Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Karakterspeletjies Ek het onlangs ’n nuwe rekenaar gekry. Ek wou net ’n paar speletjies speel, maar het op die ou end amper 16 uur aaneen gespeel! Toe ek besef wat gebeur het, het ek onmiddellik al die speletjies van my rekenaar afgehaal. Later het ek egter begin dink dat ek miskien ’n bietjie te drasties opgetree het. Maar dieselfde week het julle artikel “Jongmense vra . . . Hou karakterspeletjies enige gevaar in?” (22 Augustus 1999) verskyn. Ek het besef wat daardie speletjies aan my doen. Ek dank Jehovah dat hy hierdie gevaar onder my aandag gebring het.

L. H., Brasilië

Daar is ’n kaartspeletjie wat baie gewild is in Japan. Baie van die kaarte het sataniese name, byvoorbeeld “Gordyn van die swart duiwel”. Ek het so by die speletjie betrokke geraak dat my geestelikheid byna daarmee heen was. Uiteindelik het my ma my kaarte gevind en dit weggegooi. Die kaarte was nog steeds spesiaal vir my. Maar nadat ek hierdie artikel gelees het, voel ek anders. Ek het die artikel baie nuttig gevind.

K. N., Japan

Bloedlose geneeskunde Ek is 11 jaar oud, en die artikel “Is bloedoortappings werklik nodig?” (22 Augustus 1999) was vir my spesiaal. My suster het twee hartoperasies gehad. My ouers het gevra dat dit sonder bloed gedoen word. Ek het gedink dat sy sou sterf, maar dit is nou al drie jaar, en dit gaan goed met haar!

C. S., Verenigde State

Verkeerde perd! Ek het werklik die artikel “Die Oktober-skou—‘Europa se oudste internasionale perdemark’” (22 Maart 1999, Engelse uitgawe) geniet. Ek was egter verbaas om te sien dat die foto van ’n “skewbald cob” die byskrif “piebald cob” gehad het.

S. P., Suid-Afrika

Ons leser ken haar perde! Volgens die British Skewbald and Piebald Association het die “piebald cob” net swart en wit merke—anders as die “skewbald” in ons foto. Jammer vir die fout.—RED.

Gene Ek is 16 jaar oud, en ek stel baie belang in molekulêre biologie. Die reeks “Die geheim van jou gene word ontrafel” (8 September 1999) het ’n uitstekende balans tussen die eenvoudige en die ingewikkelde gehandhaaf. Ek het ’n boek gelees wat die geheime van DNS deeglik verduidelik het. Tot my groot verbasing het julle artikel al daardie materiaal gedek, maar in verstaanbaarder en duideliker terme.

S. R., Frankryk

Danksy die artikels het ek goeie punte in my biologie-eksamen gekry. Julle beskrywing van kernsure en hoe dit met die oorerflike eienskappe verband hou, was so eenvoudig en volledig!

D.A.N., Brasilië

Ek is ’n laerskoolonderwyseres, en ek het altyd gewonder hoe ek my leerlinge kon help om die samestelling van die menseliggaam te verstaan. Ek het die inligting in hierdie artikels eenvoudig genoeg gevind sodat my leerlinge dit kan verstaan, selfs al is ’n paar moeilike wetenskaplike terme bespreek. Die Ontwaak! het dit heel verstaanbaar gemaak.

K. M., Lesotho

Vrees om te vlieg Dankie! Maandag gaan ek die eerste keer vlieg, en ek is baie skrikkerig. Ek dink die hoofrede is omdat ek nie kan verstaan hoe ’n masjien wat so groot is, swaartekrag kan oorkom nie. Ek was dus baie bly toe ek die artikel sien, “Wat is nodig om hulle in die lug te hou?” (8 September 1999). Die wete dat lugrederye soveel voorsorg tref om seker te maak dat hulle vliegtuie veilig is—en selfs x-strale daarvan neem—het my gehelp om meer gerus te voel. Ek sal dus, ten spyte van my vrese, hierdie artikel byderhand hou en ek sal op daardie vliegtuig klim!

T. T., Verenigde State