Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Aarde wat vry is van landmyne

’n Aarde wat vry is van landmyne

’n Aarde wat vry is van landmyne

WIE kan die probleem van landmyne oplos? Soos ons gesien het, kan mensepogings nie haat, onverdraagsaamheid en hebsug uitroei nie. Bybelstudente besef egter dat die Skepper ’n blywende oplossing kan bring. Maar hoe gaan hy dit doen?

’n Vreedsame gemeenskap

Dit is mense wat oorloë voer, nie wapens nie. As ons dus vrede wil sien, moet die haat verwyder word wat mense in rasse-, stam- en nasionale groepe verdeel. God beloof om dit te doen deur middel van sy Koninkryk, waarvoor miljoene regoor die wêreld geleer is om te bid.—Matteus 6:9, 10.

Die Bybel praat van Jehovah as “die God wat vrede gee” (Romeine 15:33). Die vrede wat God bied, is nie op verbooie en verdrae gebaseer nie, en dit is ook nie gegrond op vrees vir vergelding deur vyandelike lande wat goed bewapen is nie. Inteendeel, godgegewe vrede behels veranderinge in die manier waarop mense dink en in hulle gesindhede teenoor ander mense.

Jehovah God sal sagmoediges in sy weë van vrede opvoed (Psalm 25:9, NW). Sy Woord, die Bybel, beloof ’n tyd wanneer almal wat lewe ‘deur Jehovah geleer sal wees, en die vrede van jou kinders oorvloedig sal wees’ (Jesaja 54:13). Dit vind in ’n mate reeds plaas. Jehovah se Getuies is regoor die wêreld bekend dat hulle vrede onder mense uit selfs die uiteenlopendste agtergronde bevorder. Mense wat die verhewe beginsels van die Bybel geleer word, streef daarna om in eenheid te lewe, ondanks geskille wat hulle andersins sou verdeel. Bybelopvoeding verander hulle hele uitkyk van een van haat tot een van liefde.—Johannes 13:34, 35; 1 Korintiërs 13:4-8.

Behalwe opvoeding is die behoefte aan wêreldwye samewerking al lank as ’n noodsaaklike element beskou om van wapens ontslae te raak. Die Internasionale Komitee van die Rooi Kruis beveel aan dat die internasionale gemeenskap ’n verenigde poging aanwend om maatreëls te bevorder wat die bedreiging van landmyne nie net sal voorkom nie, maar ook sal help om dit teë te werk.

Jehovah beloof dat hy veel meer sal doen. Die profeet Daniël het voorspel: “Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie . . . dit sal al daardie [bestaande] koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”—Daniël 2:44.

God se Koninkryk sal doen wat mense nie kan doen nie. Psalm 46:9 (NW) sê byvoorbeeld profeties: “Hy [Jehovah] laat oorloë ophou tot aan die einde van die aarde. Die boog verbreek hy en die spies kap hy stukkend; die waens verbrand hy met vuur.” God se Koninkryk sal ’n klimaat skep waarin die mens waarlik vrede met sy Skepper en met sy medemens sal kan geniet.—Jesaja 2:4; Sefanja 3:9; Openbaring 21:3, 4; 22:2.

Augusto, wat aan die begin van die vorige artikel genoem is, word deur hierdie Bybelboodskap vertroos. Sy ouers, wat Getuies van Jehovah is, help hom om geloof te stel in die wonderlike beloftes van die Bybel (Markus 3:1-5). Intussen moet hy natuurlik die pynlike nagevolge verduur van die landmynontploffing wat hom vermink het. Augusto sien nietemin uit na die dag wanneer God se belofte van ’n paradysaarde verwesenlik gaan word. ‘Dan’, het die profeet Jesaja voorspel, ‘sal die oë van die blindes geopen word, en die lamme sal spring soos ’n takbok.’—Jesaja 35:5, 6.

In daardie komende Paradys sal landmyne nie meer ’n bedreiging wees vir mense se lewe en ledemate nie. Mense in alle wêrelddele sal eerder in veiligheid woon. Die profeet Miga het dit só beskryf: “Hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek.”—Miga 4:4.

Wil jy graag meer leer omtrent God se beloftes soos dit in sy Woord, die Bybel, uiteengesit is? Kom gerus met Jehovah se Getuies in jou omgewing in aanraking of skryf na die gepaste adres op bladsy 5 van hierdie tydskrif.

[Prent op bladsy 8, 9]

Onder God se Koninkryk sal landmyne nie meer ’n bedreiging wees nie