Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer die “broeder” huis toe kom

Wanneer die “broeder” huis toe kom

Wanneer die “broeder” huis toe kom

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN KANADA

ELKE lente, ná sewe of agt maande van nomadiese lewe op see, keer die papegaaiduiker na sy tuiste in die Arktiese waters terug. Dit is die broeiseisoen, en die papegaaiduiker lyk omtrent of hy vir die geleentheid uitgevat is. Sy pote het helder oranje geword, en op sy snawel het ’n kleurvolle skildplaat gegroei, wat later afval. Hy behou sy kenmerkende swart en wit vere die hele jaar deur, en dit laat die papegaaiduiker amper soos ’n predikant lyk. Dit verklaar miskien die Atlantiese papegaaiduiker se wetenskaplike naam Fratercula arctica, wat “klein monnik, of broeder, van die noorde” beteken. *

Papegaaiduikers vlieg in klein swerms van 20 of 30 voëls na gate wat hulle in rotswande uitgrawe. Die papegaaiduiker sal sy maat gedurende die reis vind of wanneer hy by sy nes aankom. Dit is interessant dat baie papegaaiduikers jaar ná jaar dieselfde nes gebruik en dieselfde maat het.

Papegaaiduikers kan vlieg, maar hulle is beslis nie die wêreld se beste “vlieëniers” nie. Hulle aankoms op die strand lyk soms soos ’n noodlanding! Die papegaaiduiker sukkel ook so bietjie om in die lug te kom, en soms lyk dit of die voël se vlerke nie sy stewige liggaam sal dra nie. Vir sommige papegaaiduikers is dit selfs moeilik om uit die water te kom. Maar wanneer daardie vlerke eers klap—en hulle kan tot 400 keer per minuut klap—kan die papegaaiduiker ’n spoed van 80 kilometer per uur bereik.

Papegaaiduikers is blykbaar meer tuis in die see as op land. Maar land toe moet hulle kom, want die mannetjie en wyfie moet ’n nes vir hulle kuikens voorberei. Wanneer hulle die land bereik, sal hulle die nes skoonmaak, wat ’n tonnel van ongeveer 50 sentimeter tot sowat vier keer daardie lengte kan wees. Hulle voer die nes uit met gras, takkies en vere. Party papegaaiduikers bou hulle nes in openinge onder rotse of in rotsskeure. Die papegaaiduiker gebruik sy snawel om die grond los te werk, en dan vee hy die grond met sy gewebte pote weg.

Papegaaiduikers se hofmakery vind in die water plaas. Tydens die seremonie gooi die mannetjies hulle kop agteroor, stoot hulle bors uit, klap hulle vlerke op en af en slaan die paartjies herhaaldelik hulle snawels teen mekaar. Hierdie laaste ritueel word selfs ná paring voortgesit. Dit is blykbaar hoe die mannetjie en wyfie die band tussen hulle versterk.

Nadat ’n eier gelê is, neem die ouers dit letterlik onder hulle vlerke—’n verantwoordelikheid wat die mannetjie en wyfie deel. Ses weke later, wanneer die kuiken uitbroei, begin die eintlike werk. Die papegaaiduiker sit ’n week lank op die grysswart, sagte, donserige kuiken om hom te help om sy liggaamstemperatuur te handhaaf. Die ouers gaan nou meer dikwels see toe om genoeg kos vir hulle kuiken te kry. Die visvang-ekspedisies is nie te gevaarlik nie, aangesien daar soveel papegaaiduikers is wat tussen die see en die neste beweeg. Dit lyk asof al hierdie gewoel dit vir seemeeue en ander roofdiere moeilik maak om die neste aan te val.

Papegaaiduikers is uitstekende swemmers en duikers. Hulle gebruik hulle gewebte pote as stuurorgane en hulle vlerke om vorentoe te beweeg en kan meer as 30 sekondes op ’n diepte van amper 30 meter onder die water bly. ’n Papegaaiduiker sal soms met een of twee klein vissies—miskien lodde of sanddolke—in sy snawel by die nes aankom. Hoe kleiner die vissies natuurlik is, hoe meer van hulle kan die papegaaiduiker in sy snawel hou. Een van hierdie voëls is met meer as 60 vissies in sy snawel gesien! Plaatjies in sy mond wat agtertoe wys, stel die papegaaiduiker in staat om vis in sy snawel te hou terwyl hy nog vis vang. Dit is ’n goeie ding, as ’n mens in ag neem dat ’n kuiken 50 visse per dag kan eet.

Ná ongeveer ses weke keer die ouers weer terug see toe. Die kuiken, wat nou op sy eie gelaat word, verloor gewig ter voorbereiding om die nes te verlaat. Saans doen hy vlerkoefeninge. Uiteindelik waggel die papegaaiduiker in die nag see toe waar hy vinnig wegswem.

Twee tot drie jaar sal verloop voordat die jong papegaaiduiker na sy geboorteplek terugkeer, en hy sal vier of vyf jaar oud wees voordat hy paar. Die volwasse papegaaiduiker sal ongeveer ’n halwe kilogram weeg en net sowat 30 sentimeter hoog wees. Al is hierdie voëls betreklik klein, kan ’n gesonde papegaaiduiker ongeveer 25 jaar oud word. Een Atlantiese papegaaiduiker het tot die rype ouderdom van 39 geleef!

Deskundiges skat dat daar 20 miljoen Atlantiese papegaaiduikers is. Dit is fassinerend om hierdie voëls dop te hou. “Die papegaaiduiker is vermaaklik in selfs die mees alledaagse dinge”, het David Boag en Mike Alexander in hulle boek The Atlantic Puffin geskryf. En as jy naby die noordelike kusstreek van die Atlantiese of die Stille Oseaan woon, sal jy miskien een sien. Hoe dit ook al sy, een ding is seker—elke lente sal die “broeder van die noorde” huis toe kom, en ’n nuwe geslag seevoëls met donker vere sal gebore word.

[Voetnoot]

^ par. 3 Die naam kan ook verwys na die feit dat die papegaaiduiker sy gewebte pote teen mekaar hou wanneer hy uit die water opkom, asof hy bid.

[Prent op bladsy 15]

Papegaaiduikers by Witless-baai, Newfoundland

[Erkenning]

Met vergunning van: Tourism, Newfoundland and Labrador; fotograaf: Barrett and Mackay

[Foto-erkenning op bladsy 14]

Met vergunning van: Tourism, Newfoundland and Labrador

[Foto-erkenning op bladsy 15]

Tom Veso/Cornell Laboratory of Ornithology