Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verstandige gebruik van die televisie

Verstandige gebruik van die televisie

Verstandige gebruik van die televisie

DIE televisie is “die grootste storieverteller, kinderoppasser en vormer van die openbare mening”, sê Not in the Public Interest—Local TV News in America, ’n verslag wat deur ’n mediawaggroep in die Verenigde State opgestel is. “TV is oral om ons . . . Dit is in die lug soos tweedehandse rook.” En net soos dit skadelik is om tweedehandse rook in te asem, het dit ook ’n nadelige uitwerking—veral op kinders—om ure lank sommer maar net enigiets op TV te kyk.

Dieselfde verslag het van misdaad en geweld op TV gepraat en gesê dat “etlike honderde studies getoon het dat dit ’n negatiewe invloed op kinders se leervermoë, aggressie en empatie het as hulle na gewelddadige tonele kyk”. Die Amerikaanse Mediese Vereniging het in 1992 gesê dat “televisiegeweld ’n risikofaktor is wat die gesondheid van jongmense bedreig”.

Hoe kan jy die invloed van negatiewe TV-programme op jou kinders beheer? Die verslag gee ’n paar wenke, wat aangepas is uit voorstelle van verskeie openbare gesondheidsorganisasies, oor maniere om televisie verstandiger te gebruik. Hier is ’n paar van die wenke.

▪ Beplan en beperk jou TV-kykery. Stel tye vas wanneer kinders TV kan kyk. Moenie ’n TV-stel in kinders se kamers sit nie.

▪ Sit ’n aardbol langs die TV sodat die kinders die plekke kan soek wat hulle in programme sien.

▪ Kyk televisie saam met jou kinders sodat jy byvoorbeeld kan verduidelik wat die verskil tussen fantasie en die werklikheid is. Baie kinders onder die ouderdom van tien kan nie altyd die onderskeid tref nie.

▪ Skuif die televisie sodat dit nie op ’n opvallende plek in die huis staan nie. Sit die TV-stel in ’n kas met deurtjies wat toemaak. Dit sal dan ’n bietjie moeiliker wees om dit aan te skakel en van die een kanaal na die ander oor te skakel.