Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Wêreld wat verslaaf is aan rook

’n Wêreld wat verslaaf is aan rook

’n Wêreld wat verslaaf is aan rook

BILL was ’n vriendelike man, ’n slim man, ’n sterk man. Hy was lief vir sy gesin. Maar toe hy nog baie jonk was, het hy sigarette begin rook. Later in sy lewe het hy die gewoonte gehaat. Hy het selfs met ’n sigaret in die hand sy seuns ernstig teen rook gewaarsku en gesê hoe dwaas dit is. Soms het hy ’n pakkie sigarette in sy kragtige hande opgefrommel, na die ander kant van die vertrek gegooi en gesê dat hy nooit weer sal rook nie. Maar dit was nie lank nie of hy het weer begin rook—eers in die geheim en dan openlik.

Bill het 15 jaar gelede aan kanker gesterf, ná maande van verskriklike pyn. As hy nie gerook het nie, sou hy moontlik vandag nog geleef het. Sy vrou sou nog ’n man gehad het; sy seuns sou nog ’n vader gehad het.

Hoewel Bill se dood ’n tragedie vir sy gesin was, is dit nie ’n unieke geval nie. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) sterf daar elke jaar ongeveer viermiljoen mense, of een persoon elke agt sekondes, aan tabakverwante siektes. Tabakgebruik is die grootste voorkombare siekteoorsaak in die wêreld. As huidige tendense voortduur, sal rook binne 20 jaar die wêreld se grootste oorsaak van dood en ongeskiktheid wees, wat beteken dat dit meer mense sal doodmaak as vigs, tering, sterfgevalle by geboorte, motorongelukke, selfmoord en manslag saam.

Sigarette is dodelik. Maar oral is daar mense wat rook. Wêreldwyd is daar ten minste 1,1 miljard rokers, aldus die WGO. Dit beteken ongeveer een derde van die wêreld se volwasse bevolking.

Ontleders skat dat die honderdmiljoene rande wat tabakmaatskappye nou weens hofsake teen hulle uitbetaal niks is in vergelyking met hulle wins wat multibiljoene rande beloop nie. In die Verenigde State alleen word ongeveer 1,5 miljard sigarette elke dag in tabakfabrieke vervaardig. Wêreldwyd verkoop tabakmaatskappye en regeringsmonopolieë elke jaar meer as vyfbiljoen sigarette!

Hoekom hou soveel mense aan met hierdie dodelike gewoonte? As jy ’n roker is, hoe kan jy ophou? Hierdie vrae sal in die volgende artikels beantwoord word.