Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat is El Nino?

Wat is El Nino?

Wat is El Nino?

Toe die Apurimacrivier naby Lima, Peru, wat gewoonlik droog is, amper al Carmen se besittings weggespoel het, het sy gesê: “Daar is baie, so baie van ons in hierdie situasie. Ek is nie die enigste een nie.” Verder noord het stortreën ’n deel van die Sechurawoestyn langs die kus tydelik in die tweede grootste meer in Peru verander, wat ongeveer 5 000 vierkante kilometer beslaan het. In ander wêrelddele het ongekende vloede, vernietigende siklone en ernstige droogtes hongersnood, pessiektes, bosbrande, oesskade asook skade aan eiendom en die omgewing veroorsaak. Wat was die oorsaak van al hierdie dinge? Baie wys met ’n beskuldigende vinger na El Nino, wat teen die einde van 1997 in die tropiese, of ekwatoriale, Stille Oseaan ontstaan het en ongeveer agt maande voortgeduur het.

Presies wat is El Nino? Hoe ontstaan dit? Waarom is die gevolge daarvan so wydverspreid? Kan daar akkuraat voorspel word wanneer dit weer gaan voorkom sodat lewens- en eiendomsverlies miskien verminder kan word?

Dit begin met die verhitting van water

“Streng gesproke is El Nino slegs die warm seestroom wat elke twee tot sewe jaar langs die kus van Peru voorkom”, sê die tydskrif Newsweek. Seemanne wat langs die kus van Peru vaar, weet al meer as honderd jaar lank dat hierdie water warmer word. Aangesien hierdie warm strome gewoonlik so teen Kerstyd voorkom, is dit El Nino, die Spaanse uitdrukking vir die baba Jesus, genoem.

Wanneer die water naby die kus van Peru warmer word, beteken dit meer reën vir hierdie land. Die reën laat woestyne bloei en laat die vee gedy. Wanneer dit swaar reën, veroorsaak dit ook vloede in die streek. Die seewater se warm bolaag keer ook dat die kouer water wat dieper onder die oppervlak is en ryk is aan voedingstowwe na die oppervlak kom. Gevolglik migreer baie seediere en selfs voëls om na kos te soek. El Nino het dus ’n uitwerking op ander plekke wat ver van die Peruaanse kus geleë is. *

Uit wind en water gebore

Wat gee aanleiding tot die ongewone temperatuurstyging van die seewater naby Peru se kus? Om dit te verstaan, moet ons eerstens kyk na die reusagtige sirkulasiekringloop, wat die Walker-sirkulasie genoem word en tussen die oostelike en westelike tropiese Stille Oseaan in die atmosfeer voorkom. * Wanneer die son die boonste waterlaag in die weste verhit, naby Indonesië en Australië, styg die warm, vogtige lug in die atmosfeer op, wat ’n laedrukstelsel na aan die wateroppervlak veroorsaak. Die stygende lug koel af en verloor die vog wat daarin is sodat dit oor die gebied reën. Die droë lug word ooswaarts gedryf deur die winde in die hoëratmosfeer. Namate dit ooswaarts beweeg, raak die lug koeler en swaarder en begin dit daal wanneer dit Peru en Ecuador bereik. Dit veroorsaak ’n hoëdrukstelsel naby die oppervlak van die see. En op geringe hoogtes beweeg die lugstrome wat passaatwinde genoem word weer weswaarts na Indonesië, en sodoende word die kringloop voltooi.

Watter uitwerking het die passaatwinde op die oppervlaktemperatuur van die tropiese Stille Oseaan? “Hierdie winde is gewoonlik soos briese op ’n poeletjie water”, sê Newsweek, “wat warm water in die westelike Stille Oseaan laat opbou sodat die watervlak daar tot twee voet [60 cm] hoër en 15 grade Fahrenheit [8 °C] warmer is by, kom ons sê, Ecuador.” In die oostelike Stille Oseaan kom kouer water wat ryk aan voedingstowwe is van diep onder die oppervlak af op, wat veroorsaak dat seelewe daar floreer. Gedurende normale jare wanneer El Nino nie voorkom nie, is die oppervlaktemperatuur van die see in die ooste koeler as in die weste.

Watter veranderinge in die atmosfeer gee aanleiding tot ’n El Nino? “Wetenskaplikes verstaan nog steeds nie waarom nie”, sê National Geographic, “maar elke paar jaar verswak die passaatwinde of verdwyn hulle selfs.” Wanneer hierdie winde swakker word, vloei die warm water wat naby Indonesië versamel het weer ooswaarts, wat die see se oppervlaktemperatuur in Peru en in ander plekke in die ooste verhoog. Hierdie beweging het weer ’n uitwerking op die atmosferiese stelsel. “Wanneer die oostelike tropiese Stille Oseaan warmer word, verswak die Walker-sirkulasie en laat dit die konveksiesone van swaar reënval ooswaarts beweeg, van die westelike na die sentrale en oostelike tropiese Stille Oseaan”, sê een naslaanwerk. Weerpatrone langs die hele ekwatoriale Stille Oseaan word dus geraak.

Soos ’n rots in ’n stroom

El Nino kan ook weerpatrone verander wat baie ver van die seestrome van die tropiese Stille Oseaan voorkom. Hoe? Met behulp van die atmosferiese sirkulasiestelsel. Die verreikende gevolge van ’n plaaslike versteuring in die atmosferiese sirkulasie kan vergelyk word met die manier waarop ’n rots in die middel van ’n stroom golfies in die hele stroom kan veroorsaak. Die digte reënwolke wat bo die water van die warm tropiese oseaan oprys en soos ’n rots in ’n stroom is, vorm ’n versperring in die atmosfeer, wat weerpatrone duisende kilometers daarvandaan beïnvloed.

Op groter hoogtes versterk en verplaas El Nino die lugstrome wat vinnig ooswaarts beweeg en wat straalstrome genoem word. Die straalstrome rig die vloei van die meeste stormstelsels op hierdie hoogtes. Die versterking en verskuiwing van straalstrome kan seisoenale weerstoestande ook vererger of verswak. El Nino-winters is byvoorbeeld oor die algemeen gematigder as gewoonlik oor dele van die noordelike Verenigde State, terwyl dit weer natter en kouer oor sommige suidelike state is.

Hoe voorspelbaar?

Die gevolge van individuele storms kan slegs ’n paar dae vooruit voorspel word. Geld dit ook vir pogings om ’n El Nino te voorspel? Nee. El Nino-voorspellings behels nie korttermynweerstoestande nie, maar abnormale klimaatstoestande oor groot gebiede wat maande lank duur. En klimatoloë het ’n mate van sukses in El Nino-voorspellings behaal.

Die voorspelling vir die El Nino van 1997-98 is byvoorbeeld in Mei 1997 gedoen—ongeveer ses maande voordat dit ontstaan het. Sewentig geankerde boeie is nou oor die tropiese Stille Oseaan versprei wat windtoestande op die oppervlak en watertemperature tot ’n diepte van 500 meter meet. Wanneer hierdie inligting in rekenaarmodelle van die klimaat ingevoer word, word weervoorspellings daardeur verkry.

Vroeë waarskuwings van El Nino kan mense beslis help om vir die verwagte veranderinge voor te berei. Danksy El Nino-voorspellings in Peru is baie boere byvoorbeeld sedert 1983 aangespoor om met beeste te boer en gewasse te plant wat geskik is vir natter toestande, terwyl vissermanne dan ophou visvang en eerder die garnale vang wat saam met die warmer water kom. Ja, wanneer voorsorg getref word wat op akkurate voorspellings gebaseer is, kan die lewensverlies asook ekonomiese verlies wat met El Nino gepaardgaan, verminder word.

Wetenskaplike navorsing van die prosesse wat ons aarde se klimaat bepaal, getuig van die juistheid van die geïnspireerde woorde wat ongeveer 3 000 jaar gelede deur koning Salomo van eertydse Israel opgeteken is. Hy het geskryf: “Die wind gaan na die suide en slaan om na die noorde, gaan altyddeur rond, en die wind keer na sy kringloop terug” (Prediker 1:6). Mense het vandag baie oor weerpatrone geleer deur wind- en seestrome te bestudeer. Mag ons by hierdie kennis baat vind deur ag te slaan op die waarskuwings in verband met gebeure soos El Nino.

[Voetnote]

^ par. 6 In teenstelling hiermee is La Nina (Spaans vir “die klein meisie”) ’n periodieke afkoeling van die watertemperatuur langs die westelike kus van Suid-Amerika. La Nina het ook ’n verreikende uitwerking op die weer.

^ par. 8 Die kringloop is vernoem na sir Gilbert Walker, die Britse wetenskaplike wat die proses in die 1920’s bestudeer het.

[Venster op bladsy 27]

EL NINO SE SPOOR VAN VERWOESTING

1525: Vroegste opgetekende geval van ’n El Nino-gebeurtenis in Peru.

1789-93: El Nino was verantwoordelik vir meer as 600 000 sterfgevalle in Indië en het ’n ernstige hongersnood in Suider-Afrika veroorsaak.

1982-83: Hierdie gebeurtenis, wat hoofsaaklik tot tropiese gebiede beperk was, het meer as 2 000 sterfgevalle en meer as R80 miljard se skade aan eiendom veroorsaak.

1990-95: Drie opeenvolgende gebeurtenisse was saam een van die langste El Nino-episodes wat bekend is.

1997-98: Ten spyte van die eerste grotendeels suksesvolle streekvoorspelling van vloede en droogtes as gevolg van ’n El Nino, het ongeveer 2 100 hulle lewe verloor en is skade van ongeveer R202 miljard wêreldwyd gely.

[Diagramme/Kaarte op bladsy 24, 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

NORMAAL

Walker-sirkulasiepatroon

Sterk passaatwinde

Warm seewater

Koue seewater

EL NINO

Straalstrome verskuif

Swak passaat-winde

Warm water beweeg ooswaarts

Warmer of droër as gewoonlik

Kouer of natter as gewoonlik

[Diagramme/Prente op bladsy 26]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

EL NINO

Rooi kleure op die wêreldkaart hierbo verteenwoordig watertemperature wat baie warmer as normaal is

NORMAAL

Warm water bou op in die westelike Stille Oseaan, wat kouer water wat ryk is aan voedingstowwe in die ooste na die oppervlak laat kom

EL NINO

Swak passaatwinde laat warm water weer ooswaarts vloei, wat keer dat kouer water na die oppervlak kom

[Prente op bladsy 24, 25]

PERU

Oorstroomde Sechurawoestyn

MEXIKO

Orkaan Linda

KALIFORNIË

Modderstortings

[Erkenning]

Bladsye 24-5 links na regs: Fotografía por Beatrice Velarde; Image produced by Laboratory for Atmospheres, NASA Goddard Space Flight Center; FEMA photo by Dave Gatley