Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vaderskap—Is dit ’n bewys van manlikheid?

Vaderskap—Is dit ’n bewys van manlikheid?

Jongmense vra . . .

Vaderskap—Is dit ’n bewys van manlikheid?

“Ek ken ’n hele paar [ouens] wat sê: ‘Ek het ’n dogter wat hier woon en ’n seun wat daar woon’, en die manier waarop hulle dit sê, laat dit klink of hulle nie juis omgee nie.”—Harold.

ELKE jaar raak byna ’n miljoen tienermeisies in die Verenigde State swanger. Die oorgrote meerderheid van hierdie ma’s gee geboorte aan buite-egtelike kinders. Van hierdie tienerma’s sal 1 uit 4 binne die volgende twee jaar ’n tweede kind hê. Die tydskrif Atlantic Monthly sê: “As huidige tendense voortduur, sal minder as die helfte van alle kinders wat vandag gebore word regdeur hulle kinderjare by hulle eie pa en ma woon. Die meeste Amerikaanse kinders sal etlike jare deurbring in ’n gesin met ’n ongetroude ma.”

Hoewel die swangerskapsyfer onder tieners in die Verenigde State baie hoër is as in ander ontwikkelde lande, is buite-egtelike geboortes ’n wêreldwye probleem. In party Europese lande, soos Engeland en Frankryk, is die syfers vir sulke geboortes vergelykbaar met die Verenigde State s’n. In party lande in Afrika en Suid-Amerika is die geboortesyfer onder tienermeisies amper dubbel soveel as in die Verenigde State. Wat gee aanleiding tot hierdie epidemie?

Die rede vir die epidemie

Hierdie situasie weerspieël in ’n groot mate die sedelike verdorwenheid van die “kritieke tye” waarin ons lewe (2 Timoteus 3:1-5). In die laaste paar dekades het egskeidingsyfers die hoogte ingeskiet. Homoseksuele en ander alternatiewe lewenstyle is nou algemeen aanvaarbaar. Jongmense is die teiken van ’n stortvloed mediapropaganda—suggestiewe musiek en musiekvideo’s, skokkende tydskrifartikels en -advertensies, TV-programme en rolprente wat losse seks verheerlik. Die maklike verkrygbaarheid van aborsiedienste en geboortebeperkingsmiddels het ook bygedra tot die heersende opvatting onder jongmense dat seks geen gevolge het nie. Een ongetroude pa sê: “Ek wil seks sonder verantwoordelikheid hê.” “Seks is ’n speletjie”, sê ’n ander een.

Sulke gesindhede kan veral onder arm jongmense algemeen wees. Die navorser Elijah Anderson wat breedvoerige onderhoude met stedelike jongmense gevoer het, het gesê: “Vir baie seuns is seks ’n belangrike simbool van hulle sosiale status; seksuele oorwinnings word punte op jou kerfstok.” Trouens, een ongetroude pa het vir Ontwaak! gesê dat seksuele oorwinnings algemeen beskou word as “trofeë waarmee jy kan spog”. Wat is verantwoordelik vir hierdie ongevoelige gesindheid? Anderson verduidelik dat die belangrikste persoon in ’n stedelike jongmens se lewe dikwels “lede van sy portuurgroep is. Hulle bepaal die standaarde vir sy gedrag, en dit is vir hom belangrik om volgens daardie standaarde te lewe.”

Anderson sê gevolglik dat seksuele oorwinnings vir talle jong mans maar net ’n speletjie is, “met die doel om die ander persoon, veral die jong vrou, belaglik te laat lyk”. Hy voeg by dat “die speletjie die seun se hele aanbieding van homself behels, waaronder sy kleredrag, persoonsversorging, voorkoms, dansvermoë en manier van praat”. Talle jong seuns is baie goed met hierdie “speletjie”. Anderson sê egter: “Wanneer die meisie swanger word, is die seun geneig om hom van haar te onttrek.”—Young Unwed Fathers—Changing Roles and Emerging Policies, onder redaksie van Robert Lerman en Theodora Ooms.

God se beskouing

Maar is vaderskap werklik ’n bewys van manlikheid? Is seks bloot ’n speletjie? Nie volgens ons Skepper, Jehovah God, nie. In sy Woord, die Bybel, maak God dit duidelik dat seks ’n verhewe doel het. Nadat die Bybel die skepping van die eerste man en vrou beskryf het, sê dit: “God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde” (Genesis 1:27, 28). Dit was nooit God se bedoeling dat pa’s hulle kinders verlaat nie. Hy het die eerste man en vrou in die permanente huweliksband saamgebring (Genesis 2:24). Dit was dus sy voorneme dat elke kind ’n pa en ’n ma moes hê.

Weldra het mans vir hulle egter meer as een vrou begin neem (Genesis 4:19). Genesis 6:2 sê vir ons dat selfs party engele ‘gesien het dat die dogters van die mense mooi is’. Nadat hulle as mense gematerialiseer het, het hierdie engele op ’n hebsugtige wyse “vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het”. Die vloed van Noag se dag het hierdie demone gedwing om na die geesteryk terug te keer. Maar die Bybel toon dat hulle nou tot die omgewing van die aarde beperk is (Openbaring 12:9-12). Satan en sy demone oefen dus ’n baie kragtige invloed uit op mense wat vandag lewe (Efesiërs 2:2). Jong mans swig onwetend voor hierdie bose invloed wanneer hulle verantwoordelik is vir ongewenste en onbeminde kinders.

Die Skrif sê derhalwe met goeie rede: “Dit is wat God wil: julle heiliging, dat julle julle onthou van hoerery; dat elkeen van julle moet weet hoe om in heiliging en eer sy eie vat in besit te kry, nie in hebsugtige geslagslus soos ook dié nasies het wat God nie ken nie; dat niemand so ver gaan dat hy sy broer skade berokken of inbreuk maak op sy regte in hierdie saak nie, want Jehovah is iemand wat straf toedien vir al hierdie dinge.”—1 Tessalonisense 4:3-6.

‘Onthou jou van hoerery’? Talle jong mans sal dalk met hierdie idee spot. Hulle is immers jonk, en hulle drange is sterk! Maar let daarop dat hoerery meebring dat ’n mens ander “skade berokken of inbreuk maak op [hulle] regte”. Word ’n meisie nie skade berokken as sy in die steek gelaat word met ’n baba, sonder ’n man om haar te ondersteun nie? En wat van die gevaar om haar met ’n seksueel oordraagbare siekte, soos genitale herpes, sifilis, gonorree of vigs te besmet? Dit is weliswaar soms moontlik om sulke gevolge te vermy. Maar selfs al is dit die geval, doen voorhuwelikse seks nog steeds inbreuk op ’n meisie se reg om ’n goeie reputasie te behou en ’n maagd te wees wanneer sy trou. Dit maak dus sin om jou van hoerery te onthou, en dit is ’n blyk van volwassenheid. Dit verg weliswaar selfbeheersing en vasberadenheid om ‘jou eie vat in besit te kry’ en jou van voorhuwelikse seks te onthou. Maar soos Jesaja 48:17, 18 vir ons sê, is God besig om ons deur middel van sy wette te “leer wat heilsaam is”.

“Gedra julle soos manne”

Maar hoe kan ’n jong man bewys dat hy ’n ware man is? Sekerlik nie deur verantwoordelik te wees vir buite-egtelike kinders nie. Die Bybel vermaan: “Bly wakker, staan vas in die geloof, gedra julle soos manne, word sterk. Laat al julle aangeleenthede in liefde geskied.”—1 Korintiërs 16:13, 14.

Let op dat, om ‘jou soos ’n man te gedra’, behels dat jy wakker, standvastig in die geloof, dapper en liefdevol moet wees. Hierdie beginsels is natuurlik ewe veel van toepassing op mans sowel as vroue. Maar as jy sulke geestelike eienskappe aankweek, sal mense goeie rede hê om jou as ’n ware man te respekteer en te bewonder! Leer by die grootste mens wat nog geleef het—Jesus Christus. Dink net aan sy onverskrokke houding toe hy voor marteling en selfs die dood te staan gekom het. Maar hoe het Jesus hom in die teenwoordigheid van die ander geslag gedra?

Jesus het beslis geleenthede gehad om die geselskap van vroue te geniet. Hy het baie vroue as volgelinge gehad, waarvan party hom en sy apostels “met hulle besittings bedien het” (Lukas 8:3). Hy was veral geheg aan Lasarus se twee susters. Trouens, die Bybel sê dat ‘Jesus Marta en haar suster liefgehad het’ (Johannes 11:5). Het Jesus sy skerpsinnigheid, innemendheid of aantreklike fisiese voorkoms, wat hy ongetwyfeld as ’n volmaakte man moes gehad het, gebruik om hierdie vroue tot onsedelikheid te verlei? Inteendeel, die Bybel sê dat Jesus “geen sonde gepleeg [het] nie” (1 Petrus 2:22). Hy het nie eers onbehoorlik opgetree toe ’n vrou wat algemeen as ’n sondares, miskien ’n prostituut, bekend gestaan het, “gehuil en sy voete met haar trane begin natmaak en hulle met die hare van haar kop afgedroog” het nie (Lukas 7:37, 38). Jesus het nie eers daaraan gedink om misbruik te maak van hierdie kwesbare vrou nie! Hy het die vermoë geopenbaar om sy gevoelens te beheer—die eienskap van ’n ware man. Hy het vroue behandel as individue wat liefde en respek waardig is, en nie as seksvoorwerpe nie.

As jy as jong Christenman die voorbeeld van Christus volg—en nie dié van party van jou portuurs nie—sal dit verhoed dat jy ’n meisie ‘skade berokken of inbreuk maak op haar regte’. Dit sal jou ook beskerm teen die hartseer tragedie om verantwoordelik te wees vir ’n buite-egtelike kind. Ander sal jou dalk weliswaar spot omdat jy jou van hoerery onthou. Maar jy sal op die lange duur meer daarby baat vind om God se goedkeuring te verkry as die tydelike goedkeuring van jou portuurs.—Spreuke 27:11.

Maar gestel ’n jong man het in die verlede ’n onsedelike lewe gelei, maar het nou sy onsedelike lewenswyse laat vaar en is waarlik berouvol. Indien wel, kan hy, soos berouvolle koning Dawid, wat hom ook aan seksuele wangedrag skuldig gemaak het, verseker wees van God se vergifnis (2 Samuel 11:2-5; 12:13; Psalm 51:3, 4). Maar as dit tot ’n buite-egtelike swangerskap gelei het, het die jong man moontlik nog steeds ernstige besluite om te neem. Moet hy met die meisie trou? Het hy enige verantwoordelikheid teenoor die kind? ’n Toekomstige artikel sal hierdie vrae bespreek.

[Prente op bladsy 15]

Baie jongmense glo verkeerdelik dat seks geen gevolge het nie