Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Buideldier wat spring-spring deur die lewe gaan

’n Buideldier wat spring-spring deur die lewe gaan

’n Buideldier wat spring-spring deur die lewe gaan

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN AUSTRALIË

“ELKE dag wanneer ek van die skool af gekom het, het Joey, my kangaroe, by die hek vir my gesit en wag”, vertel John. “Sodra ek die hek oopgemaak het, het hy opgespring en my met sy voorpote omhels, en ek het hom omhels. Dit was asof ons vir mekaar gesê het: ‘Dis lekker om jou te sien!’ Daarna het Joey soos ’n opgewonde hond op die oprit ’n paar meter vorentoe gespring, dan teruggespring, en die proses herhaal totdat ons by die huis gekom het.”

Mense wat in die Australiese bosveld woon, kan volgens die wet kangaroes as troeteldiere aanhou, soos John se gesin gedoen het. Hierdie kangaroes is gewoonlik wesies en is as kleintjies gered nadat hulle moeder gesterf het, miskien toe sy ’n pad probeer oorsteek het. Al is Joey die naam wat John sy kangaroe gegee het, is “joey” die algemene Engelse naam vir ’n babakangaroe.

Die babakangaroe se nuwe gesin wil hom natuurlik so gou as moontlik tuis laat voel. Een van die eerste dinge wat hulle dus doen, is om hom ’n buidel te gee. Hulle kies ’n beskutte plek—net die regte afstand van die kaggel af—en daar hang hulle ’n groot, sterk lapsak met ’n gleuf daarin wat soos ’n kangaroewyfie se buidel lyk. Dan sit hulle die babakangaroe daarin met ’n bottel warm, spesiaal voorbereide melk. So word baie babakangaroes gehelp om aan die lewe te bly. Hulle is gou tuis in hulle nuwe buidel en duik kop eerste in die sak, asof dit hulle ma se buidel is.

Hoe beskryf ’n mens ’n kangaroe?

Diere wat hulle kleintjies in ’n buidel grootmaak, word buideldiere genoem. Daar is ongeveer 260 buideldiersoorte, en dit sluit kangaroes, koalabere, buidelmuise, buideldassies en buidelrotte in, die enigste soort wat inheems in Noord-Amerika is. ’n Mens kan verstaan waarom vroeë ontdekkingsreisigers dit moeilik gevind het om hierdie ongewone diere, veral die kangaroe, aan die mense in hulle tuisland te beskryf. Die eerste persoon wat die woord “kangaroo” in Engels geskryf het, was die Britse ontdekkingsreisiger kaptein James Cook. Hy het gesê die dier lyk soos ‘’n windhond wat soos ’n haas of ’n bok spring’. Toe mense later in Londen ’n lewendige kangaroe gesien het, het dit groot opgewondenheid veroorsaak.

Kangaroes het groot ore en ’n kop soos dié van ’n bok. Hulle klein maar kragtige voorpote lyk soos ’n mens se arms, veral wanneer die kangaroe regop staan. Kangaroes het ook groot, gespierde heupe; ’n lang, dik, seningrige stert en natuurlik groot pote—’n kenmerk wat gemaak het dat hulle “Macropodidae” genoem word, wat “lang voete” beteken.

Van die sowat 55 soorte Macropodidae is sommige so groot soos ’n man en ander so klein soos ’n rot. Alle Macropodidae het kort voorpote en lang agterpote om mee te spring. Rooikangaroes, gryskangaroes en wallaroes, of reusebergkangaroes, is die grootste. Een rooikangaroemannetjie was ongeveer twee meter van sy neus tot by die punt van sy stert en het 77 kilogram geweeg. Kleiner kangaroesoorte word wallabies genoem.

Het jy al ooit ’n kangaroe gesien of van een gehoor wat in bome lewe? Wel, of jy dit nou wil glo of nie, kangaroes het ’n “apie” in die familie—die boomkangaroe. Hierdie ratse diere met hulle korter bene, wat in die tropiese reënwoude van Nieu-Guinee en die noordooste van Australië voorkom, is so tuis in bome dat hulle ongeveer nege meter ver van een tak of boom na ’n ander kan spring. Snags kom hulle af na die woudvloer, waar hulle hoofsaaklik kruie en wurms eet.

Vinnig, grasieus, doeltreffend

Wanneer kangaroes stadig beweeg, lyk hulle maar lomp. Hulle stert en kort voorpote word ’n driepoot wat hulle gewig dra terwyl hulle hulle agterpote vorentoe bring. Maar hulle is grasieus wanneer hulle vinniger voortbeweeg. En wanneer hulle teen 50 kilometer per uur spring, gebruik hulle hulle groot stert om hulle balans te behou. Volgens The World Book Encyclopedia “kan [hulle] ’n topsnelheid van meer as 60 kilometer per uur bereik”. ’n Groot kangaroe kan ’n sprong van 9 tot 13,5 meter gee wanneer hy in volle vaart is—’n mens sou amper kon dink hy vlieg!

Kangaroes is nie net vinnig nie, maar maak ook goed gebruik van hulle energie. Professor Uwe Proske, van Monash-universiteit in Melbourne, Australië, sê dat ’n kangaroe se suurstofverbruik dit vir hom moontlik maak om minder energie te gebruik wanneer hy teen ’n hoër spoed spring as teen ’n laer spoed. Proske het ook bereken dat “’n kangaroe wat teen 20 kilometer per uur of meer spring minder energie gebruik as ’n vierpotige plasentale soogdier [’n soogdier wat by geboorte ten volle ontwikkeld is, soos ’n hond of ’n bok] van min of meer dieselfde gewig en wat teen dieselfde spoed hardloop”. Danksy die kangaroe se goeie energieverbruik wanneer hy spring, kan hy lang afstande aflê sonder om moeg te word. Maar hoe kry die kangaroe dit reg om sy energie so goed te gebruik?

Die geheim lê in sy lang haksenings. “Dit is asof kangaroes op pare spiraalvere spring”, sê Proske. Soos die senings wat aan die mens se kuitspier vas is, rek die kangaroe se haksening wanneer hy land en pers dit saam wanneer hy spring. Ongeag hoe vinnig kangaroes voortbeweeg, hulle gee meestal dieselfde aantal spronge per sekonde (ongeveer twee vir ’n rooikangaroe). Wanneer hulle vinniger wil gaan, verleng hulle eenvoudig elke sprong. Dis net wanneer ’n kangaroe skrikgemaak word dat hy ’n paar kort, vinnige spronge sal gee sodat hy vinniger kan wegkom.

Kangaroes is ook uitstekende swemmers. Hulle gebruik nie net hulle kragtige bene nie, maar swaai ook hulle stert heen en weer, wat hulle vinniger laat swem. Wanneer kangaroes deur honde gejaag word, sal hulle soms hulle vermoë as swemmers gebruik en in ’n poel of ’n rivier spring. Enige hond wat dapper genoeg is om agter die kangaroe aan in te spring, word onmiddellik onder die water ingedruk. Die kangaroe doen dit deur sy sterk voorarms en pote te gebruik wat elk vyf vingers het en met skerp naels gewapen is. John, wat aan die begin gemeld is, het twee honde gehad wat amper deur ’n wilde kangaroemannetjie verdrink is toe hulle in ’n klein opvangdam op die gesin se werf slaags geraak het.

Die wonder van geboorte by buideldiere

Hoewel volwasse kangaroes taai en sterk is, is hulle baie onderontwikkeld en delikaat by geboorte. Hulle lyk amper soos ’n pienk wurm, is ongeveer 2,5 sentimeter lank, weeg maar ’n paar gram en word haarloos, blind en doof gebore. Maar danksy sy goed ontwikkelde voorpootjies wat met kloutjies toegerus is en sy reuksin, kruip die klein “wurmpie” instinktief deur sy ma se hare tot in haar buidel. Wanneer hy in die buidel is, heg hy hom aan een van die vier tepels. Die punt van die tepel swel onmiddellik tot ’n bolletjie binne-in die kleintjie se mond, wat hom etlike weke lank stewig in daardie posisie hou. Wanneer ’n mens dink aan hoe die moeder voortbeweeg, is ’n stewige anker beslis voordelig! Trouens, hierdie anker is so goed dat vroeë waarnemers aangeneem het dat die kleintjie uit die tepel gegroei het!

Uiteindelik sal die kangaroetjie natuurlik tot die stadium groei waar hy die buidel sal verlaat, al is dit aan die begin net tydelik. Ná sewe tot tien maande, wanneer hy heeltemal gespeen is, sal hy egter die buidel permanent verlaat. Maar kom ons gaan terug in tyd tot wanneer die kangaroetjie hom aan ’n tepel geheg het, en dan kyk ons na nog ’n wonder van kangaroevoortplanting.

’n Paar dae nadat die kleintjie hom aan sy moeder se tepel geheg het, paar sy weer. Die embrio wat dan ontwikkel, groei ongeveer ’n week lank, maar hou dan op groei, terwyl sy ouer boetie verder in die buidel ontwikkel. Wanneer die ouer, maar nog steeds ongespeende boetie die buidel verlaat, begin die embrio in die baarmoeder weer groei. Ná ’n dratyd van 30 dae heg hy hom ook aan ’n tepel, maar nie die een waaraan sy ouer boetie gesoog het nie.

Hierin lê ’n ander wonder van kangaroebiologie. Die moeder gee vir haar jongste kleintjie een soort melk en vir die ouer een ’n ander soort. Scientific American het hieroor kommentaar gelewer en gesê: “Die twee soorte melk wat deur die verskillende melkkliere afgeskei word se volume en samestelling verskil heelwat. Hoe dit onder dieselfde hormonale toestande kan plaasvind, is ’n fassinerende vraag.”

Waar ’n mens kangaroes kan sien

As jy kangaroes in hulle natuurlike omgewing wil sien, moet jy bereid wees om die stad te verlaat en na die Australiese bosveld, of die Agterveld, te gaan. Wanneer kangaroes na gras en klein plantjies soek om te vreet, kan hulle individueel sowel as in kleiner groepe of in groter troppe gevind word, wat deur ’n groot kangaroemannetjie gelei word. Omdat kangaroes hoofsaaklik in die aand wei en gedurende die warmste deel van die dag in die skaduwee rus (waar hulle goed gekamoefleer is), is vroeg in die oggend of wanneer dit skemer word ’n goeie tyd om hulle te sien. Maar in koeler weer is hulle soms regdeur die dag bedrywig. Hoe dit ook al sy, bring gerus ’n telefotolens en ’n verkyker—wilde kangaroes is baie sku.

Jy kan kangaroes natuurlik ook in die meeste dieretuine, natuurreservate en nasionale parke oral in Australië asook in party ander lande sien. Gereelde blootstelling aan mense het hierdie kangaroes minder sku gemaak, en daarom behoort jy ’n paar mooi naby foto’s te kan neem, miskien selfs van ’n ma met ’n kangaroetjie wat by haar buidel uitloer. Groter kangaroetjies laat ’n mens altyd glimlag wanneer hulle in hulle ma se buidel induik en hulle lang agterpote by die buidel uitsteek, sodat die kangaroewyfie soos ’n oorvol winkelsak lyk. (Dit lyk omtrent of jong kangaroes net uit lang bene bestaan!) ’n Mooi mannetjie sal miskien selfs in ’n regop, statige posisie vir jou poseer. Wie weet? Miskien sien jy selfs ’n paar groot mannetjies wat regop staan, so hoog as wat hulle lang, seningrige bene hulle sal toelaat, en met mekaar boks!

Maar die hoogtepunt vir baie is om te sien hoe ’n groot rooi- of gryskangaroemannetjie in volle vaart spring. Ander diere kan seker vinniger hardloop of hoër spring, maar by geen ander dier sal jy so ’n merkwaardige kombinasie van grasie, krag en veerkragtigheid op net twee sterk bene sien nie.

[Prent op bladsy 17]

Die geheim van sy veerkragtige sprong is sy lang haksenings