Ons beskou die wêreld
Ons beskou die wêreld
Tabakmaatskappy erken rook veroorsaak kanker
Nadat hulle dekades lank die bevindinge van verskeie mediese gesaghebbendes betwis het, erken Philip Morris, die grootste sigaretvervaardiger in die Verenigde State, nou dat rook longkanker en ander dodelike siektes veroorsaak. ’n Persverklaring wat deur die maatskappy uitgereik is, sê: “Daar is oorweldigende mediese en wetenskaplike eenstemmigheid dat sigaretrook longkanker, hartsiekte, emfiseem en ander ernstige siektes by rokers veroorsaak.” The New York Times sê dat “die maatskappy voorheen aangevoer het . . . dat rook ’n ‘risikofaktor’ of ’n ‘oorsaaklike faktor’ by siektes soos longkanker is, en nie dat dit die siektes veroorsaak nie”. Maar ten spyte van hierdie erkenning sê die maatskappy: “Ons is baie trots op ons sigarette en die advertensieveldtogte wat dit oor die jare ondersteun het.”
Landmerke wat verdwyn
Die graansilo’s van Kanada se westelike prêries is stadig besig om te verdwyn. In 1933 was daar die meeste graansilo’s toe 5 758 oor die platteland versprei was. Sedertdien het dit tot 1 052 verminder. Die rede? Een persoon wat toegekyk het hoe ’n graansilo gesloop word, het met weemoed gesê: “Tye het soveel verander. Landbou is nou ’n nywerheid. Die familieplaas is besig om uit te sterf. En so ook die graansilo’s.” Prêries sonder graansilo’s sal amper soos Venesië sonder kanale, New York sonder wolkekrabbers of Brittanje sonder kroeë wees”, sê die tydskrif Harrowsmith Country Life. Bewaringsgroepe beywer hulle vir die bewaring van wat as ’n argitektoniese simbool van die Kanadese vlaktes beskou word. Een graansilo is in ’n museum omskep en ’n ander in ’n restaurant-teater.
Nooit genoeg tyd nie
Regdeur Europa voel al hoe meer mense dat hulle te min tyd het, berig die Duitse koerant Gießener Allgemeine. Dit geld vir alle mense, hetsy hulle by die werk is, huiswerk doen of ontspanning geniet. “Mense slaap minder, eet vinniger en voel meer gejaag by die werk as 40 jaar gelede”, sê die sosioloog Manfred Garhammer, van die Universiteit van Bamberg. Hy het gevind dat die daaglikse lewenstempo toegeneem het in al die Europese lande wat hy bestudeer het. Arbeidbesparende huishoudelike toestelle en ’n vermindering in werksure het nie ’n “ontspanne gemeenskap” of “’n oorvloed tyd” meegebring nie. Pleks daarvan is daar gemiddeld 20 minute minder om ’n maaltyd te geniet en 40 minute minder vir nagrus.
Australië se dobbelverslawing
“Dobbelary is nou ’n ernstige gesondheidskwessie in Australië, en dit raak ten minste 330 000 chroniese dobbelaars direk”, berig The Australian. Volgens die koerant is meer as 1 uit elke 5 elektroniese dobbelmasjiene in die wêreld in Australië, waar 82 persent van die volwassebevolking dobbel. ’n Kommissie wat Australië se dobbelbedryf ondersoek het, het gevind dat 2,3 persent van volwasse Australiërs ’n ernstige dobbelprobleem het. Van hulle het 37 persent al selfmoord oorweeg, meer as 11 persent het al selfmoord probeer pleeg, en 90 persent het gesê dat hulle aan ernstige depressie ly weens hulle dobbelgewoonte. Die kommissie het gevra dat dobbelbedrywighede deeglik hersien moet word en het voorgestel dat hulle waarskuwingstekens in dobbellokale aanbring.
Beveg stres
Ly jy aan stres? Volgens die koerant El Universal gee die Mexikaanse Instituut vir Bestaansekerheid die volgende wenke om stres te help beveg. Slaap soveel as wat jou liggaam vereis—tussen ses en tien uur per dag. Eet ’n volledige en gebalanseerde ontbyt, ’n middagete van gemiddelde grote en ’n ligte aandete. Kenners beveel ook gewoonlik aan dat jy minder voedselsoorte met ’n hoë vetinhoud moet eet, minder sout moet inneem en, ná die ouderdom van 40, jou inname van melk en suiker moet verminder. Probeer tyd vind vir stil bepeinsing. Verminder stres verder deur na aan die natuur te bly.
Giftige skoonheid
’n Kosmetiese prosedure wat behels dat ’n mens met die dodelike gifstof botulien ingespuit word, word nou gebruik om gesigsplooie te verwyder, berig The Toronto Star. Die gifstof verlam spesifieke gesigspiere, wat binne ’n paar dae hulle spanning verloor sodat plooie versag. Die behandeling duur ongeveer vier maande en gee die pasiënt ’n meer ontspanne, jeugdige voorkoms. ’n Mens moet egter ’n prys daarvoor betaal. Die verslag waarsku dat “gebruikers hulle plooie verloor, maar ook hulle vermoë om hulle wenkbroue op te lig in verbasing, om ’n glimlag tot by hulle oë te laat strek [en] te frons”. ’n Mens moet bereid wees om “dele van jou gesig te verlam vir jeugdige skoonheid”, sê die koerant.
“Aan wie se kant is God?”
“Ek wil nie enigiemand se opvattings kleineer nie”, skryf sportrubriekskrywer Sam Smith, “maar het hierdie openbare vertoon van godsdienstigheid nie te ver gegaan in sport nie? Waarom bid [Amerikaanse] voetbalspelers nadat hulle ’n doel aangeteken het?” Dieselfde spelers wat ná ’n wedstryd ’n kring vorm om te bid, word ook gesien waar hulle in die kleedkamer “verslaggewers vloek” of waar hulle gedurende ’n wedstryd “spelers probeer beseer” in ’n oomblik van woede, sê Smith. Dit lyk vir my of mense wat dink dat God een span bo ’n ander verkies, “[hulle] geloof in God kleineer”, sê hy. Die artikel sluit derhalwe af: “Laat ons nie meer van sport maak as wat dit is nie.”
Gevaarlike beroepe
Wat is die tien gevaarlikste beroepe? Volgens syfers wat deur die Amerikaanse Buro vir Arbeidstatistiek versamel is, is houtkappers bo-aan die lys met amper 129 noodlottige ongelukke per 100 000 werkers, terwyl vissers en bootwerkers kort op hulle hakke is met onderskeidelik 123 en 94 sterftes per 100 000 werkers. Ander gevaarlike beroepe in afnemende volgorde is vlieëniers, struktuurmetaalwerkers, mynwerkers, konstruksiewerkers, taxibestuurders, vragmotorbestuurders en plaaswerkers. Maar “die totale syfer vir noodlottige werksongelukke—4,7 per 100 000 werkers—het [in die laaste vyf jaar] met ongeveer 10 persent gedaal”, berig Scientific American.
Slim voëls!
“Mossies in Kalkutta vermy malaria”, berig die Franse natuurtydskrif Terre Sauvage. Kenners het opgelet dat mossies, met die toename van malaria, nou verder vlieg op soek na die blare van ’n boom wat bekend is vir sy hoë konsentrasies natuurlike kinien, wat ’n geneesmiddel teen malaria is. Behalwe dat hulle die blare gebruik om hulle nes mee uit te voer, lyk dit of die voëls dit ook eet. “Mossies, wat hou van stede en bang is vir malaria, het blykbaar ’n manier gevind om hulleself te beskerm”, sê die tydskrif.
Vuil geld
Meer as 99 persent van Londen se banknote is met kokaïen besmet, berig die Guardian. Kenners het 500 banknote getoets en gevind dat 496 note spore van die dwelm bevat het. Besmetting begin wanneer note deur dwelmgebruikers hanteer word. Hierdie note besmet weer ander geld wanneer hulle deur bankmasjiene gesorteer of saam bewaar word. Kokaïen het Brittanje se gewildste ontspanningsdwelm geword onder diegene tussen 20 en 24. Volgens die Londense Jeugbewustheidsprojek gebruik tieners kokaïen omdat dit glo hulle reputasie verbeter en hulle meer krag gee.
‘Algemeenste besmetting wat deur bloed oorgedra word’
“Ten minste 2,7 miljoen Amerikaners het die hepatitis C-virus, wat dit die algemeenste besmetting maak wat deur bloed oorgedra word in die Verenigde State”, sê ’n berig van Associated Press. Hepatitis C word hoofsaaklik deur seksuele kontak of deur besmette bloed van een persoon na die volgende oorgedra. Dié wat in die grootste gevaar verkeer om die siekte op te doen, is dwelmgebruikers wat spuitnaalde deel en mense wat onbeskermde seks het. Die besmetting kan egter ook versprei word deur tatoeëerders en beoefenaars van akupunktuur wat nie hulle toerusting behoorlik skoonmaak nie. Mense wat bloedoortappings ontvang het, verkeer ook in gevaar. Elke jaar ontvang ongeveer 1 000 mense in die Verenigde State ’n leweroorplanting as gevolg van lewerversaking wat deur die virus veroorsaak is.