Van ons lesers
Van ons lesers
Sistiese fibrose Ek wil graag my opregte dank uitspreek vir die artikel “My lewe met sistiese fibrose” (22 Oktober 1999). Ek en my man is omtrent dieselfde ouderdom as Jimmy Garatziotis en sy vrou, en dit is baie aanmoedigend om jongmense te sien wat sulke sterk geloof het ten spyte van ernstige probleme.
S. D., Italië
Ek wag al jare lank vir so ’n artikel om te verskyn. Ek en my man het ’n sesjarige dogter met sistiese fibrose. Ek het die artikel dus onmiddellik gelees. Dit is wonderlik om Jimmy Garatziotis se ywer vir die predikingswerk te sien, selfs al is hy siek. En dit is hartverblydend om te weet dat ons die hoop het om in ’n nuwe wêreld te lewe waarin daar geen siekte meer sal wees nie.
H. O., Verenigde State
Jimmy se voorbeeld bewys dat ons baie kan doen om Jehovah te loof, selfs wanneer ons swak gesondheid het.
P. C., Brasilië
Dwelms Dankie vir die reeks “Neem dwelms die wêreld oor?” (8 November 1999). Ek het voorheen dwelms gebruik—kokaïen, dagga, hasjisj. Ek het ook alkohol misbruik en meer as 40 sigarette per dag gerook. Dit was baie moeilik om hierdie gebruike af te leer, maar God het my die krag gegee. Nege jaar het verloop sedert ek opgehou het, en ek is dankbaar dat ek my van hierdie wêreld se besoedeling kon bevry sonder om ’n ernstige siekte op te doen of in die tronk te beland. Omdat ek weet watter fisiese, emosionele en ekonomiese probleme dwelmgebruik kan veroorsaak, hoop ek dat sulke artikels die harte van jongmense sal raak.
G. M., Italië
Ek het die reeks in ’n skoolopstel gebruik, waarvoor ek volpunte en die komplimente van my onderwyser ontvang het. Ek geniet dit altyd om die Ontwaak! te lees, veral artikels wat aktuele sake bespreek. Dit help my om realisties oor die lewe te wees.
I. M., Italië
Palmtuine Die artikel “’n Besoek aan ’n eksotiese tuin” (8 November 1999) was een van die mooiste artikels wat ek die afgelope tyd gelees het. Ek kon myself in die Paradys voorstel, besig om so ’n pragtige tuin sorgvuldig te beplan. Die liefde wat hierdie man vir sy plante het, het my werklik geroer. Hoe waardeer hy tog Jehovah se pragtige skepping, soos ons almal moet!
L. C., Kanada
Uitgaande Die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek meer uitgaande wees?” (22 November 1999) het my diep geraak. Ek is 16 jaar oud en vind dit moeilik om met ander te kommunikeer, veral by Christelike vergaderinge. Dankie dat julle aan jongmense soos ek dink wat hierdie probleem het. Ek sal die goeie raad wat julle in hierdie artikel gegee het probeer toepas.
I. A., Frankryk
Sangvoëls Dankie vir die artikel “Bekoorlike duetsangertjies” (8 Desember 1999). Ek kon my net voorstel hoe hierdie voëltjies moet klink wanneer hulle op ’n boomtak hulle pragtige uitvoering lewer! Ek dank Jehovah daagliks dat hy diere geskep het wat ons vermaak.
J. S., Japan
Diabetes As deel van my nagraadse studies is ek aangewys om ’n seminaar oor diabetes mellitus te hou. Die eenvoudige en openhartige verduideliking in die artikel “Julle dogter het diabetes!” (22 September 1999) was baie nuttig. Sonya Herd se verhaal het my laat besef hoe belangrik duidelike inligting is.
T. K., Brasilië