Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Unieke klok in Praag

’n Unieke klok in Praag

’n Unieke klok in Praag

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN DIE TSJEGGIESE REPUBLIEK

Straatverkopers ding met mekaar mee om die aandag van verbygaande toeriste. ’n Roesemoes van mense wat lag en in verskillende tale gesels, asook harde musiek vul die plein. Maar wag! Waarom word die skare stil? Dit is amper op die uur, en almal se oë is op die twee blou vensters van die stadsaal se toring gerig. Skielik skuif die vensters oop, en figure wat die apostels van Christus afbeeld, verskyn. Petrus, wat ’n groot sleutel vashou, is eerste. Terwyl die 12 figure twee-twee hulle beurt by die vensters kry, lyk dit of hulle oor die skare onder hulle uitkyk.

ONS kyk na die skouspel van die astronomiese klok bo-op die Ou Stadsaal van Praag, in die Tsjeggiese Republiek. Van agtuur soggens tot agtuur saans kry hierdie meganisme elke uur op die uur lewe. Behalwe die meganiese optog van apostels is daar ander bewegende figure aan die buitekant van die klok. Dit beeld die dinge af waarvoor die mense van Praag voorheen die bangste was. Aan die een kant staan die Gierigaard, wat sy beurs in sy hand weeg en hebsug afbeeld. Naby hom is Ydelheid—’n man wat homself in ’n spieël bewonder. Die Gierigaard sowel as Ydelheid knik hulle kop selfvoldaan. Aan die ander kant van die klok staan die geraamte—die Dood—wat met een benerige hand ’n klok lui en met die ander ’n uurglas omdraai. Intussen maak die geraamte die hele tyd sy mond vol tande oop en toe en knik hy na die Turk wat langs hom staan—wat vyandelike invalle afbeeld. Die Turk skud sy kop en weier om saam met hom te gaan.

Die verhaal word vertel van ’n mossie wat in die geraamte se mond ingevlieg het net toe dit vir die laaste keer in die vertoning toegemaak het. Die arme mossie was ’n uur lank daar vasgevang voor die geraamte weer sy mond oopgemaak het! As mense in vandag se gerekenariseerde eeu gefassineer word deur hierdie wonder wat heeltemal meganies is, kan jy jou voorstel watter indruk dit moes gemaak het op mense wat honderde jare gelede gelewe het?

Ons bekyk die klok van naderby

Toeriste konsentreer natuurlik hoofsaaklik op die bewegende figure, wat bygevoeg is gedurende die eeue vandat die klok oorspronklik geïnstalleer is. Maar die klok se oudste en vindingrykste element is die astronomiese wyserplaat. Wat kan dit vir ons aandui? Eerstens die tyd. Die swart buitenste ring is gemerk met goue Gotiese syfers volgens die ou Tsjeggiese stelsel waarvolgens die dag in 24 ure verdeel is wat met sononder begin het. Hierdie ring draai sodat die 24ste uur, ongeag die seisoen, altyd met sononder ooreenstem. Romeinse syfers net binne die buitenste ring verdeel die dag in twee periodes van 12 uur elk, met twaalfuur in die middag bo en middernag onder. Die vingers van ’n goue hand wys hoe laat dit is.

Die astronomiese wyserplaat dui ook deur middel van die beweging van ’n groot goue skyf die baan van die son aan, terwyl ’n klein bolletjie die maanfase toon. Die oënskynlike beweging van die sterrehemel om die aarde word afgebeeld deur ’n kleiner, eksentriese ring wat met die tekens van die sterrebeelde versier is. In die middel van die wyserplaat is die aarde, met sy lengte- en breedtelyne en pole, met Praag in die middel. Op die wyserplaat is daar ook drie sirkels wat die ewenaar en die Kreef- en Steenbokskeerkring verteenwoordig. Die wyserplaat toon dus die hele jaar deur die relatiewe liggings van die aarde, maan, son en sterre. Onder die astronomiese wyserplaat is die kalenderskyf, waarop landelike tonele geverf is om elke maand van die jaar uit te beeld. Die kalenderskyf dui die datum aan deur elke aand om middernag een van 365 trappies aan te skuif, behalwe vir een aand gedurende ’n skrikkeljaar.

’n Kykie binne die meganisme van die klok openbaar ’n verbysterende rangskikking van groot en klein ratte. Die ingewikkelde toestel word deur ’n werktuigkundige in stand gehou, wat dit elke week deeglik nagaan.

Die geskiedenis van die astronomiese klok

Daar is baie legendes wat met Praag se astronomiese klok verbind word. Volgens een het ’n sekere meester Hanuš dit gebou. Die meesterstuk was so besonders dat die stadsowerheid bang was dat hy ’n soortgelyke klok elders sou bou en so roem van Praag sou wegneem. Om te keer dat hy dit doen, het hulle mans gehuur om meester Hanuš aan te rand en te verblind. Die legende eindig met die sterwende Hanuš wat sy hand in die ratte van die klok insteek en dit vernietig.

Gelukkig is dit net ’n storie. Maar Hanuš was ’n werklike persoon, ’n klokmaker in Praag van 1475 tot 1497. Kenners het baie jare lank gedink dat hy die astronomiese klok gemaak het. Maar onlangse navorsing het aan die lig gebring dat Mikuláš van Kadaň die klok reeds in 1410 gebou het. Hanuš het dit in 1490 herbou. Sedert die 16de eeu is hierdie uurwerk verskeie kere herstel en herbou. Sedert dit in 1865 herbou is, is die meeste van sy onderdele egter nog dieselfde.

Aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog het Nazi-magte die Ou Stadsaal aan die brand gesteek toe hulle uit Praag getrek het. Die astronomiese klok is erg beskadig. Ná die oorlog is veral twee voorstelle oorweeg om die klok te restoureer—om sy oorspronklike voorkoms te herstel of om nuwe wyserplate en figure met heeltemal ander simboliese betekenisse daarop te sit. In Praag het ateïstiese denke veld gewen, en figure van die apostels was nie gewild by die Kommunistiese owerheid nie. Voor die ontwerp verander is, het drie meesterhorlosiemakers egter getoon dat die klok herstel kon word, en gevolglik is dit tot sy vooroorlogse voorkoms gerestoureer. Daarom sien ons vandag nog ’n gierigaard, ’n geraamte, ’n Turk en die apostels, en nie byvoorbeeld ’n timmerman, ’n messelaar, ’n kleremaker en ’n wasvrou nie.

Uiteindelik kraai die haan

Twaalf apostels verskyn in die astronomiese klok se optog, maar van die besonderhede is nie werklik Bybels nie. Judas Iskariot en Jakobus die seun van Alfeus is vervang deur Paulus en Barnabas, wat nie volgens die Bybel deel van die 12 is nie (Handelinge 1:12-26). Rondom die kop van elke apostel is ’n stralekrans—’n heidense simbool wat nie deur die vroeë Christene gebruik is nie.

Ná die laaste apostelfiguur verskyn het, kraai ’n vergulde haan wat bo die vensters sit. Die klok slaan die uur, die vensters gaan toe en die skare begin uitmekaargaan. Wil jy dit graag weer sien? Wel, ons sal nog ’n uur moet wag. Intussen kan ons die wyserplaat van hierdie klok bewonder, wat besoekers al byna 600 jaar na Praag se Ou Stadsaal lok.

[Diagram/Prent op bladsy 17]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

DIE ASTRONOMIESE WYSERPLAAT

Huidige tyd 12:57 nm.

Sononder 5:21 nm.

[Diagram/Prent op bladsy 18]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

DIE KALENDERSKYF

Datum aangedui 1 Januarie

[Prent op bladsy 16]

Ydelheid en die Gierigaard

[Prent op bladsy 17]

Die Dood en die Turk