Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Beroemdheid gemeet aan boeke

“As die feit dat daar ’n boek oor jou geskryf is, beteken dat jy beroemd is, . . . bly Jesus Christus die beroemdste persoon in die moderne wêreld”, sê die Britse koerant The Guardian. Navorsing oor die boeke in die Kongresbiblioteek, in Washington, DC, het getoon dat daar 17 239 boeke oor Jesus is. Dit is amper dubbel die aantal wat oor William Shakespeare geskryf is, wat tweede plek beklee het met 9 801 boeke. Wladimir Lenin was derde met 4 492, gevolg deur Abraham Lincoln, wat 4 378 boeke oor hom gehad het, en dan Napoleon I, met 4 007. Maria, die moeder van Jesus, was in die sewende plek, met 3 595 boeke, en was die enigste vrou in die top-30. Jeanne d’Arc, die volgende vrou, het 545 boeke oor haar gehad. Wat komponiste betref, was Richard Wagner bo-aan die lys, gevolg deur Mozart, Beethoven en Bach. Picasso beklee die hoogste posisie op die lys van skilders, voor Leonardo da Vinci en Michelangelo. Leonardo is egter eerste op die lys van wetenskaplikes en uitvinders, en klop Charles Darwin, Albert Einstein en Galileo Galilei. “Daar is geen lewende persoon in die top-30 nie”, sê The Guardian.

Verlore paradys?

By ’n spesiale sitting van die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering het 43 klein eilandnasies hulle kommer uitgespreek oor gevare wat die omgewing bedreig, berig die Franse dagblad Le Monde. Baie van hierdie paradysagtige eilande word al hoe meer deur orkane, siklone, oorstromings en waterskaarstes bedreig. Volgens ’n persverklaring van die VN was Orkaan Mitch vir ongeveer 11 000 sterftes op die Karibiese Eilande verantwoordelik. Die Seychelle sowel as Mauritius het ernstige droogtes in die laaste twee jaar ondervind. Hoë temperature en besoedeling verbleik koraalriwwe, wat die biodiversiteit verminder. Eilandbewoners vrees ook die gevolge van stygende seevlakke weens aardverwarming. Daar word geskat dat 80 persent van die atolle in die Maledive onder die see kan verdwyn.

Lomerige bestuurders versus dronkbestuurders

“Te min slaap kan dieselfde uitwerking hê as om te veel te drink”, sê The New York Times. ’n Studie deur Stanford-universiteit het die reaksietyd nagegaan van 113 mense met slaapapnee—’n toestand wat slaap gedurende die nag onderbreek en lomerigheid in die dag veroorsaak—in vergelyking met dié van ’n kontrolegroep van 80 vrywilligers. Nadat hulle normale reaksietyd bepaal is, het die kontrolegroep drankies met ’n alkoholinhoud van 40 persent begin drink. “In drie uit sewe reaksietydtoetse het die mense met apnee slegter gevaar as dié wie se bloedalkoholvlak [0,08] persent was; dit wil sê, in 16 van die Amerikaanse state sou hulle te dronk gewees het om te bestuur”, het die Times berig. Volgens dr. Nelson B. Powell, die hoofnavorser, beklemtoon die bevindinge hoe gevaarlik dit is om te bestuur as jy lomerig voel.

Byna ’n derde van die wêreld is met TB besmet

Byna een derde van die wêreldbevolking—1,86 miljard mense—was in 1997 met TB besmet, sê ’n paneel van 86 gesondheidsdeskundiges uit meer as 40 lande. Die paneel, wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie gekies is, het ook geskat dat 1,87 miljoen mense daardie jaar aan die siekte gesterf het, terwyl 7,96 miljoen nuwe gevalle van besmetting aangemeld is. Die studie, wat in The Journal of the American Medical Association verskyn het, het gesê dat “tagtig persent van alle TB-gevalle in 22 lande voorgekom het, met meer as die helfte van die gevalle in 5 lande in Suidoos-Asië”. Volgens die studie was “nege van die 10 lande met die hoogste voorkomssyfers per capita in Afrika”. In party lande met hoë HIV-bemettingsyfers was meer as 50 persent van die gevalle noodlottig. Hoë TB-syfers duur voort omdat daar “swak beheer” oor die siekte in daardie lande is. Die skrywers van die studie voorspel dat daar vanjaar 8,4 miljoen nuwe TB-gevalle sal wees. Die meeste van diegene wat besmet is, word nooit daarvan siek nie. Maar ’n latente bakterie kan geaktiveer word wanneer die pasiënt ondervoed raak of sy immuunstelsel verswak, sê dieselfde bron.

Kinders wat aan sigaretrook blootgestel word

“Bykans die helfte van die wêreld se kinders woon saam met ’n roker”, sê die University of California Berkeley Wellness Letter, waar dit kommentaar lewer oor ’n onlangse verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie. “Dit is meer as 700 miljoen kinders.” As ’n mens in ag neem dat die aantal volwassenes wat rook gedurende die volgende 20 jaar na verwagting tot 1,6 miljard sal styg, beteken dit dat selfs meer kinders aan tweedehandse rook blootgestel sal word. Hierdie kinders loop ’n groter risiko om gesondheidsprobleme soos oorinfeksies en asemhalingsiektes te ontwikkel.

Suksesboek, min lesers

“Dit is die grootste suksesboek in die geskiedenis van die planeet”, sê die Star-Telegram, ’n koerant van Fort Worth, Texas. “Die Bybel, wat ’n kulturele simbool sowel as ’n geestelike toetssteen is, word deur drie groot wêreldgodsdienste met miljarde gelowiges as heilig beskou. Maar die feit dat dit oor die algemeen nie gelees word nie, is ’n paradoks wat selfs Salomo met al sy wysheid nie sou kon verduidelik nie.” Tog stel Bybelverkope nuwe rekords op, en volgens ’n navorsingsfirma besit die meeste Amerikaners—meer as 90 persent—gemiddeld drie vertalings. Een opname het egter getoon dat twee derdes van hulle nie die Bybel gereeld lees nie. Die meeste kan nie eers die name gee van die vier Evangelies of vyf van die Tien Gebooie noem nie. “En die meerderheid sê dat hulle die Bybel ontoepaslik vind”, voeg die koerant by.

Gesange vir die millennium

Britste kerkgangers “sal binnekort sokkerliedjies gedurende hulle aanbidding sing” as hulle besluit om die nuwe gesangeboek Songs for the New Millennium te gebruik, berig The Times van Londen. Hierdie nuwe boek, wat gesamentlik deur die Anglikaanse Kerk en Metodiste Kerk uitgegee word, bevat gesange wat tot die “liewe moeder-God” gerig is. Een pleit vir haar “moederliefde” en verwys deurgaans na God in die vroulike vorm. In ’n ander lied word Jesus voorgestel as ’n “speler-bestuurder” van ’n sokkerspan, en die refrein is ’n welbekende sokkerliedjie. Party van die liedere is deur kinders geskryf, insluitende ’n groep weeskinders wie se ouers aan vigs gesterf het. Dave Hardman, een van die organiseerders van die projek, het gesê: “Dit is ’n liedereboek wat alle tradisies bymekaarbring. Ons wou hê die skrywers van liedere moes die werklikhede van die lewe deur die oë van geloof aanspreek.”

Te veel mummies?

Egipte het ’n unieke probleem—te veel oudhede. Nuwe vondste word gedurig aangekondig: die pragtig versierde graf van Toetankamen se oppasser by Saqqara, ’n piramieddekklip by Dahshur, ’n baie groot tempelterrein by Akhmim, ’n enorme ondergrondse begraafplaaskompleks met meer as 200 kamers by Luxor, beeldhouwerk en ander artefakte uit hawens en paleise onder die see by Aleksandrië, om maar ’n paar te noem. Kaïro se Egiptiese Museum het alreeds meer as 120 000 antieke voorwerpe wat uitgestal word en selfs nog meer wat weggebêre is. “Elke week is daar opwindende nuwe vondste, wat nog groter druk plaas op die reeds oorvol pakkamers, asook die tyd en begrotings van diegene wat die artefakte moet ontleed, katalogiseer en herstel”, sê The Economist. Die ontdekking van ’n woestynbegraafplaas wat tot 10 000 grafte kan bevat, het een argeoloog laat sê: “Ons het nie nog mummies nodig nie.” Net ’n paar uitstaandes sal uitgestal word. Die res sal weer begrawe word.

Dodelike fopmyne

Angola het een van die hoogste konsentrasies van landmyne in die wêreld. Maar mynopruimers het nou met ’n nuwe probleem te kampe: fopmyne wat vir hulle bedoel is. Volgens The Sunday Times van Londen “het mynopruimingsdeskundiges twee soorte skakelaars aan die landmyne gevind. Een laat die landmyn afgaan wanneer dit aan lig blootgestel word en gebruik batterye wat tot 12 maande hou. Die ander een het ’n magnetiese lus of winding wat ontwerp is om ’n ontploffing te veroorsaak wanneer dit mynopruimingstoerusting bemerk”, wat meer as 20 meter daarvandaan kan wees. “Met ander woorde, dit is ’n ‘antimynopruimersmyn’”, het Tim Carstairs van die Landmynadviesgroep gesê. “Dit is spesifiek ontwerp om mense dood te maak, soos ons vrywilligers wat gemeenskappe probeer help om van hulle landmyne ontslae te raak.” Angola het nou ongeveer 70 000 mense wat ledemate weens myne verloor het—die meeste in die wêreld—en dokters doen elke maand gemiddeld 35 amputasies. Namate die strydende partye in Angola se burgeroorlog aanhou om myne te plant, verlaat boere hulle landerye en kan stede nie kosvoorrade kry nie. Die sekretaris-generaal van die VN, Kofi Annan, waarsku dat “honderdduisende Angolese ernstige ondervoeding, siekte en die dood in die gesig staar”.