Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Pa’s wat wegloop—Kan hulle regtig wegloop?

Pa’s wat wegloop—Kan hulle regtig wegloop?

Jongmense vra . . .

Pa’s wat wegloop—Kan hulle regtig wegloop?

“Toe sy sê: ‘Ek gaan jou baba hê’, was ek geskok. Wie sou vir die baba sorg? Ek was glad nie in staat om vir ’n gesin te sorg nie. Ek wou weghardloop.”—Jim. *

“ELKE jaar”, sê ’n verslag van die Alan Guttmacher-instituut, “word amper 1 miljoen tienermeisies . . . swanger.” Tot “78% van tienerswangerskappe is buite-egtelik”.

In die verlede het mans verplig gevoel om die verantwoordelikheid te dra vir hulle buite-egtelike kinders. Maar soos die boek Teenage Fathers sê, “is tienerswangerskappe nie meer so ’n groot skande en vernedering soos [vroeër] nie”. Onder jongmense in party gemeenskappe kan vaderskap selfs as ’n statussimbool beskou word! Nogtans gaan min jong mans ’n langtermynverpligting aan met die kinders wat hulle verwek. Baie loop—of hardloop—uiteindelik weg. *

Maar kan ’n jong man die gevolge van onsedelike gedrag heeltemal vryspring? Nie volgens die Bybel nie. Dit waarsku: “Moenie mislei word nie: God laat hom nie bespot nie. Want wat ’n mens ook al saai, dit sal hy ook maai” (Galasiërs 6:7). Soos ons sal sien, het geslagsonsedelikheid dikwels lewenslange gevolge vir meisies sowel as seuns. Jongmense kan sulke gevolge vermy deur ag te slaan op die Bybel se duidelike waarskuwing om geslagsonsedelikheid te vermy.

Dit is nie so maklik om weg te loop nie

Die versorging van ’n kind behels geweldige opofferings wat tyd, geld en persoonlike vryheid betref. Die boek Young Unwed Fathers sê: “Party jong mans stel nie daarin belang om ‘vir iemand anders te sorg’ as dit beteken dat hulle met minder oor die weg moet kom nie.” Baie betaal egter ’n duur prys vir hulle selfsugtigheid. Om maar een ding te noem, die howe en wetgewers in baie lande is al hoe minder tegemoetkomend teenoor mans wat nie hulle kinders onderhou nie. Wanneer vaderskap op ’n wettige wyse vasgestel is, kan daar van jong pa’s verwag word om jare lank onderhoud te betaal—en tereg ook. Baie jongmense word gedwing om die skool te verlaat en laagbesoldigde werk te aanvaar om hierdie verpligtinge na te kom. “Hoe jonger die pa is wanneer hy ’n ouer word”, sê die boek School-Age Pregnancy and Parenthood, “hoe minder formele onderwys sal hy ontvang.” En as ’n mens nie die onderhoud betaal nie, kan die skuld tot ’n enorme bedrag oploop.

Nie alle jong mans is natuurlik gevoelloos wat hulle kinders betref nie. Baie het aanvanklik goeie bedoelings. Volgens een opname besoek 75 persent van tienerpa’s hulle kind in die hospitaal. Dit is nietemin nie lank voor die meeste jong pa’s deur die verantwoordelikhede om vir ’n kind te sorg oorweldig word nie.

Baie vind dat hulle eenvoudig nie die kwalifikasies of ondervinding het om goeie werk te kry nie. Omdat hulle skaam is oor hulle onvermoë om finansiële ondersteuning te gee, verdwyn hulle mettertyd van die toneel. Knaende skuldgevoelens kan ’n jong man egter jare lank kwel. Een jong pa erken: “Soms wonder ek wat met my seun gebeur het. . . . Ek voel nie goed oor die feit dat ek [hom] in die steek gelaat het nie, maar nou het ek hom verloor. Miskien sal hy my eendag vind.”

Die skade wat kinders berokken word

Pa’s wat wegloop, moet ook met intense gevoelens van skaamte saamleef—skaamte oor die feit dat jy jou eie kind skade berokken het. ’n Kind het immers ’n ma en ’n pa nodig, soos die Bybel toon (Exodus 20:12; Spreuke 1:8, 9). Wanneer ’n man sy kind in die steek laat, stel hy sy kind aan ’n menigte potensiële probleme bloot. ’n Verslag deur die Amerikaanse Departement van Gesondheid en Menslike Dienste sê: “Jong kinders in enkelmoedergesinne is geneig om laer punte te kry vir mondelinge en wiskundetoetse. In die middel van hulle kinderjare is kinders wat deur ’n enkelouer grootgemaak is, geneig om laer punte te kry, meer gedragsprobleme te ondervind en meer gevalle van chroniese gesondheids- en psigiatriese probleme te hê. Onder adolessente en jong volwassenes word die feit dat iemand in ’n enkelmoedergesin grootgemaak is, verbind met ’n groter risiko van tienerswangerskap, vroeë skoolverlating, tronkstraf en om nie te werk of skool te gaan nie.”

Die tydskrif Atlantic Monthly maak dié gevolgtrekking: “Al hoe meer sosiaal-wetenskaplike getuienis toon dat kinders in gesinne wat ontwrig is deur egskeiding en buite-egtelike geboortes op verskeie gebiede slegter daaraan toe is as kinders uit gesinne wat by mekaar is. Kinders in enkelouergesinne het ’n ses keer groter kans om arm te wees. Hulle sal waarskynlik ook arm bly.”

Hou in gedagte dat hierdie risiko’s gebaseer is op statistiese studies van groepe en is nie noodwendig op individue van toepassing nie. Baie kinders word aangename, goed gebalanseerde volwassenes, al kom hulle uit ’n minder bevoorregte gesin. Nogtans kan skuldgevoelens swaar druk op die gedagtes van ’n jong man wat sy kind in die steek gelaat het. “Ek is bevrees ek het werklik sy lewe vir ewig [opgemors]”, sê een ongehude pa.—Teenage Fathers.

Die uitdaging om ondersteuning te gee

Nie alle jong pa’s loop weg nie. Party jong mans voel tereg ’n sedelike verantwoordelikheid teenoor hulle kinders en het ’n opregte begeerte om met die grootmaak van hulle kinders te help. Maar dikwels is dit baie makliker gesê as gedaan. Om maar een ding te noem, ’n ongehude pa het moontlik min wettige regte, wat dit aan die meisie en haar ouers oorlaat om te bepaal hoe dikwels—of hoe min—hy sy kind kan sien. “Jy moet die heeltyd aan maniere dink om situasies te manipuleer sodat jy ’n mate van seggenskap oor die kind kan hê”, sê Jim, wat aan die begin aangehaal is. Besluite kan derhalwe geneem word waarteen ’n jong pa dalk hewig gekant is, soos aanneming—of selfs aborsie. * “Dit is moeilik vir my om toe te kyk hoe hulle hom net weggee vir ’n vreemdeling”, sê een jong pa, “maar ek het seker geen ander keuse nie.”

Party jong mans bied aan om met die ma van hulle kind te trou. * ’n Huwelik sal die meisie weliswaar ’n mate van verleentheid spaar en dit vir die kind moontlik maak om deur twee ouers grootgemaak te word. Dit kan selfs wees dat die jong paartjie ten spyte van hulle wangedrag regtig vir mekaar lief is. Maar die feit dat ’n seun kan voortplant, beteken hoegenaamd nie dat hy die verstandelike en emosionele volwassenheid het wat nodig is om ’n eggenoot en ’n pa te wees nie. Dit beteken ook nie dat hy die vermoë het om ’n vrou en kind finansieel te onderhou nie. Studies toon dat huwelike wat die gevolg van swangerskap is gewoonlik nie lank hou nie. Om haastig te trou, is dus nie altyd ’n verstandige oplossing nie.

Talle jong mans bied tereg aan om hulle kinders finansieel te onderhou. Soos vroeër genoem is, vereis dit vasberadenheid van ’n jong pa om sulke ondersteuning oor ’n lang tydperk—miskien 18 jaar of langer—te gee! Maar voortgesette hulp wat dit betref, kan voorkom dat die ma en die kind in armoede lewe.

Maar wat daarvan om met die eintlike grootmaak van die kind te help? Dit kan ook ’n moeilike uitdaging wees. Soms is die paartjie se ouers bang dat daar verdere seksuele betrokkenheid sal wees en probeer hulle dus die paartjie ontmoedig—of selfs verbied—om mekaar te sien. Die meisie self kan besluit dat sy nie wil hê dat haar kind geheg moet raak aan ’n man wat nie met haar getroud is nie. In elk geval, as die pa toegelaat word om sy kind gereeld te sien, sal gesinne verstandig wees as hulle seker maak dat sulke besoeke in die teenwoordigheid van ander plaasvind om verdere wangedrag te voorkom.

Omdat hulle graag ’n verhouding met hulle kinders wil opbou, het party ongehude pa’s geleer hoe om basiese ouerlike pligte uit te voer, soos om hulle kinders te bad, te voer of vir hulle te lees. ’n Jong man wat ’n waardering vir Bybelstandaarde opgebou het, kan selfs probeer om sy kind van die beginsels in God se Woord te leer (Efesiërs 6:4). Maar hoewel ’n bietjie liefdevolle aandag van ’n pa ongetwyfeld beter is vir ’n kind as hoegenaamd niks nie, is dit eenvoudig nie dieselfde as om ’n pa te hê wat elke dag daar is nie. En as die ma van die kind ooit trou, sal die jong pa dalk hulpeloos moet toekyk hoe ’n ander man die taak oorneem om sy kind groot te maak.

Dit is dus duidelik dat buite-egtelike vaderskap baie ongelukkigheid tot gevolg het—vir die ouers sowel as die kind. Benewens die praktiese probleme is daar die gevaar om die guns te verloor van Jehovah 1 Tessalonisense 4:3). Hoewel dit moontlik is om die beste van ’n slegte situasie soos tienerswangerskap te maak, behoort dit duidelik te wees dat dit die beste is om in die eerste plek nie by onsedelike gedrag betrokke te raak nie. Een jong pa erken: “Jou lewe sal nooit weer dieselfde wees nadat jy ’n buite-egtelike kind gehad het nie.” Ja, ’n jong pa sal dalk vir die res van sy lewe met die gevolge van sy fout moet saamleef (Galasiërs 6:8). Dit is dus weer eens die weg van wysheid om die Bybel se raad te volg wanneer dit sê: “Vlug vir die hoerery.”—1 Korintiërs 6:18.

[Voetnote]

^ par. 3 Van die name is verander.

^ par. 5 Sien die artikel “Jongmense vra . . . Vaderskap—Is dit ’n bewys van manlikheid?” in die Ontwaak! van 22 April 2000. Vir ’n bespreking van die gevolge van ongehude moederskap vir jong vroue, sien die artikel “Jongmense vra . . . Ongehude moederskap—Kan dit met my gebeur?” in die nommer van 22 Julie 1985.

^ par. 16 Sien die artikel “Jongmense vra . . . Aborsie—Is dit die oplossing?” in die Ontwaak! van 8 Maart 1995.

^ par. 17 Die Mosaïese Wet het vereis dat ’n man wat ’n maagd verlei het met haar moes trou (Deuteronomium 22:28, 29). Maar dit was nie ’n uitgemaakte saak dat hulle sou trou nie, want die meisie se pa kon dit verbied (Exodus 22:16, 17). Hoewel hedendaagse Christene nie onder daardie Wet is nie, beklemtoon dit wel hoe ernstig die sonde van voorhuwelikse seks is.—Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 15 November 1989.

[Prent op bladsy 15]

Dit is die beste om in die eerste plek onsedelike gedrag te vermy