Die Wasa—van ramp tot besienswaardigheid
Die Wasa—van ramp tot besienswaardigheid
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SWEDE
DIT was 10 Augustus 1628—’n pragtige somerdag in Stockholm, die hoofstad van Swede. Mense het in die hawe op die kaai saamgedrom om te sien hoe die indrukwekkende koninklike oorlogskip, die Wasa, ná drie jaar se bouwerk, te water gelaat word om by die Sweedse vloot aan te sluit.
Die Wasa was nie ’n gewone oorlogskip nie. Koning Gustaaf II Adolf Wasa wou hê dat dit die grootste skip in die wêreld moes wees. Party sê dat hy beveel het dat ’n tweede geskutdek gebou moet word nadat hy gehoor het dat die Dene ’n skip met twee geskutdekke bou. Hy wou nie hê dat die skip wat sy familienaam sou dra ondergeskik aan enige ander skip moes wees nie.
Die vertrek van die skip was veronderstel om ’n spoggerige vertoon van sy koninklike mag en glorie te wees. Dit was met 64 kanonne gewapen en met meer as 700 beelde en ornamente versier. Die koste daarvan was meer as 5 persent van Swede se bruto nasionale produk. Hierdie kragtige oorlogsmasjien en drywende kunsuitstalling was waarskynlik op daardie tydstip die mooiste skip wat nog gebou is. Geen wonder dat mense dit trots toegejuig het toe dit by Stockholm se kaai verbygevaar het nie!
Rampspoed en vernedering
Maar die Wasa het net meer as ’n kilometer geseil toe ’n sterk rukwind die skip laat oorhel het. Water het deur die oop geskutpoorte ingestroom en die skip het gesink. Dit was miskien die kortste inwydingsvaart in die geskiedenis van seevaart!
Die toeskouers was verbysterd. Die trots van die Sweedse vloot het vergaan, nie in ’n geveg of in ’n woeste storm op die oop see nie, maar deur ’n eenvoudige rukwind in sy eie hawe. Die dood van ongeveer 50 mense aan boord het verdere konsternasie veroorsaak. Pleks van ’n voorwerp van volkstrots te wees, het die Wasa sinoniem met teleurstelling en skande geword.
’n Hofsaak is gelas om uit te vind wie vir die vernederende katastrofe verantwoordelik was. Maar niemand is aangekla nie, waarskynlik omdat die getuienis die koning sowel as die tweede hoogste bevelvoerder in die Sweedse vloot, viseadmiraal Klas Fleming, geïmpliseer het.
Die koning se eise het die bouers met ontwerpe laat eksperimenteer waarmee hulle onbekend was. Dit het daartoe gelei dat die Wasa erg ongebalanseerd was. Die een of ander tyd voor die skip omgeslaan het, het admiraal Fleming ’n stabiliteitstoets laat doen. Dertig mans het langs mekaar heen en weer oor die skip gehardloop. Ná die derde keer het die admiraal besef dat die skip sou omslaan as hulle voortgaan. Hy het dus die toets gestaak, maar nie die inwydingsvaart afgelas nie. Met sulke belangrike persone soos die koning en die admiraal geïmpliseer, is die aanklagtes laat vaar.
In 1664-65 het ’n oud-offisier van die Sweedse leër die meeste van die Wasa se kanonne met behulp van ’n eenvoudige duikerklok uitgehaal. Die Wasa het toe geleidelik vergete geraak terwyl hy dieper en dieper in die slyk 30 meter onder die oppervlak weggesink het.
Uit die slyk uit
In Augustus 1956 het ’n amateurargeoloog, Anders Franzén, ’n kernmonsternemer gebruik om ’n stuk eikehout van die bodem af op te bring. Hy het jare lank ou dokumente ondersoek en op die seebodem na die Wasa gesoek. Toe het hy hom uiteindelik gevind. Deur middel van ’n delikate bergingsoperasie is die Wasa uit die modder gelig
en versigtig onder die water in een stuk na ’n wagtende dok vervoer.Op 24 April 1961 was die kaai in Stockholm weer eens met juigende toeskouers gevul. Ná 333 jaar op die seebodem het die Wasa teruggekeer—hierdie keer as ’n besienswaardigheid vir toeriste en ’n skat vir skeepsargeoloë. Meer as 25 000 artefakte het fassinerende besonderhede aangaande hierdie 17de-eeuse oorlogskip geopenbaar en het ons ook unieke insig in die skeepsbou en beeldhoukuns van dié tyd gegee.
Waarom is die Wasa en die artefakte daarin so goed bewaar? Van die faktore is dat die skip nuut was toe hy gesink het, dat die modder ’n preserverende uitwerking gehad het en dat die houtvernietigende seewurm nie in water met ’n lae soutinhoud floreer nie.
Die Wasa het sowat 120 ton ballas gehad. Kenners bereken dat hy meer as dubbel daardie hoeveelheid nodig gehad het om hom stabiel te maak, maar hy het nie die ruimte gehad nie. Sulke bykomende gewig sou ook die laer geskutpoorte nader aan die water gebring het. Dit was ’n pragtige skip, maar sy swak balans het hom vir ’n rampspoedige einde bestem.
Nou, as die oudste bewaarde, volledige en ten volle geïdentifiseerde skip in die wêreld, is hy veilig in sy eie museum. Daar kom kyk 850 000 besoekers elke jaar na die 17de-eeuse koninklike pronkstuk, wat sedert daardie katastrofe in 1628 onveranderd gebly het. Dit is ’n herinnering aan die dwaasheid van diegene in gesagsposisies wat, weens hulle ego’s en agterlosigheid, gekies het om goeie skeepsboutegnieke te ignoreer.
[Prent op bladsy 24]
Koning Gustaaf II Adolf Wasa
[Erkenning]
Foto: Nationalmuseum, Stockholm
[Prente op bladsy 24, 25]
Ná meer as 300 jaar op die seebodem is die “Wasa” ’n wêreldberoemde besienswaardigheid
[Erkenning]
Genom tillmötesgående från Vasamuseet, Stockholm
[Foto-erkenning op bladsy 25]
Målning av det kapsejsande Vasa, av konstnär Nils Stödberg