Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Beïnvloed die maan jou lewe?

Beïnvloed die maan jou lewe?

Beïnvloed die maan jou lewe?

MENSE glo al duisende jare lank dat die maan sekere aspekte van lewe op die aarde beheer. Die fases van die maan het volgens sommige ’n uitwerking op plante, diere en selfs mense. Hoewel party lank gekoesterde idees deur moderne wetenskaplike navorsing as vals bewys is, het ander opvattings tot vandag toe behoue gebly. Wat toon die feite?

Sommige mense is oortuig dat daar ’n verband tussen die fases van die maan en die groei van plante is. Gevolglik gebruik hulle kalenders en almanakke om te besluit wanneer om blomme te plant, mis te strooi, wyn te bottel of ingelegde vrugte te maak. Hulle doen dit omdat hulle glo dat die produk van ’n swakker gehalte sal wees as sekere take gedurende die verkeerde fase van die maan gedoen word. Een bron gee hierdie raad aan tuiniers: “Groente wat vars geëet gaan word, moet gewoonlik gedurende die groeiende maan gepluk word, terwyl groente wat ingelê gaan word gedurende die afnemende maan gepluk moet word.” Is daar ’n wetenskaplike grondslag vir hierdie gebruik?

’n Paar studies toon dat daar blykbaar ’n verband tussen die groei van plante en maanritmes is. Baie wetenskaplikes is egter nie oortuig nie. Hulle wys daarop dat maanritmes kompleks is, hulle nie heeltemal reëlmatig is nie en die uitwerkings daarvan nie opvallend is nie, en daarom is dit moeilik om die eksperimente te herhaal waarop die studies gebaseer is.

Die uitwerking van die maan op sekere dinge is egter al bevestig. Daar is byvoorbeeld al bewys dat die aktiwiteite, voeding, voortplanting en biologiese ritmes van talle lewende organismes met die getye verband hou, wat weer direk deur die aantrekkingskrag van die maan beïnvloed word.

Party sê dat, as die maan die getye beïnvloed, dit ook ’n uitwerking op mense moet hê, aangesien ’n groot deel van die menseliggaam uit water bestaan. En wat van die sogenaamde verband tussen die fases van die maan en geestesiektes, ’n mens se geboortedag en selfs die menstruele siklus, wat omtrent net so lank soos ’n maanmaand is?

Studies is al op die gebiede van die psigiatrie, sielkunde en ginekologie gedoen om agter die waarheid van hierdie saak te kom. Die resultate was nie oortuigend nie. Party navorsers sê dat hulle geringe verbande tussen menslike bedrywighede en maanritmes gevind het, maar ander sê reguit dat daar hoegenaamd geen verband bestaan nie. As maansiklusse ’n definitiewe invloed tydens ’n mens se geboorte uitgeoefen het, sou die verband na hulle mening lank gelede duidelik gewees het. Daarbenewens het nie een van die teorieë wat voorgelê is om die sogenaamde uitwerking van die maan op die mens te verklaar wetenskaplikes oor die algemeen oortuig nie. *

Al het wetenskaplikes bewys dat die maan ’n invloed op verskillende lewensvorme op aarde het, is dit nie maklik om te bepaal hoe groot hierdie invloed is nie. Ons fisiese heelal is kompleks, en vir eers is baie van die merkwaardige meganismes wat dit reguleer nog steeds ’n geheim.

[Voetnoot]

^ par. 7 Party van hierdie teorieë hou verband met maanlig, aantrekkingskrag, geomagnetiese kragte en elektromagnetisme.

[Prent op bladsy 19]

Die godin Selene, wat deur die eertydse Grieke en Romeine as die verpersoonliking van die maan aanbid is

[Erkenning]

Musei Capitolini, Roma