Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat beteken dit alles?

Wat beteken dit alles?

Wat beteken dit alles?

AS JY sedelike standaarde in onlangse jare moes ontleed, sou jy ’n duidelike tendens sien. Daar bestaan geen twyfel nie, die sedelike standaarde van al hoe meer mense word in toenemende mate ondermyn. Wat beteken dit werklik?

Beteken dit, soos party mense beweer, dat ons hele beskawing en die ganse mensdom gedoem is en binnekort uitgeroei sal word? Of is sulke veranderinge net deel van die normale gang van die geskiedenis?

Baie mense dink so. Hulle beskou die sedelike verval van ons tyd as net ’n tendens, een van baie wat al in die geskiedenis gekom en gegaan het. Hulle glo vas dat dinge uiteindelik weer sal verander en dat hoër sedelike standaarde sal terugkeer. Is hulle reg?

“Die laaste dae”

Kom ons ondersoek die feite in die lig van ’n boek wat eeue lank as ’n algemeen aanvaarde gesag op die gebied van sedelike kwessies beskou is—God se Woord, die Bybel. Dit is baie insiggewend om vandag se wêreld met die Bybel se profetiese beskrywing van die beslissendste tyd in die mensegeskiedenis te vergelyk. Dit is die tydperk wat dit “die laaste dae” of “die voleinding van die stelsel van dinge” noem (2 Timoteus 3:1; Matteus 24:3). Soos hierdie uitdrukkings te kenne gee, sou hierdie tydvak die besliste einde van een tydperk en die begin van ’n nuwe aandui.

God se Woord het voorspel dat die laaste dae gekenmerk sou word deur ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’. Om waaksame waarnemers te help om die laaste dae te identifiseer, gee die Bybel ’n aantal besonderhede wat saam ’n duidelike beskrywing, of saamgestelde teken, van hierdie unieke tydperk voorsien.

Mense met slegte eienskappe

Let op een van die kenmerke van hierdie teken wat vandag opvallend is: ‘Mense sal ’n vorm van godvrugtige toegewydheid hê maar die krag daarvan verloën’ (2 Timoteus 3:2, 5). Geen ander tydperk in die geskiedenis is deur so ’n kragtige invloed tot algehele sekularisasie gekenmerk nie. God word oor die algemeen verwerp as die enigste gesag, en die meeste mense aanvaar nie die Bybel as die enigste bron van waarheid nie. Godsdienste bestaan natuurlik nog, maar baie van hulle het maar min invloed. Dit is pure skyn.

Die Bybel noem nog ’n kenmerk van die teken: “Mense sal . . . sonder selfbeheersing, wreedaardig” wees, en “weens die toename in wetteloosheid sal die liefde van die meeste verkoel” (2 Timoteus 3:2, 3; Matteus 24:12). Die Griekse woord wat as “wreedaardig” vertaal word, beteken onder andere “sonder menslike simpatie en gevoel”. Vandag openbaar kinders al hoe vroeër in hulle lewe ‘wreedaardige’ eienskappe, en hulle pleeg al hoe gewelddadiger misdade.

Daarbenewens het die vinnige veranderinge op tegniese en ekonomiese gebied, en die hebsug wat daarmee gepaardgaan, veroorsaak dat al hoe meer mense ou waardes opsy stoot. Sonder inagneming van ander maak hulle van enige beskikbare metode, selfs oneerlike metodes, gebruik om soveel as moontlik vir hulleself in te palm om hulle selfsugtige begeertes te bevredig. Die skerp styging in dobbelary is verdere getuienis van selfsug, en die misdaadstatistiek van die laaste paar dekades is ’n duidelike en onweerlegbare bewys hiervan.

’n Kenmerk wat in ons tyd besonder algemeen is, is hierdie een: “Mense sal . . . liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God [wees]” (2 Timoteus 3:2, 4). Een voorbeeld hiervan is dat mense sinsgenot wil hê, maar hulle wil nie die verantwoordelikheid hê om hulle hele lewe lank saam met een huweliksmaat te lewe nie. Die resultaat is ’n vloedgolf gebroke gesinne, ongelukkige en ontwortelde kinders, enkelouers en seksueel oordraagbare siektes.

’n Ander aspek van die teken is dat ‘mense liefhebbers van hulleself, liefhebbers van geld sal wees’ (2 Timoteus 3:2). Volgens die Duitse tydskrif Die Zeit “is selfsug die dryfkrag van [vandag se ekonomiese] stelsel”. Vandag meer as ooit tevore, is die najaging van geld die belangrikste ding in baie mense se lewe. In hierdie selfsugtige strewe word ander waardes geïgnoreer.

Wêreldgebeure

Die Bybel het nie net die agteruitgang van menslike waardes beskryf nie, maar het ook voorspel dat die laaste dae gekenmerk sou word deur buitengewone omwentelinge wat die mensdom sou raak. Dit sê byvoorbeeld dat “nasie . . . teen nasie [sal] opstaan en koninkryk teen koninkryk; en daar sal groot aardbewings wees, en op die een plek na die ander peste en voedseltekorte”.—Lukas 21:10, 11.

Daar was, buiten die 20ste eeu, nog nooit ’n tydperk in die geskiedenis waarin soveel mense gedurende so ’n beperkte tyd deur soveel wêreldskokkende rampe getref is nie. Byvoorbeeld, ver oor die 100 miljoen mense is gedurende daardie tyd in oorloë dood, baie meer as al die oorlogslagoffers van etlike vorige eeue tesame. Die 20ste eeu het vir ons twee oorloë opgelewer wat soveel van al die ander verskil het dat hulle wêreldoorloë genoem is. Wêreldomvattende konflikte soos hierdie het nog nooit tevore plaasgevind nie.

’n Bose dryfkrag

Die Bybel vertel ook van die bestaan van ’n magtige, bose geesskepsel, “die een wat Duiwel en Satan genoem word”, wie se doel dit is om mense van ware waardes af weg te lok en hulle sedelik verdorwe te laat word. Dit sê dat hy gedurende die laaste dae na die aarde neergedaal het ‘en groot toorn het, omdat hy weet dat hy ’n kort tydperk het’.—Openbaring 12:9, 12.

Die Duiwel word in die Bybel beskryf as “die heerser van die gesag van die lug, die gees wat nou in die seuns van die ongehoorsaamheid werk” (Efesiërs 2:2). Dit impliseer dat die Duiwel ’n kragtige invloed op baie mense het, gewoonlik sonder dat hulle dit agterkom, net soos ons soms nie agterkom dat daar ’n onsigbare besoedelstof in die lug is nie.

Satan se invloed word byvoorbeeld in talle moderne kommunikasiemiddele gesien: video’s, rolprente, televisie, die Internet, advertensies, boeke, tydskrifte en koerante. Baie materiaal, veral dié wat op niksvermoedende jongmense gemik is, is vol ekstremistiese en afstootlike neigings, soos rassisme, okkultisme, onsedelikheid en sadistiese geweld.

Baie opregte mense is verbaas oor die ooreenkomste tussen die beskrywing wat die Bybel gee van die laaste dae en die werklike toedrag van sake in die wêreld van ons dag. Daar was weliswaar party gebeure in die geskiedenis voor die 20ste eeu wat in ’n mindere mate by die Bybel se beskrywing gepas het. Maar dit is net gedurende die 20ste eeu, en nou die 21ste eeu, dat al die elemente van die teken gesien kan word.

Die komende nuwe tydvak

Nóg diegene wat glo dat die mensdom vernietig gaan word, nóg diegene wat beweer dat dinge dieselfde as altyd sal bly, is reg. Die Bybel toon eerder duidelik dat die huidige wêreldgemeenskap wat die aarde oorheers deur iets heeltemal nuuts vervang sal word.

Nadat Jesus verskeie kenmerke van die teken van die laaste dae genoem het, het hy gesê: “So moet julle, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, ook weet dat die koninkryk van God naby is” (Lukas 21:31). God se hemelse Koninkryk was die hooftema van Jesus se predikingswerk (Matteus 6:9, 10). En God het hom aangestel om die Koning van hierdie Koninkryk te wees, wat ’n regering is wat binnekort oor die hele aarde gaan regeer.—Lukas 8:1; Openbaring 11:15; 20:1-6.

Aan die einde van die laaste dae gaan God se hemelse Koninkryk in die hande van Christus almal vernietig wat vyande daarvan is—die Duiwel en diegene wat hom ondersteun—en vandag se sedelose gemeenskap met ’n regverdige nuwe wêreld vervang (Daniël 2:44). In hierdie nuwe wêreld sal regskapenes ewige lewe geniet op ’n aarde wat in ’n paradys omskep is.—Lukas 23:43; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4.

Diegene wat vandag se sedelike verval verafsku en onderskei dat die saamgestelde teken van die laaste dae in hedendaagse gebeure vervul word, kan na ’n wonderlike toekoms uitsien. Ons dank God die Almagtige hiervoor, wat besorg is oor ons as mense en ’n glorieryke voorneme vir sy skepping, die aarde, het.—Psalm 37:10, 11, 29; 1 Petrus 5:6, 7.

Jehovah se Getuies nooi jou om meer omtrent ons liefdevolle Skepper te leer en oor die vooruitsig om in ’n sedelik skoon wêreld te lewe, wat hy aan almal beloof wat daarna soek. Soos die Bybel sê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:3.

[Prent op bladsy 10]

Regskape mense sal die ewige lewe op ’n paradysaarde geniet