Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Landmyne—Die prys wat betaal word

Landmyne—Die prys wat betaal word

Landmyne—Die prys wat betaal word

Op 26 Desember 1993 het die sesjarige Augusto deur ’n oop veld naby Luanda, die hoofstad van Angola, gestap. Skielik het hy ’n blink voorwerp op die grond gesien. Dit het hom nuuskierig gemaak, en hy het besluit om dit op te tel. Sy volgende beweging het ’n landmyn laat afgaan.

As gevolg van die ontploffing is Augusto se regtervoet afgesit. Hy is nou 12 jaar oud, hy is die meeste van die tyd aan ’n rolstoel gekluister en is blind.

AUGUSTO is vermink deur ’n antipersoneellandmyn, wat so genoem word omdat die hoofteiken daarvan mense is en nie tenks of ander militêre voertuie nie. Daar word geskat dat daar tot dusver meer as 350 soorte antipersoneellandmyne in ten minste 50 lande vervaardig is. Baie van hulle is bedoel om te beseer, nie om dood te maak nie. Waarom? Omdat beseerde soldate hulp nodig het, en ’n soldaat wat deur ’n landmyn vermink is, sal krygsverrigtinge vertraag—net wat die vyand wil hê. Daarbenewens kan die wanhopige geroep van ’n gewonde soldaat die harte van sy kamerade met skrik vervul. Gevolglik word landmyne gewoonlik as die doeltreffendste beskou wanneer die slagoffers dit oorleef—selfs al is dit net naelskraap.

Soos die vorige artikel gesê het, is die meeste slagoffers van landmynontploffings egter burgerlikes, nie soldate nie. Dit is nie altyd toevallig nie. Volgens die boek Landmines—A Deadly Legacy is party landmyne “spesifiek vir burgerlikes bedoel om mense uit gebiede te laat trek, voedselbronne te vernietig, ’n vlugtelingstroom te veroorsaak of bloot om vrees in te boesem”.

Om een voorbeeld te noem, in ’n konflik in Kambodja is myne reg rondom vyandelike dorpe versteek, en daarna is hierdie dorpe met artillerievuur gebombardeer. Toe die burgerlikes probeer vlug, het hulle reg in die mynvelde in gehardloop. Intussen het lede van die Khmer Rouge landmyne in die ryslande geplant om die regering te dwing om met hulle te onderhandel, wat die harte van die boere met vrees vervul en die landbou feitlik tot stilstand gebring het.

Wat in 1988 in Somalië gebeur het, was miskien selfs erger. Toe Hargeisa gebombardeer is, is die inwoners gedwing om te vlug. Soldate het toe landmyne in die verlate huise geplant. Toe die gevegte opgehou het, het die vlugtelinge teruggekeer en is hulle deur versteekte landmyne vermink of doodgemaak.

Maar landmyne kan meer as net die dood en die verlies van ledemate tot gevolg hê. Beskou party ander gevolge van hierdie bose wapens.

Die ekonomiese en maatskaplike prys

Kofi Annan, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, sê: “Die teenwoordigheid—of selfs die vrees vir die teenwoordigheid—van ’n enkele landmyn kan verhinder dat ’n hele land bewerk word, kan ’n hele dorp van sy inkomste beroof en kan nog ’n struikelblok in ’n land se weg na heropbouing en ontwikkeling lê.” Gevolglik sou ongeveer 35 persent meer land in Afganistan en Kambodja bewerk kon word as die boere nie bang was om op die grond te loop nie. Party waag dit. “Ek is doodbang vir myne”, sê ’n Kambodjaanse boer. “Maar as ek nie uitgaan om gras en bamboes te sny nie, sal ons nie aan die lewe bly nie.”

Dikwels moet oorlewendes van landmynontploffings ’n verpletterende finansiële las dra. In ’n ontwikkelende land kan ’n kind wat sy been op tienjarige ouderdom verloor tot 15 kunsbene in sy leeftyd nodig kry, wat elkeen gemiddeld R770 sal kos. Dit klink dalk vir party nie te duur nie. Maar vir die grootste deel van Angola se bevolking verteenwoordig R770 meer as drie maande se loon!

Dink ook aan die pynlike maatskaplike prys. Byvoorbeeld, die inwoners van een land in Asië vermy mense wat ledemate verloor het uit vrees dat hulle ook deur teëspoed getref sal word. Die huwelik sal vir iemand wat ’n ledemaat verloor het moontlik net ’n onvervulde droom bly. “Ek beplan nie om te trou nie”, sê ’n Angolese man wie se been afgesit moes word nadat hy in ’n landmynontploffing beseer is. “’n Vrou wil ’n man hê wat kan werk.”

’n Mens kan verstaan waarom baie slagoffers aan ’n lae selfbeeld ly. “Ek kan my gesin nie meer van kos voorsien nie”, sê ’n Kambodjaanse man, “en ek skaam my daaroor.” Partykeer kan sulke gevoelens selfs neerdrukkender wees as die verlies van ’n ledemaat. “Ek is oortuig dat ek emosioneel die grootste skade aangedoen is”, sê Artur, ’n slagoffer in Mosambiek. “Ek het my baie keer vererg net omdat iemand in my rigting gekyk het. Ek het gedink dat niemand meer enige respek vir my het nie en dat ek nooit weer ’n normale lewe sal lei nie.” *

Wat van mynopruiming?

In onlangse jare was daar intensiewe pogings om lande aan te moedig om die gebruik van landmyne te verbied. Daarbenewens het party regerings die gevaarlike taak aangepak om die myne wat geplant is te verwyder. Maar daar is verskeie struikelblokke wat dit bemoeilik. Een het te doen met tyd. Mynopruiming is ’n pynlik stadige proses. Trouens, mynopruimers skat dat dit gemiddeld honderd keer langer neem om ’n myn te verwyder as om een te plant. Nog ’n struikelblok is die koste. Een myn kos tussen R18 en R90, maar om een te verwyder kan tot R6 000 kos.

Die verwydering van alle myne lyk dus feitlik onmoontlik. Om al die myne in Kambodja te verwyder, sal byvoorbeeld vereis dat al die mense in daardie land die volgende paar jaar hulle hele inkomste vir hierdie werk moet gebruik. Selfs as daar genoeg geld beskikbaar was, sal dit na raming ’n eeu neem om al die myne daar te verwyder. Wêreldwyd is die situasie selfs erger. Daar word geskat dat dit R203 miljard sal kos om al die myne op die planeet met die gebruik van huidige tegnologie te verwyder en dat dit meer as duisend jaar sal neem!

Daar is weliswaar nuwe tegnieke voorgestel om myne te verwyder—van die gebruik van vrugtevlieë wat geneties gemanipuleer is om plofstof op te spoor tot die gebruik van enorme radiobeheerde voertuie wat die myne in twee hektaar binne ’n uur sal opruim. Maar dit sal dalk nog ’n rukkie duur voor sulke tegnieke op groot skaal gebruik kan word, en dit sal waarskynlik net vir die rykste lande beskikbaar wees.

In die meeste plekke word mynopruiming dus op die outydse manier gedoen. ’n Man kruip op sy maag en ondersoek die grond voor hom sentimeter vir sentimeter met ’n stok en maak elke dag tussen 20 en 50 vierkante meter skoon. Gevaarlik? Ja! Vir elke 5 000 myne wat verwyder word, sterf een mynopruimer en word twee beseer.

Pogings om teen landmyne te verenig

In Desember 1997 het verteenwoordigers van etlike lande die Konvensie oor die Verbod op die Gebruik, Opberging, Vervaardiging en Oordrag van Antipersoneelmyne en oor die Vernietiging Daarvan onderteken, wat ook as die Ottawa-verdrag bekend staan. “Dit is ’n ongekende en ongeëwenaarde prestasie op die gebied van internasionale ontwapening of internasionale humanitêre reg”, sê Jean Chrétien, eerste minister van Kanada. * Maar bykans 60 lande—wat party van die wêreld se grootste landmynvervaardigers insluit—het nog nie die verdrag onderteken nie.

Sal die Ottawa-verdrag daarin slaag om die plaag van landmyne te verwyder? Miskien in ’n mate. Maar baie mense is skepties. “Selfs al sou al die lande van die wêreld aan die bepalings van Ottawa gehoor gee”, sê Claude Simonnot, ’n mededirekteur van Handicap International in Frankryk, “sal dit net een stap wees in die rigting om die planeet van alle gevare van myne te bevry.” Waarom? “Daar is miljoene myne wat nog in die grond begrawe is en geduldig op toekomstige slagoffers wag”, sê Simonnot.

Die krygsgeskiedkundige John Keegan noem nog ’n faktor. Oorlogvoering, sê hy, “dring deur tot die mees geheime plekke van die mensehart, . . . waar trots heers, waar emosie hoogty vier en waar instink koning is”. Verdrae kan nie diepgewortelde menslike eienskappe soos haat en hebsug verander nie. Maar beteken dit dat mense altyd hulpelose slagoffers van landmyne sal wees?

[Voetnote]

^ par. 13 Sien die voorbladartikels “Hoop vir gestremdes”, op bladsye 3-10 van die Ontwaak! van 8 Junie 1999, vir meer inligting oor hoe om die verlies van ’n ledemaat te verwerk.

^ par. 20 Die verdrag het op 1 Maart 1999 in werking getree. Teen 6 Januarie 2000 het 137 lande dit onderteken en het 90 van hulle dit bekragtig.

[Venster op bladsy 6]

Maak hulle twee keer geld?

’n Basiese beginsel in die sakewêreld is dat maatskappye aanspreeklik is as hulle produkte skadelik is. Gevolglik voer Lou McGrath, van die Landmynadviesgroep, aan dat maatskappye wat wins gemaak het uit die vervaardiging van landmyne verplig moet word om skadevergoeding te betaal. Dit is egter ironies dat baie van die vervaardigers wins maak uit mynopruiming. ’n Voormalige mynvervaardiger in Duitsland het byvoorbeeld ’n mynopruimingskontrak van R600 miljoen in Koeweit gekry. En in Mosambiek het ’n kontrak van R46 miljoen om die myne uit belangrike paaie te verwyder aan ’n konsortium van drie maatskappye gegaan—waarvan twee landmyne ontwikkel het.

Party voel dat dit uiters oneties is vir die maatskappye wat landmyne vervaardig het om geld te maak uit die verwydering daarvan. Hulle beweer dat landmynvervaardigers in sekere sin twee keer geld maak. Hoe dit ook al sy, die vervaardiging sowel as opruiming van myne bly florerende bedrywe.

[Diagram op bladsy 5]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Gemiddelde aantal landmyne per 2,5 vierkante kilometer in die nege lande met die meeste landmyne

BOSNIË en HERZEGOWINA 152

KAMBODJA 143

KROASIË 137

EGIPTE 60

IRAK 59

AFGANISTAN 40

ANGOLA 31

IRAN 25

RWANDA 25

[Erkenning]

Bron: Verenigde Nasies se Departement van Humanitêre Aangeleenthede, 1996

[Prente op bladsy 7]

In Kambodja waarsku plakkate en tekens teen landmyne

Vir elke 5 000 myne wat verwyder word, sterf een mynopruimer en word twee beseer

[Erkennings]

Agtergrond: © ICRC/Paul Grabhorn

© ICRC/Till Mayer

© ICRC/Philippe Dutoit