Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Christelike liefde versus ’n vulkaan

Christelike liefde versus ’n vulkaan

Christelike liefde versus ’n vulkaan

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KAMEROEN

’N WOEDENDE reus het verlede jaar in die Wes-Afrikaanse land Kameroen uitgebars. Die berg Kameroen is ’n vulkaan wat 4 070 meter bo seevlak uittoring. Hierdie uitbarsting—die berg se vyfde gedurende die 20ste eeu—was volgens berig die vulkaan se grootste en vernietigendste uitbarsting tot nog toe.

Die eerste ramp het die gebied op Saterdagmiddag, 27 Maart 1999, getref. Ooggetuies in die dorpie Buea, wat aan die voet van die berg geleë is, het vertel dat mure, huise en selfs bome erg geskud het. Die volgende aand, ongeveer halfnege, het die sterkste en vernietigendste skudding die gebied getref. Dit is 70 kilometer daarvandaan in Douala gevoel. Die voorblad van Le Messager van Dinsdag, 30 Maart 1999, het gesê: “Uitbarsting van berg Kameroen—Vuur bedreig 250 000 mense.” Dit het verder gesê: “Die aarde het 50 keer in twee dae geskud; 4 kraters het reeds verskyn; honderde huise vernietig; die presidensiële paleis in Buea in puin.”

Ongeveer 80 Getuies van Jehovah woon in Buea. Baie huise is onherstelbaar beskadig, onder andere een wat as ’n Koninkryksaal gebruik is. Maar niemand het hulle lewe verloor nie.

Christelike liefde in aksie

Christelike liefde het vinnig tot aksie oorgegaan om verligting te bring van die verwoesting wat deur hierdie woedende reus veroorsaak is. ’n Noodlenigingskomitee is aangestel, die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies het gereël dat uiters noodsaaklike fondse voorsien word en honderde gewillige Getuies het liefdevol van hulle tyd, energie en geld opgeoffer.

Gemeentes van Jehovah se Getuies het voedsel gestuur. Een Getuie het 1 000 sementboublokke geskenk. Iemand anders het gereël dat aluminiumdakplate teen ’n lae prys gekoop word. Nog een het 16 kilometer geloop om timmerhout te kry. ’n Jong man wat geld gespaar het om die bruidsprys aan sy toekomstige skoonouers te betaal, het sy troue uitgestel en die geld gebruik om sy kettingsaag reg te maak. Toe het hy in die woud ingegaan waar hy in drie weke genoeg hout gesaag het om ’n huis te bou! Sterk jong Christenbroers het die hout vyf kilometer ver op hulle kop gedra na waar ’n vragmotor dit opgelaai het.

Die herbouing het op 24 April begin toe 60 vrywilligers by die rampgebied opgedaag het. Gedurende die daaropvolgende naweke het daardie getal tot 200 toegeneem. Drie Getuies wat voltyds werk, het ná werk gekom en tot goed ná middernag gebou. ’n Getuie van Douala het die hele oggend sekulêre werk gedoen; dan het hy 70 kilometer ver op sy motorfiets gery en tot middernag gewerk voordat hy weer huis toe gegaan het. Ses huise is in minder as twee maande voltooi. Intussen het die Buea-gemeente voortgegaan om vergaderinge in ’n huis te hou, hoewel die vergaderingbywoning omtrent dubbel die aantal gemeentelede was.

Gedurende hierdie selfde tyd het die noodlenigingskomitee meer as 40 000 tablette versprei om besmette water te suiwer en hospitaalsorg aan ongeveer tien mense voorsien wat asemhalingsiektes weens giftige gas en vulkaniese as gehad het. Hoe het diegene gereageer wat hierdie Christelike liefde in aksie gesien het?

’n Oorwinning vir Christelike liefde

Nadat ’n man van die Provinsiale Afvaardiging vir Landbou een van die huise gesien het wat die broers gebou het, het hy gesê: “Die huis is self ’n groot getuienis . . . , ’n aanduiding van liefde.” ’n Onderwyser het gesê: “Ek het in my lewe nog nooit so iets gesien nie. . . . Dit is werklik ’n teken van ware Christelikheid.”

Diegene wat persoonlik baat gevind het, het ook hulle gevoelens uitgespreek. Timothy, wat 65 jaar oud en sieklik is, het geskryf: “Elke keer wanneer ons na ons nuwe huis kyk, kry ons trane van vreugde in ons oë. Ons kan nie ophou om Jehovah te dank vir wat hy vir ons gedoen het nie.” ’n Weduwee wat nie een van Jehovah se Getuies is nie, is saam met haar vier kinders sonder heenkome gelaat toe hulle huis inmekaargestort het. Toe het die mense wat gehuur is om haar te help, haar dakmateriaal gesteel. Die Getuievrywilligers het haar toe gehelp. Sy het gesê: “Ek weet nie hoe ek dankie kan sê nie. My hart is vol vreugde.” Elizabeth, die vrou van ’n Christen- ouer man, het opgemerk: “Ek is bly dat daar liefde in Jehovah se organisasie is. Dit toon dat ons die lewende God dien.”

Die vulkaniese uitbarsting was baie groot, maar dit kon nie die Christelike liefde van hierdie broederskap uitdoof nie. Dit is soos die apostel Paulus geïnspireer is om te skryf: “Die liefde faal nooit nie.”—1 Korintiërs 13:8.

[Prente op bladsy 16]

Riviere van gesmelte lawa het baie verwoesting veroorsaak

[Prent op bladsy 17]

Vrywilligers het hard gewerk om beskadigde huise te herstel

[Prent op bladsy 16, 17]

Berg Kameroen