Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat van die deursteekgier?

Wat van die deursteekgier?

Jongmense vra . . .

Wat van die deursteekgier?

‘Die eerste keer toe ek mense met gaatjies deur hulle lippe en ander liggaamsdele gesien het, het ek gedink: “Sjoe! Dis iets anders.”’—Lisa.

LISA is nie alleen nie. Al hoe meer jongmense dra ringe en sierknopies (studs) deur verskillende liggaamsdele, selfs hulle wenkbroue, tong, lippe en naeltjie. Dit word die deursteekgier (body piercing) genoem. *

Heather, ’n 16-jarige, is gretig om met die stroom saam te gaan. Sy is oortuig dat ’n ring in haar naeltjie “absoluut ongelooflik” sal lyk. Die 19-jarige Joe weer dra alreeds ’n goue staafgewiggie (barbell) deur sy tong. En ’n ander jong meisie het besluit om een van haar wenkbroue te laat deursteek omdat sy iets wou hê wat “baie opvallend” is en “mense [sal] skok”.

Die idee om juwele aan die liggaam te dra, is allesbehalwe nuut. Reeds in Bybeltye het ’n godvrugtige vrou met die naam Rebekka ’n neusring gedra (Genesis 24:22, 47). Toe die Israeliete uit Egipte gekom het, het hulle oorringe gedra (Exodus 32:2). Maar ons weet nie of hulle gaatjies deur hulle ore of neus gesteek het sodat hulle sulke juwele kon dra nie. Getroue slawe het egter wel gaatjies deur hulle ore laat steek as ’n teken van hulle lojaliteit aan hulle meesters (Exodus 21:6). Dit was ook in ander ou kulture gewild om gaatjies deur verskillende liggaamsdele te steek. Die Asteke en Majas het hulle tong om godsdienstige redes deurgesteek. Gaatjies deur die lippe kom nog steeds algemeen in Afrika en onder Suid-Amerikaanse Indiane voor. Om versierings deur die neus te steek, is algemeen onder Melanesiërs en inwoners van Indië en Pakistan.

In die Westerse wêreld is daar tot net ’n paar jaar gelede oor die algemeen net gaatjies deur vroue se oorlelle gesteek. Maar nou dra tieners en jong volwassenes van albei geslagte juwele aan omtrent elke deel van die liggaam waardeur gaatjies gesteek kan word.

Waarom doen hulle dit?

Baie laat gaatjies deur hulle vel steek omdat hulle dink dat dit in die mode is—die in-ding is om te doen. Ander dink dat dit hulle mooier sal laat lyk. Die gier is ongetwyfeld gewilder gemaak omdat topmodelle, sportsterre en gewilde musikante liggaamsjuwele dra. En vir party jongmense is die deursteekgier blykbaar ook ’n bewys van onafhanklikheid, ’n soeke na individualiteit, ’n manier waarop hulle kan sê dat hulle nie soos al die ander is nie. Die rubriekskrywer John Leo sê: “Een van die vernaamste redes waarom baie soveel gaatjies laat deursteek, is om hulle ouers te irriteer en die middelklas te skok.” Ontevredenheid, nonkonformiteit, ’n uitdagende gesindheid en opstandigheid sit blykbaar agter hierdie behoefte om hulleself uit te leef.

Daar is selfs mense wat weens diep sielkundige of emosionele behoeftes gaatjies vir juwele laat deursteek. Party jongmense dink byvoorbeeld dat dit hulle groter selfrespek sal gee. Party slagoffers van kindermolestering het dit gesien as ’n manier om beheer oor hulle liggaam te kry.

Gesondheidsgevare

Maar is dit altyd veilig om gaatjies deur jou vel te laat steek? Baie dokters sê dat dit soms nie is nie. Dit is beslis gevaarlik om dit self te doen. En om na iemand te gaan wat beweer dat hy professioneel is, kan ook gevaarlik wees. Baie van hulle het nie genoeg opleiding nie, aangesien hulle by vriende, uit tydskrifte of deur video’s geleer het hoe om dit te doen. Gevolglik gebruik hulle moontlik nie higiëniese tegnieke nie of verstaan hulle dalk nie eers die gevare wat daarby betrokke is nie. Baie van hulle het ook nie genoeg kennis van anatomie nie. Dit is ’n groot probleem, aangesien dit ernstige bloeding kan veroorsaak as hulle ’n gaatjie op die verkeerde plek maak. As hulle ’n senuwee raak steek, kan dit permanente skade doen.

’n Ander groot risiko is infeksie. Onsteriele toerusting kan dodelike siektes soos hepatitis, vigs, tering en klem-in-die-kaak oordra. Selfs wanneer steriele tegnieke gebruik word, is nasorg noodsaaklik. As ’n mens byvoorbeeld ’n gaatjie deur jou naeltjie laat maak het, kan dit maklik geïrriteer word omdat die klere gedurig daaroor skuur. Gevolglik kan dit tot nege maande neem om gesond te word.

Dokters sê dat dit gevaarliker is om ’n gaatjie deur die kraakbeen van ’n mens se neus of ore te steek as wat dit is deur ’n oorlel. ’n Nuusbrief van die Amerikaanse Akademie vir Plastiese en Rekonstruktiewe Gesigsnykunde verduidelik: “Veelvuldige gaatjies aan die borand van die oor is veral kommerwekkend—ernstige infeksies kan daartoe lei dat iemand die hele boonste ronding van sy oor verloor. Sierknopies in die neus is ook gevaarlik—’n infeksie in hierdie omgewing kan nabygeleë bloedvaatjies aantas en na die brein versprei.” Die nuusbrief kom tot hierdie gevolgtrekking: “Die ideaal is dat net die oorlelle [deurgesteek] word.”

Ander gevare is lelike littekens en allergiese reaksies op deursteekjuwele. As ringe in uiters sensitiewe dele, soos die bors, aan iets vashaak of deur ’n kledingstuk getrek word, kan die gaatjie maklik skeur. Littekenweefsel wat in die bors van ’n jong meisie vorm, kan die melkbuisies verstop, en as sy nie behandeling kry nie, sal sy dit dalk moeilik of onmoontlik vind om in die toekoms ’n baba te borsvoed.

Die Amerikaanse Tandheelkundige Vereniging het onlangs gesê dat dit ’n openbare gesondheidsgevaar is om gaatjies deur die monddele te laat steek. Bykomende gevare wanneer gaatjies deur die monddele gesteek word, sluit die volgende in: verstikking nadat versiersels ingesluk is, gevoelloosheid en verlies van smaak in die tong, langdurige bloeding, gesplinterde of gebreekte tande, verhoogde speekselvloei, onbeheerde gekwyl, tandvleisbeserings, spraakbelemmering sowel as probleme met asemhaling en die kou- en slukproses. Toe ’n jong vrou met die naam Kendra ’n gaatjie deur haar tong laat steek het, het dit “soos ’n ballon opgeswel”. Wat dinge nog erger gemaak het, was dat die persoon wat dit gedoen het ’n sierknopie gebruik het wat vir die ken bedoel is, en dit het in Kendra se tong ingesny en die weefsel onder die tong geskeur. Sy het amper haar spraakvermoë verloor.

God het sy volk, die Israeliete, geleer om hulle liggame te respekteer en hulleself nie te vermink nie (Levitikus 19:28; 21:5; Deuteronomium 14:1). En hoewel Christene vandag nie meer onder die Mosaïese Wet is nie, word hulle nog steeds aangemoedig om hulle liggame met respek te behandel (Romeine 12:1). Is dit dan nie verstandig om onnodige gesondheidsgevare te vermy nie? Maar daar is ander faktore buiten jou gesondheid waaraan jy moet dink.

Watter boodskap dra dit oor?

Die Bybel gee geen spesifieke opdrag oor hierdie saak nie. Maar dit moedig ons wel aan om onsself met “beskeidenheid en gesonde verstand” te versier (1 Timoteus 2:9). Hoewel iets in een deel van die wêreld dalk as beskeie beskou word, is die vraag eintlik hoe dit beskou word waar jy woon. Vroue met gaatjies in hulle oorlelle is byvoorbeeld in een deel van die wêreld dalk heel aanvaarbaar. Maar in ’n ander land of kultuur sal dit party dalk aanstoot gee.

Ten spyte van die feit dat die deursteekgier en oorringe vir mans so gewild onder beroemdes is, word dit tot dusver nog nie algemeen in die Weste aanvaar nie. Een rede hiervoor is dalk omdat hierdie gebruike lank kenmerkend was van gevangenes, motorfietsbendes, punk rockers en lede van die homoseksuele sadomasochistiese subkultuur. Baie mense verbind die deursteekgier met afwykende gedrag en opstandigheid. Heelparty beskou dit as skokkend, afstootlik. ’n Christenmeisie met die naam Ashley sê: “Een outjie in my klas het onlangs ’n gaatjie deur sy neus laat steek. Hy dink dis cool. Ek dink dis vieslik!”

Dit is dus geen wonder nie dat een bekende Amerikaanse winkel ’n reël het wat sê dat werknemers wat direk met klante werk net een oorring per oor mag dra en dat alle ander sigbare deursteekjuwele verbode is. “Jy kan nie voorspel hoe mense dalk gaan reageer nie”, verduidelik ’n woordvoerder van die maatskappy. Beroepsvoorligters raai manlike universiteitstudente wat vir ’n werk aansoek doen eweneens aan om “geen oorringe of ander deursteekjuwele” te dra nie; “vroue moet . . . geen neusringe dra nie”.

Veral jong Christene moet daaroor besorg wees om die regte indruk by ander te skep, ook wanneer hulle aan die predikingswerk deelneem. Hulle wil nie ‘enige aanleiding tot struikeling gee nie, sodat daar nie met hulle bediening foutgevind sal word nie’ (2 Korintiërs 6:3, 4). Wat jou persoonlike mening oor die deursteekgier ook al is, jou voorkoms sê ongetwyfeld iets oor jou gesindhede en lewenstyl. Wat wil jý hê moet dit sê?

Dit is op die ou end jy—en natuurlik jou ouers—wat moet besluit wat jy hieromtrent gaan doen. “Moenie die wêreld rondom jou toelaat om jou in sy vorm te druk nie”, is die goeie raad van die Bybel (Romeine 12:2, Phillips). Jy is per slot van rekening die een wat met die gevolge sal moet saamleef.

[Voetnoot]

^ par. 4 Hiermee bedoel ons nie die blote gebruik om deursteekjuwele te dra wat in baie lande algemeen en kultureel aanvaarbaar is nie. Ons bedoel eerder die buitensporige gebruike wat vandag so gewild is.—Sien The Watchtower van 15 Mei 1974, bladsye 318-19.

[Prente op bladsy 12]

Die deursteekgier is baie gewild onder jongmense