Van ons lesers
Van ons lesers
Ekologiese bewaringsgebied Dankie vir die artikel “Die Pantanal—’n fassinerende gebied” (8 September 1999). Ek het in my verbeelding saam met die skrywer na daardie fassinerende plek gegaan en die vrede en kalmte geniet wat daar is. Ek sien met afwagting uit na die dag wanneer God sulke toestande na die res van die planeet sal uitbrei.
M. A., Italië
Diabetes Ek het pas die artikel “Julle dogter het diabetes!” (22 September) ’n tweede keer gelees. Tien maande gelede het ek uitgevind dat ek Tipe 1-diabetes het. Ek was nog altyd gesond en het vandat ek 17 was as ’n pionier, ’n voltydse evangeliedienaar, gedien. Ek moes in die laaste paar maande baie veranderinge in my lewe aanbring. Ek moet ’n insulienpompie gebruik, en die behandelingskoste van my siekte het my gedwing om my pionierdiens te staak. Ek wil julle egter bedank vir artikels soos dié wat ons herinner dat ander soortgelyke beproewinge deurmaak.
B. F., Verenigde State
My vierjarige seuntjie ly vandat hy twee jaar oud is aan diabetes. Die gevoelens wat Sonya en haar gesin in die artikel uitgespreek het, is vir ons baie bekend. Ons is dankbaar vir die liefdevolle Christenbroederskap wat ons help om te volhard.
C. R., Moldowa
Ek wag nou al ’n geruime tyd vir bemoedigende leesstof oor hierdie onderwerp. Ek is 17, en sedert ek 5 jaar oud was, lewe ek met diabetes. Soms is dit baie moeilik om met hierdie siekte saam te leef. Maar ek was verheug om ’n eenvoudige artikel te kry wat ek vir my familie en al my vriende kan wys en wat al hulle vrae sal beantwoord en hulle kennis van diabetes sal verbreed.
K. W., Kanada
Onveilig? Ek het ’n baie mooi artikel gelees met die titel “Die vroue het ’n groot aandeel gehad” (22 Junie 1999). Ek was egter verbaas om te sien dat die vroulike konstruksiewerkers nie veiligheidsbrille dra nie.
R. L., Verenigde State
Ons lesers kan gerus voel in die wete dat hierdie vrywillige werkers beskermende brille dra wanneer hulle die werk doen. Hulle is gevra om vir hierdie foto’s te poseer—sonder brille—sodat hulle stralende gesigte beter gesien kan word.—RED.
Ongeregtigheid Ek wil julle bedank vir die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek ongeregtigheid verduur?” (22 September 1999). Hoewel ek jonk is, het ek al baie ongeregtigheid en geweld in my lewe verduur, in so ’n mate dat ek diep emosionele letsels het. Dit het dit vir my moeilik gemaak om my werk as ’n pionier te doen—’n werk waaraan ek al die laaste agt jaar deelneem. Ek is aangemoedig deur die sin wat gesê het: “Doen wat jy kan om dit te verduur.” Hierdie woorde getuig van liefde, en ek bedank julle uit die diepte van my hart.
A. G., Italië
Musiek Ek is al jare ’n ouer man in die Christengemeente en het nog altyd belangstelling in die jonges getoon. Maar die laaste tyd het ek gefrustreerd gevoel, aangesien die raad wat ek oor die gevare van sommige moderne musiek probeer gee het geen uitwerking gehad het nie. Die reeks “Musiek—Kragtiger as wat jy dink” (8 Oktober 1999) was egter net wat ek nodig gehad het. Die aanhalings uit sekulêre bronne oor die negatiewe uitwerking wat sekere musiek het, was uitstekend. Ek sal hierdie gedagtes met ons jongmense bespreek.
D. H., Bolivia
As ’n sangeres en laerskoolmusiekonderwyseres het ek julle onlangse artikels oor musiek baie interessant gevind. Dankie!
K. F., Verenigde State