantreklike, aktiewe, gesonde en intelligente mense uitbeeld. Hulle word dikwels uitgebeeld waar hulle perdry, swem, tennis speel of aan ander aangename bedrywighede deelneem. In rolprente en televisieprogramme sien jy hoe mense rook—en dit is nie altyd net die skurke wat rook nie. Dit is wettig om tabak te verkoop en ’n mens kan dit feitlik oral kry. Die meeste van ons is nooit ver van iemand wat rook nie. Jy kan nie hierdie invloede vryspring nie.

Daar is ongelukkig nie ’n pil wat jy kan neem om die drang om te rook weg te neem soos ’n aspirien ’n hoofpyn kan wegneem nie. ’n Mens moet vasbeslote wees as jy sukses wil behaal in die moeilike taak om op te hou rook. Soos om gewig te verloor, vereis dit dat jy jou oor ’n lang tydperk daarop moet toelê. Dit hang van die roker af of hy suksesvol gaan wees.

[Venster op bladsy 5]

Vroeë verslawing

’n Studie in die Verenigde State het getoon dat 1 uit 4 jongmense wat sigarette probeer het uiteindelik daaraan verslaaf geraak het. Dit was soortgelyk aan die verslawingsyfer vir diegene wat met kokaïen en heroïen geëksperimenteer het. Hoewel ongeveer 70 persent van jeugdige rokers spyt is dat hulle begin rook het, kan min van hulle ophou.

[Venster op bladsy 5]

Wat is in sigaretrook?

Sigaretrook bevat teer, wat uit meer as 4 000 chemiese stowwe bestaan. Drie-en-veertig van hierdie chemiese stowwe kan kanker veroorsaak. Dit sluit in sianied, benseen, metielalkohol en asetileen (’n brandstof wat in vlamsnyers gebruik word). Sigaretrook bevat ook stikstofoksied en koolstofmonoksied, wat albei giftige gasse is. Die belangrikste aktiewe bestanddeel is nikotien, ’n hoogs verslawende dwelm.

[Venster op bladsy 6]

Help ’n geliefde om op te hou

As jy ’n nieroker is wat weet watter gevare rook inhou, voel jy heel moontlik gefrustreerd wanneer jou vriende en geliefdes aanhou rook. Wat kan jy doen om hulle te help ophou? ’n Neulery, ’n gesoebat, dwang en bespotting werk selde. Dit werk ook nie as jy met ’n neerbuigende houding voortdurend preke afsteek nie. Pleks van op te hou, sal die roker dalk sy hand na ’n sigaret uitsteek om die emosionele pyn te verlig wat hierdie taktiek moontlik bring. Probeer dus verstaan hoe moeilik dit is om op te hou en dat dit vir party baie moeiliker is as vir ander.

Jy kan iemand nie forseer om op te hou rook nie. Die innerlike krag en vasbeslotenheid om op te hou, moet van die roker kom. Jy moet liefdevolle maniere vind om ’n begeerte om op te hou aan te wakker en te ondersteun.

Hoe kan jy dit doen? Op die regte tyd kan jy jou liefde vir die persoon uitspreek en sê dat jy besorg is oor sy of haar rookgewoonte. Verduidelik dat jy enige besluit om op te hou, sal ondersteun. As hierdie benadering te dikwels gebruik word, sal dit natuurlik sy trefkrag en waarde verloor.

Wat kan jy doen as jou geliefde wel besluit om op te hou? Hou in gedagte dat hy of sy dalk ’n ruk lank onttrekkingsimptome sal hê, wat buierigheid en depressie insluit. Die persoon kan ook hoofpyne kry en sukkel om te slaap. Herinner jou geliefde daaraan dat hierdie simptome net tydelik is en tekens is dat die liggaam besig is om ’n nuwe en gesonde balans te vind. Wees opgeruimd en positief. Sê hoe bly jy is dat hy of sy ophou. Help jou geliefde gedurende die tyd wat daar onttrekkingsimptome is om stresvolle situasies te vermy wat daartoe kan lei dat hy of sy terugval.

Sê nou hy of sy val terug? Probeer om nie te oorreageer nie. Wees medelydend. Beskou die situasie as iets waaruit julle albei iets kan leer, en dit sal die moontlikheid groter maak dat die volgende poging sal slaag.

[Prent op bladsy 7]

Die tabakbedryf spandeer elke jaar byna 37 miljard rand aan advertensies