Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe ons gesin weer verenig is

Hoe ons gesin weer verenig is

Hoe ons gesin weer verenig is

Soos vertel deur Lars en Judith Westergaard

HULLE huis lyk soos enige ander huis in Denemarke waarin daar ’n gelukkige gesin woon. Dit is ’n gerieflike huis met ’n mooi tuin in ’n stil dorpie. Binne-in die huis aan die muur hang ’n groot foto van kinders wat gesond en gelukkig lyk.

Die vader, Lars, is ’n ouer man in ’n gemeente van Jehovah se Getuies. Sy vrou, Judith, is ’n pionier (’n voltydse evangeliedienaar). Hoewel hulle ’n gelukkige paartjie is, was dit nie altyd die geval nie. Lars en Judith se huwelik was vol probleme en hartseer wat tot ’n egskeiding en die verbrokkeling van hulle gesin gelei het. Maar nou is hulle gesin weer bymekaar. Waarom? Hulle verduidelik self wat gebeur het.

Lars en Judith gee nie om om te vertel waarom hulle huwelik so verskriklik skeef geloop het en hoe hulle weer verenig is nie. Hulle voel dat hulle ondervinding ander moontlik sal help.

Dit het so goed begin

Lars: Aan die begin, in April 1973, kon ons huwelik nie gelukkiger gewees het nie. Dit het gelyk of ’n rooskleurige toekoms op ons wag. Ons het nie die Bybel geken of van Jehovah se Getuies geweet nie, maar ons was daarvan oortuig dat ons die wêreld ’n baie beter plek kon maak om in te woon as almal net hard genoeg daaraan gewerk het. Ons het gevolglik by baie politieke pogings betrokke geraak. Ons het al hoe gelukkiger geword namate ons gesin gegroei het en ons uiteindelik drie gesonde en lewendige seuns gehad het—Martin, Thomas en Jonas.

Judith: Ek het ’n bestuurspos in ’n afdeling van die staatsdiens gehad. Terselfdertyd was ek ook betrokke by die politiek en vakbondbedrywighede. Ek is geleidelik leierskapsposisies gegee.

Lars: Ek het weer vir ’n groot vakbond gewerk en het tot ’n belangrike posisie gevorder. Dit kon nie beter gaan met ons loopbane nie, en daar was nie ’n wolkie in die lug nie.

Ons raak van mekaar vervreemd

Lars: Maar ons was so besig met ons afsonderlike lewens dat ons al hoe minder tyd saam deurgebring het. Ons het vir dieselfde politieke party gewerk, maar in verskillende dele daarvan. Ander mense het na ons drie seuns gekyk, hetsy privaat of in dagsorgsentrums. Omdat ons al twee oor ons eie belange besorg was, het ons gesinslewe ongeorganiseerd begin raak. As ons saam by die huis was, het ons dikwels op mekaar geskree. Toe het ek alkohol as ’n soort kalmeermiddel begin gebruik.

Judith: Ons was natuurlik nog lief vir mekaar en vir die kinders, maar ons liefde het nooit gegroei soos dit moes nie; dit het gelyk asof dit gekwyn het. Ons verhouding het baie negatief geword, en die kinders het gevolglik daaronder gely.

Lars: In ’n desperate poging om ons gesin te red, het ek besluit om my bedanking in te dien. In 1985 het ons uit die stad getrek na die dorp waar ons nou woon. ’n Ruk lank het sake verbeter, maar ek en my vrou het ons nog steeds op ons afsonderlike belange toegespits. In Februarie 1989 het ons 16 jaar van getroude lewe uiteindelik in ’n egskeiding geëindig. Ons gesin het verbrokkel.

Judith: Dit was verskriklik om te sien hoe ons gesin uitmekaargeskeur word en hoe die kinders gely het. Ons was so verbitterd dat ons nie eers kon ooreenkom om toesig oor ons seuns te deel nie, en daarom het ek toesig oor al drie van hulle gekry.

Lars: Ek en Judith het ’n paar desperate pogings aangewend om ons verbrokkelende gesin bymekaar te hou. Ons het selfs tot God gebid om ons te help. Maar ons het so min van God geweet.

Judith: Ons gebede het ons met die gevoel gelaat dat God nie luister nie. Ons is dankbaar dat ons sedertdien gesien het dat God wel na gebede luister.

Lars: Ons het glad nie geweet dat ons hard moes werk en self veranderinge moes aanbring nie. Gevolglik het die egskeiding ongelukkig ’n werklikheid geword.

’n Onverwagte verandering in Lars se lewe

Lars: Maar terwyl ek op my eie gewoon het, het iets heeltemal onverwags met my gebeur. Eendag het ek twee tydskrifte by Jehovah se Getuies geneem. Voorheen het ek altyd die Getuies weggewys. Maar toe ek deur daardie tydskrifte gekyk het, het ek gesien dat die Getuies in God sowel as Jesus Christus glo. Dit was ’n groot verrassing. Ek het nie geweet dat hulle Christene is nie.

In daardie selfde tyd het ek by ’n vrou ingetrek wat ek ontmoet het. Toevallig was sy voorheen een van Jehovah se Getuies. Toe ek haar vrae begin vra, het sy vir my in die Bybel gewys dat God se naam Jehovah is. “Jehovah se Getuies” beteken dus “God se getuies”!

Die vrou het gereël dat ek ’n openbare toespraak by ’n Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies bywoon. Wat ek daar gesien het, het werklik my belangstelling geprikkel. Ek het na die plaaslike Koninkryksaal gegaan om meer te leer, en ’n Bybelstudie is met my begin. Dit het my nie lank geneem om te besef dat my lewenswyse verkeerd was nie, en daarom het ek van my vriendin weggetrek en op my eie in my tuisdorp gaan woon. Ek was eers nie seker wat ek moes doen nie, maar toe het ek met Jehovah se Getuies daar in verbinding getree en my Bybelstudie voortgesit.

Maar ek was nog steeds nie seker nie. Was Jehovah se Getuies werklik God se knegte? Wat van al die dinge wat ek as kind geleer het? Aangesien ek as ’n Sewendedagadventis grootgemaak is, het ek ’n Adventiste-predikant gaan spreek. Hy het ingestem om elke Woensdag met my te studeer, terwyl Jehovah se Getuies elke Maandag met my gestudeer het. Wat ek wou hê, was ’n duidelike antwoord van albei groepe oor vier spesifieke sake: Christus se wederkoms, die opstanding, die leerstelling van die Drie-eenheid en die manier waarop die gemeente georganiseer moet wees. Dit het my net ’n paar maande geneem om alle twyfel uit die weg te ruim. Oor al vier kwessies—en oor alle ander sake—was slegs wat Jehovah se Getuies leer ten volle op die Bybel gegrond. As gevolg hiervan het ek gretig aan al die gemeentelike bedrywighede begin deelneem en kort daarna my aan Jehovah toegewy. In Mei 1990 is ek gedoop.

Wat van Judith?

Judith: Toe die probleme in ons huwelik op hulle ergste was, het ek weer kerk toe begin gaan. Ek was glad nie gelukkig toe ek hoor dat Lars een van Jehovah se Getuies gaan word nie. Ons jongste seun Jonas, wat tien jaar oud was, het soms by sy pa gaan kuier, maar ek het Lars belet om Jonas na enige vergaderinge van die Getuies te neem. Lars het die saak na die owerheid geneem, maar hulle was aan my kant.

Ek het ’n ander man ontmoet. Ek het ook meer betrokke geraak by die politiek en allerhande gemeenskapswerk. As enigiemand dus op daardie stadium gesê het dat ons gesin moontlik weer bymekaar sou kom, sou dit onmoontlik gelyk het.

Ek het skietgoed teen Jehovah se Getuies gesoek en het na die predikant van die plaaslike kerk gegaan, wat dadelik erken het dat hy niks omtrent die Getuies geweet het en geen lektuur oor hulle gehad het nie. Al wat hy gesê het, was dat ek liewer van hulle af moes wegbly. Dit het my negatiewe beskouing van Jehovah se Getuies natuurlik geensins verander nie. Maar toe is ek gedwing om hulle op ’n manier te ontmoet wat ek nooit verwag het nie.

My broer wat in Swede woon, het een van Jehovah se Getuies geword, en ek is na sy troue in ’n Koninkryksaal genooi! Daardie ondervinding het my beskouing van die Getuies heeltemal verander. Tot my verbasing was hulle nie so oninteressant as wat ek altyd gedink het nie. Hulle was vriendelik en gelukkig en het selfs ’n goeie sin vir humor gehad.

Intussen het my gewese man, Lars, heeltemal verander. Hy was verantwoordeliker, het tyd met die kinders deurgebring, was vriendelik en het sy tong in toom gehou en het nie te veel gedrink soos in die verlede nie. Hy het so ’n aantreklike persoonlikheid gehad! Hy was nou presies die soort man wat ek altyd wou hê hy moes wees. Dit was so frustrerend om te dink dat ek nie meer met hom getroud was nie en dat ’n ander vrou dalk eendag met hom sou trou!

Toe het ek ’n subtiele “aanval” beplan. Toe Jonas eenkeer by sy pa gekuier het, het ek gereël dat ek en my twee susters Jonas en Lars besoek onder die voorwendsel dat sy twee tantes die geleentheid moet hê om hulle nefie te sien. Ons het in ’n pretpark ontmoet. Terwyl my susters by Jonas was, het ek en Lars op ’n bankie gaan sit.

Toe ek oor ons toekoms begin praat, het Lars tot my verbasing ’n boek uit sy sak gehaal. Dit was die boek Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou. * Hy het my die boek gegee en voorgestel dat ek die hoofstukke oor die rol van die man en die vrou in ’n gesin lees. Hy het ’n punt daarvan gemaak om te sê dat ek die tekste moet naslaan.

Toe ek en Lars van die bankie af opgestaan het, wou ek sy arm neem, maar hy het dit vriendelik afgewys. Lars was nie van plan om ’n nuwe verhouding met my te begin sonder om eers my beskouing van sy nuwe geloof te weet nie. Dit het my bietjie ontstel, maar toe het ek besef dat sy gesindheid heeltemal redelik was en dat dit tot my eie voordeel sou strek as hy ooit weer my man word.

Dit het my nuuskierigheid oor Jehovah se Getuies net verder geprikkel. Die volgende dag het ek in verbinding getree met ’n vrou wat ek geweet het ’n Getuie is, en ons het gereël dat sy en haar man my die inligting gee wat ek oor hulle godsdiens wou hê. Hulle het al my vrae uit die Bybel beantwoord. Ek kon sien dat die leringe van Jehovah se Getuies heeltemal op die Bybel gegrond is. Op die een punt na die ander moes ek erken dat dit die waarheid is.

Gedurende daardie tyd het ek as lid van die Evangelies-Lutherse Kerk bedank en my politieke bedrywighede beëindig. Ek het selfs opgehou rook. Dit was vir my die heel moeilikste ding om te doen. Ek het in Augustus 1990 die Bybel begin bestudeer, en in April 1991 is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop.

Hulle tweede troue

Judith: Ons was nou albei gedoopte Getuies. Hoewel ons elkeen ons eie gang gegaan het, het ons albei die Bybel bestudeer. Danksy die uitstekende leringe daarin was ons anders as wat ons voorheen was. Ons het nog steeds vir mekaar omgegee, miskien selfs meer as voorheen. Ons was vry om weer met mekaar te trou—en dit is wat ons gedoen het. Ons het ons huweliksgeloftes vir die tweede keer afgelê, maar hierdie keer in die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies.

Lars: Die ongelooflike het gebeur—ons gesin was weer verenig! Hoe gelukkig en vreugdevol was ons tog nou!

Judith: Ons seuns, baie familielede en talle nuwe en ou vriende het die huwelik bygewoon. Dit was ’n wonderlike ondervinding. Onder die gaste was mense wat ons geken het toe ons vantevore getroud was; hulle was bly om ons weer saam te sien en verbaas om die opregte vreugde onder Jehovah se Getuies te sien.

Die kinders

Lars: Vandat ons gedoop is, het ons ook die vreugde gehad om te sien hoe twee van ons seuns besluit het om hulle lewe aan Jehovah toe te wy.

Judith: Jonas het die waarheid in die Bybel waardeer vandat hy dit as kind geleer het terwyl hy by sy pa gekuier het. Hy was net tien toe hy vir my gesê het dat hy by sy pa wou intrek, want soos hy verduidelik het: “Pa doen wat die Bybel sê.” Jonas is gedoop toe hy 14 was. Hy het sy skoolopleiding voltooi en is nou ’n voltydse bedienaar.

Lars: Ons oudste seun, Martin, is nou 27. Die veranderinge wat hy ons sien maak het, het hom baie gegee om oor na te dink. Hy het die huis verlaat en in ’n ander deel van die land gaan woon. Twee jaar gelede het hy die Bybel met die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies daar begin studeer. Ná slegs vyf maande was hy gereed om gedoop te word. Hy het goeie toekomsplanne vir sy lewe as ’n Christen.

Ons tweede oudste seun, Thomas, is nie een van Jehovah se Getuies nie. Ons is natuurlik nog steeds lief vir hom, en ons het ’n baie goeie verhouding met hom. Hy is bly oor die verandering wat in ons gesin plaasgevind het. En ons almal stem saam dat ons gesin weer verenig is danksy die beginsels wat ons as ouers in die Bybel geleer het. Wat ’n seën is dit tog dat ons nou dikwels onder een dak as ’n gesin kan saamkom, die drie seuns en albei ouers almal saam!

Ons lewe vandag

Lars: Ons sê nie dat ons nou volmaak is nie. Maar ons het iets geleer—dat liefde en wedersydse respek sleutelfaktore in ’n gelukkige huwelik is. Die grondslag waarop ons huwelik gebou is, is nou baie anders as wat dit voorheen was. Al twee van ons het nou ’n hoër gesag as onsself aanvaar, want ons albei erken dat ons vir Jehovah lewe. Ek en Judith voel werklik verenig en sien met vertroue na die toekoms uit.

Judith: Ek dink ons is lewende bewys dat Jehovah die heel beste huweliks- en gesinsraadgewer is.

[Voetnoot]

^ par. 30 In 1978 deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee; is nou uit druk.

[Prent op bladsy 20]

Lars en Judith, in 1973, by hulle eerste troue

[Prent op bladsy 21]

Drie seuns het hulle verenigde gesin verloor en dit weer gevind

[Prent op bladsy 23]

Lars en Judith vandag, weer verenig omdat hulle Bybelbeginsels volg