Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

TV-nuus—Hoeveel daarvan is werklik nuus?

TV-nuus—Hoeveel daarvan is werklik nuus?

TV-nuus—Hoeveel daarvan is werklik nuus?

Nadat ’n media-waakgroep die inhoud en aanbieding ontleed het van 102 plaaslike TV-nuusuitsendings van 52 stedelike gebiede in die Verenigde State, het hulle gevind dat net 41,3 persent van die programme uit nuus bestaan. Waaruit bestaan die res van die nuusuitsending?

Gemiddeld 30,4 persent van die uitsaaityd van plaaslike TV-nuus word vir advertensies gebruik. Trouens, party van die stasies wat ondersoek is, het meer tyd aan advertensies as aan nuus bestee. Boonop is die nuus dikwels vol onbenullighede, sê die verslag waarin die bevindinge van die studie opgesom word. * Onder die opskrif “Onbenullighede” groepeer die verslag “die kumulatiewe uitsaaityd van geselsery tussen die aanbieders, promosies en voorskoue van berigte wat nog moet kom, die ‘sagte’ of lawwe nuus en die brokkies oor beroemdes”. ’n Paar van die onbenullige nuusbrokkies was: “Stryd tussen die verskriklike tenore”, “Verslaggewer se ‘rit van sy lewe’ op tuimeltrein” en “Meer mense koop toebroodjiesmeer by supermarkte”.

Uit watter soort berigte bestaan die eintlike nuus? Misdaadberigte oorheers die TV-nuus en neem 26,9 persent van die uitsaaityd in beslag. “Moord en doodslag kry nog steeds die meeste aandag op plaaslike TV-nuus . . . Misdaad het dalk gedurende die afgelope paar jaar regoor Amerika afgeneem, maar nie op plaaslike televisienuus nie.” Waarom nie? Volgens die skrywers van die studie “is misdaad dramaties en trek dit mense se aandag”.

Naas misdaad kry rampe, soos brande, motorongelukke, oorstromings en ontploffings (12,2 persent van die nuus), gevolg deur sportnuus (11,4 persent) die meeste dekking. Dan kom die dekking van gesondheidsake (10,1 persent), regeringsake (8,7 persent) en die ekonomie (8,5 persent). Onderwerpe soos onderwys, die omgewing, kuns en wetenskap kry min aandag (van 1,3 tot 3,6 persent). Daarenteen maak weerberigte gemiddeld 10 persent van alle nuusuitsendings uit. “Almal hou daarvan om oor die weer te praat, en TV-nuus is geen uitsondering nie”, sê die navorsers. Hulle voeg by: “Enige soort weer, goed of sleg, warm of koud, nat of droog, kan breedvoerige TV-nuusdekking kry.”

’n Positiewe aspek van die verslag is dat al hoe meer joernaliste en kykers die behoefte aan ’n verandering besef. Die studie erken egter dat so ’n verandering nie maklik sal plaasvind nie omdat “markkragte en hebsug moontlik altyd goeie joernalistiek sal bedreig”.

[Voetnoot]

^ par. 3 Die verslag Not in the Public Interest—Local TV News in America is die vierde jaarlikse nasionale ondersoek na wat in die nuus is. Dit word saamgestel deur dr. Paul Klite, dr. Robert A. Bardwell en Jason Salzman, van Rocky Mountain Media Watch.