Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ly jy aan laktoseonverdraagsaamheid?

Ly jy aan laktoseonverdraagsaamheid?

Ly jy aan laktoseonverdraagsaamheid?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO

“Ek en my man het by vriende in die staat Puebla, in Mexiko, gekuier. Ons vriende het hulle eie koeie gehad, en dus het hulle vir ons vars melk saam met ons ontbyt en aandete gegee.

“Die eerste nag het ons olik gevoel, maar die volgende dag was verskriklik. My maag het so erg opgeswel dat dit gelyk het asof ek ’n paar maande swanger is. Toe het ons albei kwaai diarree gekry.

“Ons het eers jare later uitgevind dat ons laktoseonverdraagsaam is.”—Bertha.

BERTHA se ondervinding is nie uniek nie, want volgens sommige skattings ondervind tot 75 persent van die wêreld se volwasse bevolking party of al die simptome van laktoseonverdraagsaamheid. * Presies wat is hierdie toestand, en waardeur word dit veroorsaak? Selfs belangriker, hoe kan ’n mens daarmee saamleef?

Die term “laktoseonverdraagsaamheid” verwys na die liggaam se onvermoë om laktose, die vernaamste suiker in melk, te verteer. Om in die bloedstroom opgeneem te word, moet laktose tot glukose en galaktose afgebreek word. ’n Ensiem wat laktase genoem word, is nodig sodat dit kan plaasvind. Die probleem is dat die liggaam ná die kinderjare minder laktase vervaardig. ’n Gebrek aan laktase veroorsaak in baie volwassenes laktoseonverdraagsaamheid.

Wanneer iemand meer laktose inneem—in melk en sy derivate—as wat hy kan verteer, verander bakterieë in die kolon dit in melksuur en koolsuurgas. Tipiese simptome, wat naarheid, krampe, buikswelling en diarree insluit, kan binne 30 minute intree. Party wat nie weet dat hulle laktoseonverdraagsaam is nie, sal moontlik probeer om die maag te kalmeer deur meer melk te drink, wat net die probleem sal vererger.

Die graad van laktoseonverdraagsaamheid verskil van persoon tot persoon. Party kan ’n glasie melk drink sonder om enige slegte gevolge te ondervind. Vir ander sal selfs hierdie bietjie melk simptome aanbring. Party stel voor dat jy met ’n glasie melk begin om te bepaal hoeveel jy kan verdra. Drink dan by latere geleenthede elke keer ’n bietjie meer. Onthou, in hierdie verband, dat hoewel die simptome van laktoseonverdraagsaamheid ongemak veroorsaak, dit selde gevaarlik is.

Wat om te eet en wat om te vermy

As jy aan laktoseonverdraagsaamheid ly, moet jy vasstel wat jy kan en wat jy nie kan eet nie. Baie sal afhang van jou verdraagsaamheidsvlak. Voedsel wat laktose bevat, sluit melk, roomys, jogurt, botter en kase in. Party soorte voorbereide kos, soos koeke, ontbytgraan en slaaisouse, kan ook laktose bevat. Daarom moet mense met laktoseonverdraagsaamheid die voedingkundige etiket op sulke produkte nagaan.

Melk is natuurlik ’n hoofbron van kalsium, en as ’n mens te min kalsium inneem, kan dit tot osteoporose lei. Diegene wat laktoseonverdraagsaam is, moet dus ander bronne van kalsium inneem. Party vars groentes soos broccoli, kool en spinasie bevat kalsium. So ook amandels, sesamsaad en vis met sagte grate, soos sardientjies en salm.

Selfs as jy laktoseonverdraagsaam is, het jy dalk nie nodig om melk en suiwelprodukte heeltemal te vermy nie. Probeer eerder bepaal hoeveel jy kan verdra, en moet dan nie meer as dit inneem nie. Eet, wanneer moontlik, ander kossoorte saam met enige produkte wat laktose bevat. Onthou ook dat beleë kaas minder laktose bevat, en dit sal moontlik nie ’n probleem veroorsaak nie. Wat van jogurt? Dit het amper net soveel laktose as melk, maar party mense met laktoseonverdraagsaamheid kan dit maklik verteer. Waarom? Omdat jogurt mikroörganismes bevat wat laktase opbou, en dit help met die vertering van laktose.

Moet jou dus nie bekommer as jy aan laktoseonverdraagsaamheid ly nie. Soos ons gesien het, sal kennis van hierdie siekte jou in staat stel om dit maklik te beheer. Maar hou die volgende punte in gedagte:

(1) Jy moet klein hoeveelhede melk en melkprodukte saam met ander kossoorte inneem om jou graad van verdraagsaamheid te bepaal.

(2) Eet jogurt en beleë kase, wat gewoonlik makliker verteer.

(3) Maak gebruik van enige beskikbare produk wat laktosevry is of wat laktase bevat.

As jy hierdie wenke toepas, kan jy met laktoseonverdraagsaamheid saamleef.

[Voetnoot]

^ par. 6 Laktoseonverdraagsaamheid kom meer onder Asiërs voor as enige ander groep. Mense van Noord-Europese afkoms word die minste hierdeur geraak.

[Venster/Prent op bladsy 26, 27]

Hoe laktoseonverdraagsaamheid gediagnoseer word

Verskeie metodes word gebruik om vas te stel of iemand laktoseonverdraagsaam is.

Laktoseverdraagsaamheidstoets: Nadat die pasiënt ’n tyd lank nie geëet het nie, drink hy ’n vloeistof wat laktose bevat. Bloedmonsters word geneem om vas te stel hoe goed die laktose verteer word.

Waterstofasemtoets: Onverteerde laktose gee verskeie gasse af, insluitende waterstof. Dit beweeg van die ingewande in die bloedstroom en dan in die longe in, waarna dit uitgeasem word.

Suurtoets van stoelgang: Onverteerde laktose in die dikderm veroorsaak sure wat in ’n stoelgangmonster waargeneem kan word.

’n Mens kan gewoonlik hierdie toetse as ’n buitepasiënt laat doen.