Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe is sedes vandag?

Hoe is sedes vandag?

Hoe is sedes vandag?

Een oggend in April 1999 is die vrede in die dorp Littleton, naby Denver, Colorado, VSA, versteur. Twee jeugdiges met swart soldatejasse aan het by die plaaslike hoërskool ingestap en op leerlinge en onderwysers begin skiet. Hulle het ook bomme laat ontplof. Twaalf leerlinge en ’n onderwyser het gesterf, en meer as 20 is gewond. Die skuldiges het die bloedbad beëindig deur hulle eie lewe te neem. Hulle was net 17 en 18 jaar oud en het ’n groot haat teenoor sekere groepe gekoester.

ONGELUKKIG is die bogenoemde voorbeeld nie ’n losstaande geval nie. Koerante, radio en televisie vertel van soortgelyke gebeure regoor die wêreld. Volgens die Nasionale Sentrum vir Onderwysstatistiek is daar in 1997 ongeveer 11 000 gevalle van geweld waarby wapens betrokke was in Amerikaanse skole aangemeld. In Hamburg, Duitsland, het die gewelddadige voorvalle wat aangemeld is in 1997 met 10 persent toegeneem, en 44 persent van die verdagtes was jeugdiges onder 21.

Korrupsie is algemeen onder politici en regeringsamptenare. ’n Verslag deur ’n kommissaris van die Europese Unie (EU), Anita Gradin, het in 1998 aan die lig gebring dat die koste van korrupsie binne die EU gedurende 1997 ongeveer 8,6 miljard rand beloop het. Dit het alles ingesluit, van die kansellering van parkeerkaartjies tot bedrog in verband met die ontvangs van landbou- of ander EU-subsidies. Grootskaalse geldwassery en wapen- en dwelmsmokkelary is toegelaat, en EU-werknemers is deur kriminele organisasies omgekoop om stil te bly. Die hele EU-kommissie het in 1999 bedank.

Maar dit is nie net dié op die hoogste vlak van die samelewing wat oneerlik is nie. ’n Verslag van die EU-kommissie in verband met onwettige werkers het getoon dat tot 16 persent van die EU se bruto nasionale produk bestaan uit inkomste van ondernemings wat nie geregistreer is en wat nie belasting betaal nie. In Rusland verteenwoordig onwettige inkomste na bewering tot 50 persent van die totaal. Wat die Verenigde State betref, het die Vereniging van Gesertifiseerde Ondersoekers van Bedrogsake gesê dat Amerikaanse maatskappye jaarliks ver oor die 400 miljard dollar (ongeveer 2,5 biljoen rand) verloor weens werknemers wat geld of eiendom van hulle steel.

Baie pedofiele wat kinders en minderjariges probeer verlok om onwettige seksdade te pleeg, gebruik die Internet. Besorgdheid oor kinderpornografie op die Internet neem toe, sê ’n woordvoerder in Swede vir Red die Kinders. In 1997 het hierdie organisasie in Noorweë 1 883 wenke ontvang oor webruimtes op die Internet wat kinderpornografie bevat. Die volgende jaar was daar amper 5 000. Baie van die materiaal word gemaak in lande waar regerings- of plaaslike owerhede nie hierdie laakbare aktiwiteit kan beheer nie.

Was dit beter in die verlede?

Baie mense wat met afgryse vervul word deur die slegte toestand van sedes in vandag se wêreld dink moontlik met verlange terug aan die gemeenskapsgevoel wat in hulle ouers of grootouers se dag geheers het. Miskien het hulle gehoor dat mense destyds ’n baie rustiger lewe gelei het en dat eerlikheid en ander aspekte van sedelikheid op alle vlakke van die samelewing hoog op prys gestel is. Van die ouer garde het dalk vertel van die tyd toe hardwerkende mense mekaar gehelp het, gesinsbande sterk was en jongmense veilig gevoel het en hulle ouers op hulle plaas of in hulle werkswinkel gehelp het.

Dit lei tot die vrae: Het mense in die verlede werklik beter sedes gehad? Of is dit bloot nostalgie wat ons herinneringe van die verlede verwring? Kom ons kyk hoe geskiedkundiges en ander maatskaplike ontleders antwoord.

[Venster op bladsy 3]

’n Definisie van sedes

In hierdie artikels word die woord “sedes” gebruik in die sin van beginsels van reg en verkeerd in mensegedrag. Dit sluit in eerlikheid, waarheidliewendheid en hoë standaarde van gedrag in seksuele en ander sake.