Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Lewende geloof te midde van tragedie

’n Lewende geloof te midde van tragedie

’n Lewende geloof te midde van tragedie

BYNA 60 jaar gelede het Mina Esch ’n poskaart van haar man, Peter, ontvang. Die handgeskrewe boodskap was kort en vaag. Sy was nietemin bly en verlig dat sy dit ontvang het. Mina se man was ’n gevangene in die Buchenwald-konsentrasiekamp en is deur die Nazi-regering soontoe gestuur omdat hy een van Jehovah se Getuies was. Op die agterkant van die poskaart was hierdie paar woorde: “Die gevangene is nog steeds ’n hardnekkige Bybelstudent [soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het] . . . Daarom word die voorreg van korrespondensie, wat andersins toelaatbaar sou wees, hom ontsê.” Hierdie boodskap was vir Mina ’n aanduiding dat Peter nog getrou was aan sy geloof.

Die poskaart, wat nou oud is en geel geword het, is in bruikleen in die Joodse Erfenismuseum—’n Lewende Herinnering aan die Slagting, en is in Battery Park, in die stad New York, geleë. Die poskaart, tesame met ’n foto van Peter Esch, vertel saam met die res van die uitstalling ’n klein deel van die verhaal van ’n enorme mensetragedie—die Slagting—waartydens sesmiljoen Jode gesterf het. Die museum se hoofuitstalling bevat meer as 2 000 foto’s en 800 voorwerpe van geskiedkundige en kulturele waarde wat die ondervindinge van die Joodse gemeenskap van die 1880’s tot vandag toe uitbeeld, insluitende die Slagting. Waarom is die Joodse Erfenismuseum ’n geskikte plek om Peter Esch se brief uit te stal?

“Die mandaat van die museum is om Joodse geskiedenis uit te beeld”, het die museumgeskiedkundige dr. Jud Newborn verduidelik. “Jehovah se Getuies is vervolg as gevolg van wie hulle was. Die Getuies is uitsluitlik weens hulle godsdiensoortuigings vervolg, asook omdat hulle nie in rassisme geglo het of aan ’n bose, wêreldse diktator trou wou sweer nie. En hulle het geweier om sy oorlog te ondersteun. . . . Jode het gestry om hulle waardes en hulle geloof voor kwaai teenstand te handhaaf. Die museum gedenk sulke geestelike weerstand. Om hierdie rede erken en bewonder hierdie inrigting ook die geloof van Jehovah se Getuies gedurende die Nazi-era.”

In sy tydelike tuiste in die Joodse Erfenismuseum vertel ’n eenvoudige brief van die stryd van een man wie se lojaliteit aan Jehovah op die proef gestel is. Peter Esch het sy verskriklike ondervinding in die Nazi-kamp oorleef, sy geloof ongeskonde.

[Prent op bladsy 31]

Joodse Erfenismuseum, in die stad New York

[Prente op bladsy 31]

Esch, een van Jehovah se Getuies, is van 1938 tot 1945 gevange gehou omdat hy geweier het om sy geloof te verloën