Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Godsdiensonverdraagsaamheid nou erken

Godsdiensonverdraagsaamheid nou erken

Godsdiensonverdraagsaamheid nou erken

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRITTANJE

“BISKOPPE betreur ‘verskriklike misdade’ van koningin Maria”, was die opskrif van Brittanje se Catholic Herald van 11 Desember 1998. Die Rooms-Katolieke biskoppe van Engeland en Wallis het erken dat “verskriklike onregte in die naam van die Katolieke godsdiens gepleeg is teen byvoorbeeld die Protestante gedurende die Hervorming in Groot-Brittanje”. Wie was koningin Maria? Watter onregte het sy gepleeg om so ’n bekentenis uit te lok? En waarom het die biskoppe van Engeland en Wallis hierdie tyd gekies om hulle verklaring uit te reik?

Maria Tudor is in 1516 in Rooms-Katolieke Engeland gebore. As die enigste oorlewende kind van Katharina van Aragon, eerste vrou van koning Hendrik VIII, is Maria deur haar ma as ’n vroom Katoliek grootgemaak. Haar vader wou ’n manlike troonopvolger hê, maar Katharina het nie vir hom een gegee nie. Aangesien die Pous geweier het om Hendrik se huwelik met Katharina nietig te verklaar, het hy die reg in eie hande geneem en sodoende die weg berei vir die Protestantse Hervorming in Engeland. In 1533 is hy met Anne Boleyn getroud, vier maande voor die aartsbiskop van Kantelberg, Thomas Cranmer, Hendrik se eerste huwelik ongeldig verklaar het.

Die volgende jaar het ’n uitdagende Hendrik alle bande met Rome verbreek en is hy opperhoof van die Anglikaanse Kerk gemaak. Maria, wat nou as ’n buite-egtelike kind beskou is, het haar moeder nooit weer gesien nie, aangesien Katharina gedwing is om haar laaste jare afgesonder van die openbare lewe deur te bring.

Protestantse onverdraagsaamheid

Gedurende die volgende 13 jaar is party wat geweier het om Hendrik as hoof van die kerk te erken of wat nog steeds die gesag van die Pous aanvaar het, tereggestel. Hendrik is in 1547 oorlede en is deur die negejarige Eduard opgevolg, sy enigste wettige kind by die derde van sy ses vrouens. Eduard en sy raadgewers het Engeland Protestants probeer maak. Rooms-Katolieke is vervolg omdat hulle hulle godsdiens beoefen het, en kerke is van hulle beelde en altare gestroop.

Beperkings op die druk en lees van die Bybel in Engels is gou opgehef, en kerkdienste wat Skriflesing ingesluit het, moes in Engels wees en nie meer in Latyn nie. Maar in 1553 het Eduard aan tering gesterf toe hy maar net 15 was. Maria is as die regmatige opvolger beskou en het koningin van Engeland geword.

Katolieke onverdraagsaamheid

Aanvanklik het mense die 37-jarige Maria verwelkom, maar sy het gou ongewild geraak. Haar onderdane het gewoond geraak aan Protestantisme, maar nou was Maria vasbeslote om die land weer Rooms-Katoliek te maak. In ’n kort tydjie is al Eduard se godsdienswette herroep. Maria het die Pous namens die volk om vergifnis gesmeek. Engeland het weer eens Rooms-Katoliek geword.

Versoening met Rome het weer aanleiding gegee tot ’n nuwe vlaag van vervolging teen Protestante. Hulle is vergelyk met ’n kwaadaardige sweer wat uitgesny moes word voor dit die hele liggaam kon aantas. Baie wat geweier het om die leringe van die Rooms-Katolieke Kerk te aanvaar, is lewendig op die brandstapel verbrand.

Straf van ketters

Die eerste persoon wat gedurende Maria se bewind gesterf het, was John Rogers. Hy het die Bybel saamgestel wat as Matteus se Bybel bekend staan, en dit het die grondslag vir die King James Version gevorm. Nadat hy ’n anti-Rooms-Katolieke preek gehou het waarin hy die mense teen “verderflike pousgesindheid, afgodediens en bygeloof” gewaarsku het, is hy ’n jaar lank gevange gehou, en in Februarie 1555 het hy weens kettery op die brandstapel gesterf.

John Hooper, biskop van Gloucester en Worcester, is ook as ’n ketter veroordeel. Hy het gesê dat dit vir geestelikes geoorloof is om te trou en dat egskeiding op grond van egbreuk toelaatbaar is. Hy het ook ontken dat Christus tydens die mis fisies teenwoordig is. Hooper is lewendig verbrand, en sy pynlike dood het amper ’n driekwartier geduur. Toe dit die 70-jarige Protestantse prediker Hugh Latimer se beurt op die brandstapel was, het hy ’n medehervormer en medeslagoffer, Nicholas Ridley, by die stapel aangemoedig met die woorde: “Skep moed meester Ridley, en wees manmoedig. Ons sal vandag, deur God se genade, ’n kers in Engeland aansteek wat ek vertrou nooit gedoof sal word nie.”

Thomas Cranmer, die eerste Protestantse aartsbiskop van Kantelberg onder Hendrik en Eduard, is ook as ’n ketter veroordeel. Hoewel hy sy Protestantse opvatttings herroep het, het hy op die laaste oomblik in die openbaar omgeswaai, die Pous as Christus se vyand veroordeel en sy regterhand in die vuur gesteek om eerste gebrand te word, aangesien dit die herroeping geteken het.

Hoewel ten minste 800 ryk Protestante vir hulle veiligheid na die buiteland gevlug het, het ten minste 277 mense, gedurende die volgende drie jaar en nege maande tot en met Maria se dood, in Engeland op die brandstapel gesterf. Baie slagoffers was gewone mense wat heeltemal verward was oor wat hulle moes glo. Jongmense wat as kinders voortdurend gehoor het hoe die Pous veroordeel word, is nou gestraf omdat hulle teen hom gepraat het. Ander het geleer om self die Bybel te lees en het hulle eie godsdiensidees gevorm.

Die stadige, pynlike dood van mans, vroue en kinders wat op die brandstapel gesterf het, het baie mense ontstel. Die geskiedskrywer Carolly Erickson beskryf ’n tipiese toneel: “Alte dikwels was die brandhout groen of die klein houtjies te nat om vinnig te brand. Die sakke buskruit wat aan die slagoffers vasgemaak is om hulle lyding te verkort, het nie aan die brand geslaan nie of het hulle andersins vermink sonder om hulle dood te maak.” Die slagoffers se monde is nie toegebind nie, met die gevolg dat “hulle gille en gebede dikwels gehoor kon word tot die oomblik wat hulle gesterf het”.

Al hoe meer mense het begin twyfel in ’n godsdiens wat mense na die brandstapel moes stuur om sy leringe af te dwing. ’n Vlaag van simpatie vir die slagoffers het balladeskrywers beweeg om oor Protestantse martelaars te skryf. John Foxe het begin om sy Book of Martyrs saam te stel, wat amper so invloedryk vir die Protestantse Hervormers geword het as die Bybel. Baie wat aan die begin van Maria se bewind Rooms-Katolieke was, was teen die einde daarvan Protestante.

Maria se nalatenskap

Nadat sy koningin geword het, het Maria gesê dat sy met haar neef Filips, opvolger van die Spaanse troon, sou trou. Hy was ’n koning uit die buiteland en ’n ywerige Rooms-Katoliek, die laaste ding wat baie van die Engelse wou hê moes gebeur. ’n Protestantse opstand uit protes teen die huwelik het misluk, en 100 rebelle is tereggestel. Filips en Maria is op 25 Julie 1554 getroud, al is Filips nooit gekroon nie. Hulle kinderlose huwelik was egter ’n bekommernis vir Maria, wat ’n Rooms-Katolieke opvolger wou hê.

Maria se gesondheid het agteruitgegaan, en ná ’n kort bewind van vyf jaar is sy op 42-jarige ouderdom dood. Sy het ’n hartseer dood gesterf. Haar man was moeg vir haar, en die meeste van haar onderdane het haar gehaat. Baie Londenaars het haar dood in die strate gevier. Pleks van Rooms-Katolisisme te herbou, het sy met haar fanatisme die saak van Protestantisme bevorder. Haar nalatenskap word opgesom deur die naam waaronder sy bekend is: Maria die Bloedige.

’n Gewete wat verkeerd gemotiveer is

Waarom het Maria beveel dat soveel mense verbrand word? Sy is geleer dat ketters verraaiers van God is, en sy het gedink dat dit haar plig is om ontslae te raak van hulle invloed voor hulle die hele volk besmet. Sy het na haar gewete geluister, maar het die regte geïgnoreer van diegene wie se gewete hulle in ’n ander rigting gelei het.

Maar die Protestante was net so onverdraagsaam. Onder Hendrik en Eduard is mense ook weens hulle godsdiensopvattings verbrand. Maria se Protestantse opvolger, Elisabet I, het bepaal dat iemand wat Rooms-Katolisisme beoefen, skuldig is aan verraad, en gedurende haar bewind is meer as 180 Engelse Rooms-Katolieke tereggestel. Gedurende die volgende eeu het nog honderde weens hulle godsdiensopvattings gesterf.

Waarom nou verskoning vra?

Op 10 Desember 1998 het die Verenigde Nasies die 50ste herdenking van hulle Universele Verklaring van Menseregte gevier. Artikel 18 erken “die reg op vryheid van denke, gewete en godsdiens”, wat die reg insluit om van godsdiens te verander en dit te verkondig en te beoefen. Die Rooms-Katolieke biskoppe van Engeland en Wallis het besluit dat die 50ste herdenking “’n gepaste geleentheid is vir Katolieke om hulle gewete in hierdie sake te ondersoek” en om die “verskriklike onregte” te erken wat, veral in die tyd van Maria Tudor, gepleeg is.

Hierdie dade van godsdiensonverdraagsaamheid wat byna 450 jaar gelede gepleeg is, word nou betreur, maar het enigiets dan werklik verander? Mense word nie meer op brandstapels verbrand nie, maar baie sogenaamde Christene verkrag en vermoor steeds mense van ander godsdienste. God skep nie behae in sulke onverdraagsaamheid nie. Trouens, Jesus Christus, die een wat God se persoonlikheid volmaak weerspieël, het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—Johannes 13:35.

[Prent op bladsy 12]

Koningin Maria

[Erkenning]

Van die boek A Short History of the English People

[Prent op bladsy 13]

Latimer en Ridley het op die brandstapel gesterf

[Erkenning]

Van die boek Foxe’s Book of Martyrs

[Prent op bladsy 13]

Cranmer maak seker dat sy regterhand eerste brand

[Erkenning]

Van die boek The History of England (Vol. 1)

[Foto-erkenning op bladsy 12]

Rand: 200 Decorative Title-Pages/Alexander Nesbitt/Dover Publications, Inc.