Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Beheer van ’n dodelike indringer

Beheer van ’n dodelike indringer

Beheer van ’n dodelike indringer

Deur Ontwaak!-medewerker in Kanada

HY BEWEEG deur die woud; jonges word geïgnoreer, maar oues word aangeval. Die aanvaller is piepklein in vergelyking met sy prooi. Hy beweeg vinnig en is nie tevrede tot alles vernietig is nie. Terwyl die slagoffer die indringer probeer uitdryf, word dit ’n stryd om lewe en dood. Uiteindelik wen die aanvaller.

Wie is hierdie vyand? Die aanvaller is die klein bergdenkewer, wat in die weste van Noord-Amerika gevind word. Sy prooi is die majestueuse strandden, wat algemeen in die binneland van die provinsie Brits-Columbië, Kanada, is.

Stranddenne beslaan ongeveer 35 persent van die bosbougebied in die provinsie—’n ideale broeiplek vir die silindervormige bergdenkewer, wat maar net drie tot agt millimeter lank is. Aanvanklik slaan hy toe op ongesonde, ou dennebome. Maar namate die kewerbevolking toeneem, val hulle ook gesonde, volwasse bome aan. (Sien die venster “Lewensiklus van die bergdenkewer”.) Onlangse epidemies in Brits-Columbië het in een jaar alleen die dood van 30 miljoen dennebome beteken. Daar word geskat dat genoeg kewers uit ’n besmette boom kan kom om die volgende jaar twee bome van dieselfde grootte dood te maak.

Die bergdenkewer is ’n natuurlike deel van die ekosisteem, en saam met bosbrande help die kewers om ou stranddenwoude te hernieu. Menslike ingryping deur brandopsporing en -beheer het egter bygedra tot die bewaring van groot oppervlaktes volwasse en ou dennebome. Hoewel dit die habitat en migrasieroetes van wilde diere beskerm het, asook woude wat vir ontspannings- en industriële doeleindes gebruik word, het dit ook die behoefte laat ontstaan om die bergdenkewer te beheer. Maar hoe word hierdie peste wat so klein is in uitgestrekte wildernisgebiede opgespoor? Wat, indien enigiets, kan gedoen word om die vloedgolf van vernietiging wat hulle agterlaat te keer?

Opsporing

Beheer van die bergdenkewer begin met die opsporing daarvan. ’n Inspeksie van die uitgestrekte woud word vanuit die lug gedoen om bome te soek waarvan die toppe rooi geword het. Sulke bome dui op besmetting en is maklik om tussen die groen bome raak te sien. Die ligging van ’n besmetting, asook die aantal rooi bome word bepaal deur ’n globale posisiebepalingstelsel (GPS) te gebruik. Data word opgeteken en nougeset in ’n handrekenaar geberg. Later word dit op kantoorrekenaars afgelaai en oor gedetailleerde kaarte van die woud geplaas deur middel van kragtige geografiese inligtingstelsels. Elke besmette gebied ontvang dan ’n nommer, en ’n lys word opgestel met die koördinate van elke gebied. Dit is noodsaaklik vir die opmetingspanne, wat uitgestuur word om besmettingsvlakke te ondersoek.

Die ware bedreiging vir die woud is egter nie die bome wat rooi geword het nie, maar die groen bome wat aangeval word. Hulle word oor die algemeen geïdentifiseer deur ’n buisie hars om die gaatjie waar die kewers ingegaan het en deur stukkies boorsel, of saagsels, onderaan die boom. Alle besmette bome word met plastiek linte gemerk en met verf genommer. Kenmerke van die terrein en die aantal bome wat aangeval is, word aangeteken, asook enige ander inligting wat die verantwoordelike instansies kan help om te besluit wat gedoen moet word om die verspreiding van die besmetting te beheer.

Beheermaatreëls

As ’n besmette gebied groot genoeg is om die afkapping van bome te regverdig, word ’n ander span ingestuur om die gebied te karteer. ’n Plan waarvolgens die bome afgekap sal word, word dan by die Departement van Bosbou vir goedkeuring ingedien. Die maatskappy wat die bome gaan afkap, word ook verantwoordelik vir die herbebossing van die gebied en die versorging van die boompies totdat hulle gelos kan word om op hulle eie te groei. Hierdie proses laat nie alleen toe vir die benutting van die bome nie, maar beheer ook die verspreiding van die besmetting en bevorder nuwe groei.

As dit nie prakties is om die bome af te kap nie, sal daar moontlik aanbeveel word dat elke boom individueel behandel word. Dit kan insluit dat plaagdoder in die besmette boom ingespuit word of dat dit afgekap en op die plek verbrand word. Die laasgenoemde metode, wat laat in die winter of vroeg in die lente gedoen word voor die kewers verskyn, is baie doeltreffend, maar ook arbeidsintensief. Dale, ’n kenner wat die opsporing en beheer van sulke besmette bome betref, beskryf vir Ontwaak! die roetine van ’n gewone werksdag.

“Die eerste stap behels om op paaie te ry wat net vir enkelverkeer bedoel is, maar ook gebruik word deur groot vragmotors wat swaar vragte hout vervoer. Om veiligheidsredes gebruik ons ’n tweerigtingradio om die bedrywighede op die pad te monitor. Waar die pad eindig, laai ons ons sneeumobiele en sleë af en beweeg ons dieper in die woud in. Ons GPS en kompasse is versigtig ingepak, asook kettingsae, petrol, olie, byle, radio’s, sneeuskoene en noodhulptoerusting. Ons ry etlike kilometers deur moerasse, afgekapte woude en op ou bospaadjies. Wanneer ons sneeuvoertuie nie meer verder kan gaan nie, trek ons sneeuskoene aan wat ons in staat stel om deur sneeu, wat op party plekke tot [120 sentimeter] diep is, te loop, al is dit met moeite.

“Die onsekere terrein maak dit nogal ’n uitdaging om [15 kilogram] se toerusting te dra. Ons harte klop weens die inspanning. Hoe bly is ons tog om die plek te vind! Maar nou begin die eintlike werk. ’n Opgeleide en gekwalifiseerde bosbouer kap die besmette boom af met die presisie van ’n skerpskutter. Daarna beweeg die span in en sny die boom in stukke op wat makliker hanteer kan word om dan verbrand te word. Die bas moet heeltemal verbrand word om die larwes uit te roei. Wanneer dit tyd vir middagete is, laat die temperatuur van minus [20 grade Celsius] ons ons vuur waardeer. Ons geniet die hitte en ontdooi ons bevrore toebroodjies. Dan is dit tyd om weer te begin werk. Alte gou begin die winterlug donker word, wat ons herinner dat dit tyd is om huis toe te gaan.”

Werk in die natuur

Die werk van bosbouers is veeleisend. Terwyl hierdie bedrewe mense die uitdagings die hoof bied, geniet hulle ook die skepping om hulle. Dit sluit ongelooflike natuurtonele en onvergeetlike ontmoetings met wilde diere in. Van hierdie ontmoetings is onskadelik, soos wanneer ’n fisant amper reg onder ’n mens se voete met ’n lawaai uit die sneeu opvlieg of ’n ongelukkige eekhorinkie uit sy lêplek skarrel en teen ’n bosbouer se broekspyp ophardloop, wat nogal ’n konsternasie kan veroorsaak. Ander ontmoetings kan egter dodelik wees—’n mens kan deur ’n grys- of swartbeer van die omgewing gejaag word. Maar oor die algemeen kan gevare deur oplettendheid en opleiding verminder word, en bosbouers kan die wildernis sonder uitermatige vrese geniet.

Opwindende vooruitgang word gemaak in die gebruik van tegnologie om die aarde se waardevolle hulpbronne te bestuur. Talle besorgde individue probeer ons kosbare bome beskerm en bewaar deur pogings soos die beheer van die bergdenkewer. Daar is ongetwyfeld baie meer om te leer omtrent ons wonderlike woude. Ons sien uit na die tyd wanneer ons ons woude sal kan bestuur in algehele harmonie met die oorspronklike ontwerp daarvan.

[Venster/Diagram op bladsy 22]

Lewensiklus van die bergdenkewer

In die middel van die somer boor ’n volwasse wyfiekewer deur die bas van ’n strandden tot in die spinthout. Nadat sy met die mannetjie gepaar het, lê sy omtrent 75 eiers. Sy skei terselfdertyd ’n swam af wat die spinthout blou vlek en keer dat harsvloei die kewers doodmaak. Die eiers broei uit as wurmagtige larwes wat die floëem (’n saamgestelde weefsel) van die boom eet. Binne weke van ’n suksesvolle aanval deur ’n kewer gaan die gasheerboom dood omdat die vloei van water en voedingstowwe verbreek word. Larwes ontwikkel gedurende die winter en verskyn in die somer wanneer hulle na nuwe bome vlieg, hulle aanval en die siklus herhaal.

[Diagram]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Volwassene

Eiers

Larwe

Papie

[Prente op bladsy 22, 23]

Nabyfoto van beskadigde boom

Besmette bome

Harsbuise