Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer daar chroniese siekte in ’n gesin is

Wanneer daar chroniese siekte in ’n gesin is

Wanneer daar chroniese siekte in ’n gesin is

DIE Du Toits is ’n gelukkige gesin. Dit is ’n plesier om te sien hoe lief hulle vir mekaar is. Wanneer jy hulle ontmoet, sal jy jou nooit kan indink dat hulle al soveel probleme gehad het nie.

Om mee te begin, toe hulle eerste kind, Michelle, twee was, het Braam en Ann uitgevind dat sy ’n chroniese oorerflike siekte het wat verlammende spierswakheid veroorsaak.

“Ewe skielik”, verduidelik Ann, die ma, “moet jy leer hoe om met ’n verpletterende chroniese siekte saam te leef. Jy besef dat jou gesinslewe nooit weer dieselfde sal wees nie.”

Maar ná nog ’n dogter en ’n seun gebore is, is hierdie gesin deur nog ’n tragedie getref. Eendag terwyl die drie kinders buite gespeel het, het die twee meisies in die huis ingehardloop. “Mamma! Mamma!” het hulle geskree. “Kom gou. Daar’s iets verkeerd met Neil!”

Toe Ann haar na buite haas, het sy gesien hoe haar driejarige seuntjie Neil se kop slap na een kant hang. Hy kon nie sy kop regop hou nie.

“Dit was ’n verskriklike skok”, sê Ann, “en ek het dadelik besef wat fout was. Ek het so hartseer gevoel omdat ek geweet het dat hierdie gesonde klein seuntjie met die uitdaging van dieselfde verlammende spierswakheid sou moes saamleef wat sy ouer sussie gehad het.”

“Die vreugde om met ’n gesonde gesin te begin”, sê die pa, Braam, “is gou oorskadu deur van die grootste uitdagings waarvoor ons nog te staan gekom het.”

Uiteindelik het Michelle, ondanks die beste hospitaalbehandeling, gesterf weens komplikasies wat deur haar siekte veroorsaak is. Sy was toe net 14 jaar oud. Neil voer nog steeds ’n stryd teen die gevolge van sy siekte.

Dit laat die vraag ontstaan: Hoe leef gesinne soos die Du Toits saam met die uitdagings om ’n chroniese siek gesinslid te hê? Kom ons kyk hoe gesinne deur chroniese siekte geraak kan word.