Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat kan ’n gevangene by ’n voël leer?

Wat kan ’n gevangene by ’n voël leer?

Wat kan ’n gevangene by ’n voël leer?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SUID-AFRIKA

VOLGENS die Sunday Tribune van Durban speel voëls ’n rol daarin om die harte van gevangenes by die Pollsmoor-gevangenis te versag. Tans neem 14 gevangenes aan ’n program deel wat behels dat hulle kokketiele en parkiete in hulle selle versorg.

Hoe werk die program? Elke deelnemende gevangene het ’n tydelike broeimasjien in sy sel. ’n Pas uitgebroeide kuiken word vir ’n gevangene gegee om te versorg, en hy moet die hulpelose kuikentjie dan elke uur of twee, dag en nag, vir ongeveer vyf weke met die hand voer. Dan word die voëltjie in ’n hokkie gesit, wat ook in die sel gehou word. Wanneer die voël groot is, word hy aan die publiek verkoop. Party gevangenes raak so geheg aan hulle voëls dat hulle huil wanneer die onvermydelike afskeid plaasvind.

Dit was opmerklik dat selfs party geharde misdadigers meer teergevoelig en saggeaard geword het nadat hulle daagliks met die voëls gepraat en hulle versorg het. Een gevangene het gesê: “Ek maak die voëls mak, maar hulle het my ook mak gemaak.” ’n Ander een sê dat die voëls hom geduld en selfbeheersing geleer het. ’n Veroordeelde dief sê dat die versorging van ’n voël hom laat besef het dat dit “’n groot verantwoordelikheid is” om ’n ouer te wees—iets wat hy met sy eie kinders verwaarloos het toe hy vry was.

Die versorging van hierdie voëls hou nog ’n voordeel vir die gevangenes in. “Met die vaardighede wat hulle hier leer”, sê Wikus Gresse, wat die program begin het, “kan hulle buite by voëltelers of ’n veearts werk kry.”