Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Anakondas—Wat nuwe navorsing aan die lig bring

Anakondas—Wat nuwe navorsing aan die lig bring

Anakondas—Wat nuwe navorsing aan die lig bring

Deur ’n Ontwaak!-redaksielid

EK WEET nie van jou nie, maar daar is min diere wat my so fassineer soos reuseslange. En met reuseslange bedoel ek anakondas, lede van die familie Boidae. Ondanks hulle enorme grootte is daar, merkwaardig genoeg, min oor hulle gedrag bekend—wel, dit was tot onlangs die geval.

In 1992 het die bioloog Jesús A. Rivas en navorsers van die Natuurbewaringsvereniging (NBV) in New York hierdie reuse vir die heel eerste keer in die natuur bestudeer. * Toe ek lees dat hierdie ses jaar lange veldstudie, wat in ’n moerasagtige deel van Venezuela gedoen is, nuwe feite aan die lig gebring het, het ek gewonder wat hulle ontdek het. Vandag gaan ek probeer uitvind.

Oor name en spesies

Op ’n sonnige middag stap ek uit my kantoor in Brooklyn en vat koers na die hoofkwartier van die NBV, in New York-stad se Bronx-dieretuin. Ek het alreeds genoeg navorsing gedoen om ’n paar dinge oor anakondas te weet.

Eienaardig genoeg, die naam anakonda het dalk sy oorsprong ver van die dier se Suid-Amerikaanse tuiste gehad. Party sê dit kom van die Tamilwoorde anai, wat “olifant” beteken, en kolra, wat “doder” beteken. Ander meen dat dit van die Singala-woord henakandajā (hena beteken “weerlig”, en kanda beteken “stam”) kom. Die Singala-woorde—wat oorspronklik in Sri Lanka vir luislange gebruik is—is waarskynlik deur Portugese handelaars van Asië na Suid-Amerika gebring.

Gepraat van verkeerde benamings, selfs die anakonda se amptelike naam, Eunectes murinus, is nie heeltemal reg nie. Eunectes beteken “goeie swemmer”—wat hy wel is. Maar murinus staan vir “muiskleurig”. Vir ’n slang met ’n olyfgroen vel is hierdie naam “nie werklik gepas nie”, sê een naslaanwerk.

Daar is nog een ding om omtrent die dier se wetenskaplike name en indelings te noem. Boeke oor anakondas sê gewoonlik dat daar twee soorte anakondas is. Een is die onderwerp van hierdie artikel—die groen anakonda, of waterboa, wat hoofsaaklik in die moerasse van die Amasone- en Orinocobekkens en in die Guianas gevind word. Die ander soort is die kleiner geel anakonda (E. notaeus), wat inheems in Paraguay, suidelike Brasilië en noordelike Argentinië is.

Ontmoet ’n kenner

Hier is ek by die Bronx-dieretuin. Hierdie beboste natuurreservaat, wat 107 hektaar groot is, is die tuiste van meer as 4 000 diere, waaronder ’n stuk of 12 anakondas. William Holmstrom van die NBV se Departement van Herpetologie (die studie van reptiele) is in sy kakieklere by die dieretuin se ingang om my te ontmoet. Mnr. Holmstrom—’n 51-jarige New Yorker met ’n bril, snor en vriendelike glimlag—is die hoof van die dieretuin se reptielafdeling en was betrokke by die veldstudie van anakondas in Venezuela. Hy sê dat wetenskaplikes nou die bestaan erken van ’n derde soort anakonda (E. deschauenseei), wat in noordoostelike Brasilië en aan die kus van Frans-Guiana gevind word. * Vanmiddag sal ek ’n gesaghebbende gids in mnr. Holmstrom hê.

Ek kom gou agter dat my gids slange liefhet op ’n manier wat ander poedels of parkiete liefhet. Hy vertel vir my dat sy ouers se huis sedert sy kinderdae ’n tuiste vir salmanders, paddas en so meer was. “My pa het van hulle gehou. My ma het hulle verdra.” Dit is onnodig om te sê dat mnr. Holmstrom na sy pa aard.

Indrukwekkende grootte en besonderse verskille

Binne die reptielhuis wat 100 jaar oud is, gaan staan ons twee voor ’n hok wat ’n anakonda huisves. Hoewel ek na ’n dier kyk wat ek verwag het om te sien, kan ek nie help om my te verwonder nie. Ek verstom my oor sy grootte en buitengewone proporsies. Sy kop, wat ’n stomp neus het en groter as ’n man se hand is, word verdwerg deur die groot lyf wat daaraan vas is. My gids sê vir my dat hierdie indrukwekkende reptiel ’n vyf meter lange wyfie is wat sowat 80 kilogram weeg. Hoewel haar lyf amper so dik soos ’n telefoonpaal is, het ek uitgevind dat sy maar ’n “pikkie” is in vergelyking met die wêreldrekordhouer—’n lywige anakondawyfie wat in 1960 gevang is en wat volgens skattings 230 kilogram geweeg het!

Geen anakondamannetjie kan selfs daarvan droom om so groot te word nie. Hoewel herpetoloë geweet het dat anakondamannetjies kleiner as die wyfies is, het die veldstudie gevind dat die mannetjies soveel kleiner is dat hulle soos miniatuurweergawes van die wyfies lyk. Trouens, die studie het getoon dat wyfies gemiddeld vyf keer groter as die mannetjies is. Hierdie reuseverskil in grootte tussen die geslagte kan misleidend wees, soos die bioloog Jesús Rivas ontdek het. Hy het voorheen ’n baba-anakonda as ’n troeteldier aangehou, maar het altyd gewonder waarom die kleinding hom die heeltyd byt. Dit was eers gedurende die veldstudie dat dit tot hom deurgedring het dat hy eintlik ’n uitgegroeide en geïrriteerde mannetjie as troeteldier gehad het!

Gesoek!—Beloning uitgeloof

Hoewel ’n anakonda se grootte sy uitstaande kenmerk is, is sy lengte net so indrukwekkend. Anakondas is nou weliswaar nie so enorm soos Hollywood hulle uitbeeld nie—een rolprent het ’n anakonda in ’n hoofrol gehad wat 12 meter lank was—maar hulle maksimumlengte van ongeveer nege meter is asemrowend genoeg om te aanskou.

Sulke groot anakondas is baie skaars. Die grootste wyfies wat gedurende die studie gevang is, het sowat 90 kilogram geweeg en was in die omgewing van 5 meter lank. Trouens, dit is so moeilik om groter anakondas te vind dat ’n beloning van $1 000 (R6 000), wat sowat 90 jaar gelede deur die Soölogiese Vereniging van New York (die voorloper van die NBV) uitgeloof is, vir enige lewende slang langer as 9,2 meter tot vandag toe nog nie uitbetaal is nie. “Ons kry twee of drie oproepe per jaar van mense in Suid-Amerika wat aanspraak maak op die beloning”, sê mnr. Holmstrom, “maar wanneer ons hulle vra om vir ons bewyse van hulle vangs te stuur sodat ons kan bepaal of dit die moeite werd is om daarna te gaan kyk, kry ons nooit die bewyse nie.” O ja, terloops, die beloning vir so ’n groot slang is nou $50 000 (R300 000)!

Van naderby bekyk

Ek volg my gids na die tweede vloer van die reptielhuis, wat as ’n aanhoudings- en broeiarea dien. Die plek is warm en vogtig. Sodat ek onbelemmerd kan kyk na die onderwerp waarin ek belangstel, maak mnr. Holmstrom die deur van ’n hok oop waarin daar ’n groot wyfieanakonda is.

Op hierdie stadium is daar sowat twee meter—en niks anders nie—tussen ons en die dier. Dan lig die anakonda haar kop stadig op en beweeg geleidelik in ons rigting. Nou is daar net een meter oor tussen die anakonda se kop en ons s’n.

“Ons moet maar liewer uitgaan”, sê mnr. Holmstrom droog, “dalk soek sy kos.” Ek stem saam. Hy maak die deur van die hok toe, en die anakonda se kop beweeg terug tot dit geleidelik naby die middel van haar opgekrulde lyf tot ruste kom.

As jy daarin slaag om die anakonda se kwaai blik te ignoreer en goed na sy rooigestreepte kop kyk, sal jy sien dat dit ’n buitengewone voorkoms het. Die anakonda se oë en neusgate vorm byvoorbeeld die hoogste punte op sy kop. Dit stel die slang in staat om sy liggaam en kop onder die water en sy oë en neusgate net bo die wateroppervlak te hou—baie soos alligators doen. Dit verduidelik hoe die slang sy prooi kan nader terwyl hy gekamoefleer bly.

’n Stewige greep en los kake

Die anakonda is nie giftig nie. Hy maak sy prooi dood deur hom stewig om sy prooi te krul. Hy druk nie sy prooi dood nie, maar elke keer wanneer die slagoffer uitasem, krul die slang hom stywer om die hulpelose slagoffer tot hy versmoor. Omtrent alles—van eende tot takbokke—word as ’n moontlike maaltyd beskou. Maar daar is min betroubare verslae van mense wat deur anakondas geëet is.

Aangesien slange nie hulle kos kan kou of skeur nie, moet die anakonda noodgedwonge sy dooie prooi heel insluk—selfs as die prooi heelwat groter as die slang self is. Trouens, as jy soos ’n anakonda kon eet, sou jy jou lippe om ’n kokosneut kon kry en dit heel kon insluk asof dit ’n grondboontjie is. Hoe doen die anakonda dit?

“Hy beweeg sy kop oor die prooi”, sê mnr. Holmstrom. Hy verduidelik dat die anakonda se kake lossies aan sy kop vas is. Voor hy sy tande in ’n lywige slagoffer slaan, kan hy sy onderkaak laat sak en uitsprei. Dan stoot die anakonda een kant van sy onderkaak vorentoe, haak sy tande wat na agter wys in sy prooi en trek daardie kant van die kaak en die prooi terug in sy mond in. Dan herhaal hy dieselfde stappe met die ander helfte van sy onderkaak. Die bokaak kan in ’n sekere mate dieselfde doen. Met hierdie afwisselende voorwaartse beweging lyk dit inderdaad of die dier se kake oor die prooi loop. Wanneer die prooi ingesluk is, wat etlike ure kan duur, gaap die slang ’n paar keer, en die verskillende dele van sy soepel kop val terug in posisie.

Wat keer dat die anakonda verstik? Die teenwoordigheid van ’n verlengbare lugpyp wat in die onderste deel van sy mond is. Terwyl die anakonda sy kos geleidelik na binne werk, stoot die anakonda sy lugpyp uit na die voorkant van sy mond. Op hierdie manier gee die snorkelagtige lugpyp die anakonda toegang tot lug terwyl hy eet.

Wie is wie?

My gids haal nou die deksel van ’n terrarium af, en ons kyk af na twee jong anakondas. Hulle eenderse voorkoms laat my wonder hoe die navorsers kon onderskei tussen die honderde wilde anakondas wat hulle gedurende hulle Venezuela-projek bestudeer het.

Mnr. Holmstrom verduidelik dat hulle die probleem probeer oplos het deur klein brandysters van skuifspelde te maak. Hulle het die “ysters” warm gemaak en klein nommers op die anakondas se koppe gebrand. Die metode het goed gewerk totdat die slange vervel het—en hulle nommers verloor het! Die navorsers het egter opgelet dat elke anakonda alreeds sy eie herkenningsteken het. Elke slang het ’n patroon van swart vlekke op die geel onderkant van sy stert—wat so uniek aan elke slang is soos ’n mens se vingerafdruk. “Al wat ons moes doen, was om ’n diagram te maak van die patroon op ’n stukkie vel wat 15 skubbe lank is, en ons het genoeg variasies gehad om die 800 slange wat ons bestudeer het, uit mekaar te ken.”

Die vinnigste, die fiksste of die sterkste?

Toe ons amper klaar was met die onderhoud in mnr. Holmstrom se kantoor, wys hy vir my ’n foto wat hy in Venezuela geneem het van anakondamannetjies wat om mekaar gekrul is. Dit is ’n fassinerende gesig. Hy verduidelik dat hierdie deurmekaar geknoopte anakondaliggame ’n sogenaamde paringsbal vorm. (Sien foto op bladsy 26.) “Iewers binne hierdie bal is ’n anakondawyfie. Eenkeer het ons ’n wyfie gekry met 13 mannetjies wat om haar gekrul was—dit was ’n rekord.”

Baklei die mannetjies? Wel, dit is meer ’n stoeigeveg wat in stadige aksie plaasvind. Elke manlike deelnemer probeer die ander uit die pad druk en homself in ’n posisie plaas waar hy met die wyfie kan paar. Die geveg kan van twee tot vier weke duur. Wie wen? Die vinnigste (die mannetjie wat die wyfie eerste kry), die fiksste (die mannetjie wat die meeste sperm vervaardig) of die sterkste (die mannetjie wat die ander uit die pad stoei)? Navorsers hoop om binnekort die antwoord te vind.

Aan die einde van die middag bedank ek my gids vir sy boeiende toer. Op pad terug na my kantoor, dink ek na oor wat ek geleer het. Ek voel weliswaar nog steeds nie soos die bioloog Jesús Rivas, wat sê dat “anakondas pret is” nie, maar ek moet erken dat anakondas beslis my belangstelling geprikkel het. Terwyl navorsers voortgaan om anakondas in die natuur te bestudeer, sal dit interessant wees om te sien of daar nog fassinerende feite aangaande hierdie reuseslange aan die lig kom.

[Voetnote]

^ par. 4 Venezuela se Departement van Natuurbewaring en deelnemers aan die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Flora- en Faunaspesies het gehelp om die studie te finansier.

^ par. 11 Journal of Herpetology, uitgegee deur die Vereniging vir die Bestudering van Amfibieë en Reptiele, nr. 4, 1997, bladsye 607-9.

[Prent op bladsy 24]

Die anakondaveldstudie in Venezuela

[Prent op bladsy 25]

William Holmstrom

[Prent op bladsy 26]

’n Anakondaparingsbal