’n Verenigde Europa—Waarom sal dit saak maak?
’n Verenigde Europa—Waarom sal dit saak maak?
SJAMPANJEPROPPE het geskiet. Vuurwerk het die nag verlig. Wat was die geleentheid? ’n Nuwe millennium? Nee, hierdie gebeurtenis was heel moontlik belangriker as ’n blote verandering van syfers op die wêreld se kalenders. Dit was 1 Januarie 1999. Die nuwe enkele geldeenheid vir die Europese Unie (EU)—’n soort geld wat die euro * genoem word—is op daardie dag amptelik in gebruik geneem.
Baie Europeërs sien die invoering van ’n gemeenskaplike geldeenheid as ’n historiese stap in Europa se lang strewe na eenheid. Die Nederlandse koerant De Telegraaf het die ingebruikneming van die euro geloof as die “kroon op Europese eenwording”. Trouens, ná dekades van drome, diplomasie en vertragings lyk Europese eenheid nader as ooit tevore.
Mense wat buite Europa woon, wonder dalk waaroor al die bohaai gaan. Die koms van die euro en die pogings om Europa te verenig, het skynbaar min invloed op hulle daaglikse lewe. Maar Europese eenwording sal een van die grootste ekonomiese magte in die wêreld teweegbring. Dit sal dus moeilik wees om ’n verenigde Europa te ignoreer—ongeag waar ’n mens woon.
Die Amerikaanse onderminister van buitelandse sake, Marc Grossman, het onlangs vir ’n Noord-Amerikaanse gehoor gesê: “Ons voorspoed is aan Europa gekoppel.” Waarom? Een van die redes wat hy genoem het, is dat “een uit elke 12 Amerikaanse fabriekswerkers by een van die 4 000 ondernemings in Amerika werk wat in Europese besit is”. Daar word ook gesê dat Europa se nuwe geldeenheid die prys van ingevoerde goedere—en selfs verbandkoerse—in lande ver van Europa kan beïnvloed.
Ontwikkelende lande kan daarby baat vind. Hoe? Een studie sê: “Deur die verskillende Europese geldeenhede met die euro te vervang, sal die ontwikkelende lande se handelsbetrekkinge met die EU vereenvoudig word.” Daarbenewens voorspel party dat Japannese en Amerikaanse firmas wat in Europa sake doen voordeel daaruit sal trek. Wanneer die euro in werking is, sal daar geen skommelende wisselkoerse tussen Europese lande wees nie. Dit kan dus baie meer ekonomies word om sake in Europa te doen.
As jy beplan om in Europa te reis, sal jy ook die voordele van Europese eenheid kan geniet. Binnekort sal jy goedere en dienste in verskillende Europese lande kan koop met een geldeenheid, die euro, wat omtrent dieselfde waarde as die Amerikaanse dollar het. Dan sal die dae van verbouereerde toeriste met hande vol guldens, frank, lire, Duitse mark en sakrekenaars tot die verlede behoort.
Maar Europa se pogings om ’n verenigde vasteland te word, bied iets wat selfs aanlokliker is—hoop. Dink net, ’n paar dekades gelede was Europa in oorlog gedompel. Uit hierdie hoek beskou, is Europese eenwording ’n ongelooflike prestasie. Mense regoor die wêreld neem daarvan kennis.
Baie kan nie anders as om te wonder of wêreldeenheid dalk tog ’n realistiese verwagting is nie. Dit is voorwaar ’n opwindende vooruitsig! Sal Europa se stappe tot eenwording die mensdom nader aan ’n verenigde wêreld bring? Voordat ons hierdie vraag ondersoek, moet ons Europese eenwording eerlik ondersoek. Watter struikelblokke op die pad na eenheid moet nog uit die weg geruim word?
[Voetnoot]
^ par. 2 Een euro = R6.
[Venster/Tabel op bladsy 4]
EENHEID IN WORDING?
Die idee van Europese eenheid is nie heeltemal nuut nie. Daar was ’n mate van eenheid gedurende die tyd van die Romeinse Ryk, toe weer onder die bewind van Karel die Grote en later onder Napoleon I. In hierdie gevalle was eenheid op mag en verowering gebaseer. Maar ná die Tweede Wêreldoorlog het ’n aantal oorlogsmoeë lande die behoefte gesien aan eenheid wat op samewerking gebaseer is. Hierdie lande het gehoop dat sulke samewerking nie alleen tot hulle ekonomiese herstel sou lei nie, maar ook tot ’n verbod op oorlog. Hier volg van die historiese stappe wat tot die huidige situasie gelei het:
• 1948 Honderde Europese politieke leiers kom in Den Haag, Nederland, bymekaar en belowe plegtig: “Ons sal nooit weer onder mekaar oorlog voer nie.”
• 1950 Frankryk en Duitsland begin saamwerk om hulle steenkool- en staalbedryf te beskerm. Nog lande sluit by hulle aan, en dit lei tot die vorming van die Europese Steenkool- en Staalgemeenskap (ESSG). Die ESSG het in 1952 begin funksioneer en sluit België, Frankryk, Italië, Luxemburg, Nederland en Wes-Duitsland in.
• 1957 Die ses ESSG-lede vorm twee ander organisasies: die Europese Ekonomiese Gemeenskap (EEG) en die Europese Atoomenergiegemeenskap (Euratom).
• 1967 Die EEG smelt met die ESSG en Euratom saam en vorm die Europese Gemeenskap (EG).
• 1973 Die EG laat Denemarke, Ierland en die Verenigde Koninkryk toe.
• 1981 Griekeland sluit by die EG aan.
• 1986 Portugal en Spanje sluit by die EG aan.
• 1990 Die EG word verder vergroot wanneer Wes- en Oos-Duitsland verenig, sodat die voormalige Oos-Duitsland nou ook ’n deel van die organisasie is.
• 1993 Pogings om groter ekonomiese en politieke eenheid tussen EG-lede te bewerkstellig, lei tot die vorming van die Europese Unie (EU).
• 2000 Die EU bestaan uit 15 lidlande—België, Denemarke, Duitsland, Finland, Frankryk, Griekeland, Ierland, Italië, Luxemburg, Nederland, Oostenryk, Portugal, Spanje, Swede en die Verenigde Koninkryk.
[Prent op bladsy 3]
Die euro sal baie Europese geldeenhede vervang
[Foto-erkenning op bladsy 3]
Euro’s en eurosimbole op bladsye 3, 5-6 en 8: © European Monetary Institute