Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Keuse van ’n huweliksmaat Baie dankie vir die vaderlike besorgdheid wat julle oor ons jongmense getoon het in die artikel “Die Bybelse beskouing: Hoe om ’n huweliksmaat te kies” (8 Oktober 1999). ’n Gebrek aan ondervinding laat baie jongmense oorhaastig trou, omdat hulle nie die verskil tussen verliefdheid en ware liefde kan onderskei nie. Ek sal eerder alleen wees as saam met iemand by wie ek nie pas nie.

S.R.M., Brasilië

Ek is 40 jaar oud en is nog ongetroud. Ek bid elke dag tot Jehovah om my te help om ’n maat te vind, en ek probeer hard om die eienskappe aan te kweek wat nodig is vir ’n suksesvolle huwelik. Die wenke om na iemand te soek wat geestelik sterk is, dieselfde doelwitte as jy het en die vrugte van God se gees probeer aankweek, was so aanmoedigend. Baie dankie dat julle my voorneme versterk het om op Jehovah te bly wag.

E. F., Verenigde State

Windswaels Ek hou al jare lank Europese windswaels van my balkon af dop terwyl hulle hulle neste bou. Hulle daag in Mei op en verdwyn skielik in Augustus. Danksy die artikel “Die windswael—Vlieg soos die wind” (8 Oktober 1999) weet ek nou baie meer omtrent hierdie fassinerende voëls.

A. D., Duitsland

Lewensverhaal Ek is nou al meer as ’n dekade ’n voltydse evangeliedienaar, en ek wou julle al dikwels bedank vir julle uitstekende artikels. Die wonderlike ondervindinge van die sendelinge beteken vir my die meeste. Ek wou nog altyd self een wees. Ondervindinge soos dié van Willem en Gré van Seijl (“Die werklikheid het my verwagtinge oortref”, 8 Oktober 1999) help om my begeerte om in die buiteland te dien lewendig te hou.

P. K., Verenigde State

Ek het die artikel gelees toe ek baie mismoedig gevoel het. Partykeer voel dit vir my of ek nooit my geestelike doelwitte sal bereik nie. Dit is ook vir my moeilik om ’n positiewe gesindheid teenoor my werk as ’n voltydse evangeliedienaar te behou. Willem en Gré het ’n goeie, optimistiese gesindheid behou ten spyte van struikelblokke, en Jehovah het hulle pogings geseën. Dit het my weer nuwe moed gegee dat ek ook my doelwitte kan bereik as ek my geloof sterk hou.

K. C., Verenigde State

Uitgaande Baie dankie vir die artikel “Jongmense vra . . . Waarom kan ek nie meer uitgaande wees nie?” (22 Oktober 1999). Ek is 17 jaar oud, en die artikel het my amper laat dink dat dit net vir my geskryf is. Dit het presies beskryf hoe ek hier binne my voel. Ek het al dikwels gehoor mense sê dat ek te veel van myself dink. Maar die feit dat iemand stiller as ander is, is nie ’n rede om daardie persoon te veroordeel nie.

R. R., Duitsland

’n Ernstige siekte wat ek as ’n kind gehad het, het my eensaam laat voel. Hierdie artikel het my gehelp om my gevoelens te verwerk en om ’n manier te vind om die situasie te bowe te kom. Ek gaan daaraan werk om vriende in my gemeente te maak.

J.F.F., Brasilië

Verkeerde syfer! Ek het nog altyd julle artikels en die feit dat hulle altyd so akkuraat is, geniet. Maar die brokkie “Motormanie” in “Ons beskou die wêreld” (8 September 1999) het gesê: “Na raming is daar tans ongeveer 40 miljoen voertuie in die Verenigde State in gebruik.” Die eintlike syfer is baie groter.

R. K., Verenigde State

Jammer vir hierdie fout. Ons het per ongeluk die verkeerde statistiek aangehaal. Daar is tans meer as 130 miljoen motors in die Verenigde State geregistreer.—RED.