Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Geneties gewysigde voedsel—Is dit veilig?

Geneties gewysigde voedsel—Is dit veilig?

Geneties gewysigde voedsel—Is dit veilig?

NA GELANG van waar jy woon, het jy dalk vandag geneties gewysigde (GG) voedsel in jou ontbyt, middagete of aandete gehad. Dit was moontlik in die vorm van aartappels met ’n ingeboude insekafweermiddel of tamaties wat langer ferm bly nadat dit gepluk is. In elk geval, die GG-voedsel of -bestanddeel is moontlik nie op die etiket aangedui nie, en jy kon skaars proe dat dit nie die natuurlike produk is nie.

Terwyl jy nou hier lees, groei GG-gewasse, soos sojabone, mielies, raapsaad en aartappels, in Argentinië, Brasilië, China, Kanada, Mexiko en die Verenigde State. Volgens een verslag “was 25 persent van die mielies, 38 persent van die sojabone en 45 persent van die katoen wat teen 1998 in die Verenigde State verbou is geneties gewysig, met die doel om die gewasse bestand te maak teen onkruiddoders of om hulle eie plaagdoders te vervaardig”. Teen die einde van 1999 het GG-gewasse ongeveer 40 miljoen hektaar van die kommersiële verbouing regoor die wêreld uitgemaak, hoewel dit nie alles voedselgewasse is nie.

Is geneties gewysigde voedsel veilig? Hou die wetenskaplike tegnieke wat gebruik word om GG-gewasse te kweek enige gevaar vir die omgewing in? In Europa is die geskil oor GG-voedsel besig om al hoe intenser te word. Een persoon van Engeland wat gekant is teen GG-voedsel het gesê: “My enigste beswaar teen geneties gewysigde voedsel is dat dit onveilig, ongewens en onnodig is.”

Hoe word voedsel geneties gewysig?

Die wetenskap wat vir GG-voedsel verantwoordelik is, word voedselbiotegnologie genoem—die gebruik van moderne genetika om plante, diere en mikro-organismes vir voedselproduksie te verbeter. Die konsep om aan lewende dinge te peuter, is natuurlik amper so oud soos boerdery self. Die eerste boer wat sy beste bul met die beste koei in sy trop laat teel het om die veestapel te verbeter, pleks van die diere toe te laat om vryelik te teel, het ’n eenvoudige vorm van biotegnologie toegepas. Die eerste bakker wat gisensieme gebruik het om brood te laat rys, het ook ’n lewende organisme gebruik om ’n beter produk te kry. Die een gemeenskaplike kenmerk van hierdie tradisionele tegnieke was die gebruik van natuurlike prosesse om veranderinge in voedsel teweeg te bring.

Moderne biotegnologie maak eweneens van lewende organismes gebruik om produkte te maak of te wysig. Maar anders as tradisionele metodes maak moderne biotegnologie die regstreekse en presiese wysiging van die genetiese materiaal van organismes moontlik. Gene kan tussen heeltemal onverwante organismes oorgedra word, sodat kombinasies gevorm kan word wat waarskynlik nie normaalweg sal voorkom nie. Kwekers kan nou eienskappe van ander organismes neem en dit in die genoom van ’n plant sit—byvoorbeeld vriesbestandheid van visse, siektebestandheid van virusse en insekbestandheid van grondbakterieë.

Gestel ’n boer wil nie hê dat sy aartappels of appels bruin moet word nadat dit gesny of gekneus word nie. Navorsers kan dit moontlik maak deur die geen wat vir hierdie bruinwording verantwoordelik is te verwyder en dit met ’n gewysigde reeks te vervang wat bruinwording verhinder. Of kom ons veronderstel dat ’n beetboer sy beet vroeër wil plant sodat hy ’n beter oes kan kry. Gewoonlik kan hy nie, want die beet sal in die koue weer vries. Biotegnologie word dan gebruik om die gene van vis wat maklik in koue water oorleef in die beet oor te plant. Die resultaat is ’n GG-beet wat bestand is teen temperature van tot -6,5°C, meer as twee keer kouer as die laagste temperatuur waarteen beet gewoonlik bestand is.

Sulke eienskappe wat die resultaat van enkelgeenoordragings is se doeltreffendheid is egter beperk. Om komplekser eienskappe te wysig, soos groeitempo of droogtebestandheid, is ’n heeltemal ander saak. Die moderne wetenskap kan nog nie hele groepe gene manipuleer nie. Baie van hierdie gene is immers nog nie eers ontdek nie.

’n Nuwe groenrevolusie?

Selfs die beperkte genetiese wysiging van gewasse vul voorstanders van biotegnologie met optimisme. Hulle sê dat ons met GG-gewasse ’n nuwe groenrevolusie te wagte kan wees. ’n Leier in die biotegnologiese bedryf sê dat genetiese manipulering “’n belowende instrument is in die poging om meer voedsel te verskaf” aan ’n wêreldbevolking wat daagliks met ongeveer 230 000 mense toeneem.

Sulke gewasse het reeds gehelp om die koste van voedselproduksie te verminder. Voedselplante is met ’n geen versterk wat ’n natuurlike plaagdoder vervaardig sodat dit onnodig is om groot hoeveelhede giftige chemiese middels oor hektare gewasse te spuit. Die gewysigde gewasse waaraan daar tans gewerk word, sluit bone en graan in met ’n baie hoër proteïeninhoud—wat groot voordele vir armer wêrelddele inhou. Sulke “superplante” kan hulle nuttige nuwe gene en eienskappe aan toekomstige geslagte oordra, wat tot groter oeste op marginale land in arm, oorbevolkte wêrelddele sal lei.

“Daar kan beslis baie ten gunste daarvan gesê word om die lot van die boere van hierdie wêreld te verbeter”, het die besturende direkteur van ’n vooraanstaande biotegnologiese firma gesê. “En ons sal dit doen—deur biotegnologie te gebruik om op die molekulêre en enkelgeenvlak te doen wat plantkwekers al eeue lank op die ‘heelplantvlak’ doen. Ons sal beter produkte skep, wat in spesifieke behoeftes sal voorsien, en ons sal dit vinniger as ooit tevore doen.”

Maar volgens landboukundiges is die haas om genetiese manipulering as ’n oplossing vir die voedseltekorte in die wêreld te bevorder, besig om huidige navorsing oor gewasse te ondermyn. Hoewel dit minder opwindend is, is hierdie navorsing doeltreffender, en dit kan ook die armer wêrelddele bevoordeel. “Ons moenie deur hierdie onbeproefde tegnologie aangedryf word wanneer daar baie doeltreffender oplossings vir voedselprobleme is nie”, sê Hans Herren, ’n kenner op die gebied van plantsiektebestryding.

Etiese bekommernisse

Benewens die moontlike openbare gesondheidsgevare en omgewingsrisiko’s voel party dat die genetiese wysiging van gewasse en ander lewende organismes morele en etiese probleme skep. Die wetenskaplike en aktivis Douglas Parr het gesê: “Genetiese manipulering steek ’n basiese grens oor in die mens se manipulering van die planeet—die verandering van die aard van lewe self.” Jeremy Rifkin, skrywer van die boek The Biotech Century, het dit soos volg gestel: “Wanneer jy eers alle biologiese grense kan oorsteek, begin jy ’n spesie bloot as genetiese inligting beskou waaraan verander kan word. Dit bring ons by ’n hele nuwe begrip van nie net ons verhouding met die natuur nie, maar ook die manier waarop ons dit gebruik.” Hy het gevolglik gevra: “Het lewe werklike waarde of net gebruikswaarde? Wat is ons verpligting teenoor toekomstige geslagte? Watter verantwoordelikheid het ons teenoor die spesies waarmee ons die aarde deel?”

Ander persone, wat prins Charles van Engeland insluit, voer aan dat “ons die sfeer betree wat aan God, en aan God alleen, behoort” wanneer ons gene tussen heeltemal onverwante spesies oordra. Bybelstudente glo vas dat God “die fontein van die lewe” is (Psalm 36:10). Daar is egter geen werklike bewyse dat God gekant is teen die gebruik van teeltkeuse by diere en plante nie, iets wat ons planeet gehelp het om die miljarde mense daarop van voedsel te voorsien. Net die tyd sal leer of moderne biotegnologie mense en die omgewing skade sal berokken. As biotegnologie werklik inbreuk maak op ‘die sfeer wat aan God behoort’, kan hy—uit liefde en besorgdheid vir die mens—sulke ontwikkelinge ongedaan maak.

[Venster op bladsy 26]

Moontlike gevare?

Biotegnologie het teen so ’n verbysterende pas gevorder dat nie die wet of beheerliggame daarmee kan tred hou nie. Navorsers kan nouliks begin om onvoorsiene gevolge te keer. Al hoe meer kritici waarsku teen onbeplande gevolge, van ernstige ekonomiese ontwrigting vir die wêreld se boere tot vernietiging van die omgewing en bedreigings vir mense se gesondheid. Navorsers waarsku dat daar geen langtermyn, uitgebreide toetse is om die veiligheid van geneties gewysigde (GG) voedsel te bewys nie. Hulle noem ’n paar moontlike gevare.

Allergiese reaksies. As ’n geen wat proteïen vervaardig byvoorbeeld in mielies beland, en hierdie proteïen allergiese reaksies veroorsaak, kan mense wat vir sekere soorte voedsel allergies is aan groot gevaar blootgestel wees. Ondanks die feit dat voedselbeheerliggame vereis dat maatskappye hulle in kennis stel as gewysigde voedsel enige probleemproteïene bevat, vrees party navorsers dat onbekende allergene deur die stelsel kan glip.

Meer gifstowwe. Party kenners glo dat genetiese manipulering die vlak van natuurlike gifstowwe in plante op onverwagte maniere kan verhoog. Wanneer ’n geen aktief word, kan dit benewens die gewenste uitwerking ook die vervaardiging van natuurlike gifstowwe aan die gang sit.

Bestandheid teen antibiotika. As deel van die genetiese wysiging van plante gebruik wetenskaplikes sogenaamde merkergene om te bepaal of die gewenste geen suksesvol ingeplant is. Aangesien die meeste merkergene teen antibiotika bestand is, vrees kritici dat dit tot die toenemende probleem van bestandheid teen antibiotika kan bydra. Ander wetenskaplikes sê egter weer dat sulke merkergene geneties geskommel word voor hulle gebruik word, wat hierdie gevaar verminder.

Verspreiding van “superonkruid”. Een van die grootste vrese is dat “superonkruid” geskep sal word wat teen onkruiddoders bestand is deurdat gene van gewysigde gewasse deur middel van sade en stuifmeel na verwante, onkruidagtige plante oorgedra sal word.

Bedreiging vir ander organismes. In Mei 1999 het navorsers van Cornell-universiteit berig dat koningvlinderruspes wat blare geëet het waarop daar stuifmeel van GG-mielies was, siek geword het en toe dood is. Hoewel party die geldigheid van hierdie studie bevraagteken, is sommige nogtans besorg dat ander nie-teikenspesies benadeel kan word.

Ondoeltreffendheid van veilige plaagdoders. Van die suksesvolste GG-gewasse is dié met ’n geen wat ’n proteïen vervaardig wat giftig vir insekplae is. Maar bioloë waarsku dat dit plae sal help om weerstand op te bou as hulle aan die gifstof blootgestel word wat deur hierdie geen vervaardig word, wat plaagdoders dus nutteloos sal maak.