Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Beskerm jouself en jou geliefdes

Beskerm jouself en jou geliefdes

Beskerm jouself en jou geliefdes

DIE Internet kan ’n nuttige instrument wees. Maar soos die meeste instrumente kan dit misbruik word. En kuberpornografie—pornografie op die Internet—is ’n voorbeeld van sulke misbruik.

Omdat hulle weet hoe kragtig ’n beeld kan wees, moet ouers alles in hulle vermoë doen om aanstootlike Internetruimtes ontoeganklik vir kinders te maak. Die boekie Teen Safety on the Information Highway voorsien nuttige inligting oor die onderwerp. Dit sê: “Daar is nou dienste wat die inhoud van webtuistes klassifiseer, asook programme en deurblaaiers wat die inhoud van webtuistes keur en ouers in staat stel om die soort webtuistes wat hulle as ongepas beskou te blokkeer. Hierdie programme werk op verskillende maniere. Party blokkeer webtuistes wat bekend is vir die aanstootlike materiaal daarop. Party verhinder gebruikers om sekere soorte inligting soos hulle naam en adres te gee. Ander programme hou jou kinders weg van kletskamers of beperk hulle vermoë om e-pos te stuur of te lees. Gewoonlik kan hierdie programme deur die ouer aangepas word om net die soorte webtuistes te blokkeer wat die ouers as aanstootlik beskou.”—Sien ook die venster “Beskerm kinders teen pornografie”.

’n Mens moet egter toegee dat ouers net soveel kan doen om toegang te beperk tot ongewenste webtuistes wat hulle kinders kan sien. Hulle kan nie hulle kinders elke oomblik dophou nie. En ’n kind of jeugdige wat geen blootstelling aan pornografie by die huis het nie, kan amper onbeperkte toegang daartoe verkry op ’n rekenaar by die skool of by ’n skoolmaat se huis. Behalwe dat hulle dus alles moontlik moet doen om te keer dat hulle kinders toegang tot pornografie het, moet ouers hulle help om ’n sensitiewe gewete aan te kweek wat hulle sal beweeg om pornografie te vermy sonder dat iemand hulle voorsê.

Dit sal ’n fout wees om die gevolgtrekking te maak dat volwassenes beter as kinders toegerus is om na pornografie te kyk. Soos ons in die vorige artikel gesien het, is pornografie vir niemand goed nie!

Maar gestel jy kyk al ’n geruime tyd na pornografie. Jy besef dat dit God nie behaag nie, en jy wil met die gewoonte breek. Kan dit gedoen word? Ja, dit kan. Mense breek elke dag met slegte gewoontes. As jy werklik van pornografie wil losbreek, kan jy dit doen.

As jy daarvan wil losbreek

Die eerste stap is om op te hou om na pornografie te kyk—onmiddellik! Hoe langer jy wag, hoe moeiliker sal dit wees om op te hou. Maar om op te hou, is moontlik makliker gesê as gedaan. Die Bybel is realisties wanneer dit daarop wys dat sonde tydelik genotvol kan wees (Hebreërs 11:25). Maar sonde kan ook tot die dood lei (Romeine 6:23). Aanvanklik sal jy dalk vind dat jy allerhande verskonings maak om nog net een keer na pornografie te kyk. Moenie na jouself luister nie! En moenie voor die versoeking swig om aan te hou kyk nie!

Soos vroeër in hierdie reeks genoem is, kan dit ’n ernstige uitwerking op jou lewensgehalte hê as jy na pornografie kyk. Kyk eerlik na watter uitwerking die gewoonte op jou verhouding met jou gesin en vriende het. Is jy ’n eggenoot en vader? Jou vrou en kinders het waarskynlik al sekere veranderinge in jou gedrag opgemerk. Vandat jy na pornografie begin kyk het, is jy dalk buieriger, norser, geheimsinniger of meer teruggetrokke—miskien sonder dat jy dit eers agterkom. Dalk vaar jy soms sonder rede teen gesinslede uit. As jy na pornografiese materiaal kyk, is jou gedrag waarskynlik besig om jou te verraai. Vriende en gesinslede het opgemerk dat iets verkeerd is. Hulle weet net nie wat dit is nie—nog nie!

As jy vind dat jy herhaaldelik in die versoeking kom om na pornografie te kyk, moet jy nie alleen daarteen probeer stry nie. Kry hulp. Neem ’n ervare vriend in jou vertroue. Dit sal weliswaar moed verg om te erken dat jy ’n probleem met pornografie het, maar ’n volwasse vriend sal jou waarskynlik bewonder omdat jy die inisiatief neem om daarmee op te hou.

’n Sterk begeerte om God te behaag, is sekerlik die kragtigste rede om teen pornografie te stry. Wanneer ons ’n rein weg volg, maak ons God se hart bly (Spreuke 27:11). Wanneer ons ’n verkeerde weg volg, gee ons hom “smart in sy hart” (Genesis 6:6). As jy ’n Christen is, is jy ongetwyfeld besorg oor God se gevoelens. Jy moet ook besorg wees oor die manier waarop jy jou verstand en hart gebruik, wat aan God toegewy is en vir sy diens rein gehou moet word (Esegiël 44:23). Die Bybel spoor Christene aan om hulle “van elke verontreiniging van die vlees en die gees [te] reinig en in die vrees van God heiligheid [te] vervolmaak” (2 Korintiërs 7:1). Ja, ’n heilsame vrees om God, wat alles sien, te mishaag, kan jou motiveer om van pornografie los te breek.

Maar gestel jy maak per ongeluk ’n webtuiste oop waarop daar pornografie is, terwyl jy worstel om daarvan los te breek. Verlaat onmiddellik die webtuiste! Indien nodig, skakel die Internetdeurblaaier af! As jy vind dat jy in die versoeking kom om daarheen terug te keer, wend jou tot God in opregte gebed en smeek hom om jou te help om die versoeking te weerstaan. “Laat julle versoeke in alles . . . by God bekend word”, sê die Bybel. As jy vind dat jy deur onwelvoeglike gedagtes gekwel word, bid tot jy verligting kry. Dan sal ‘die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, jou hart en jou verstandelike vermoëns bewaak’ (Filippense 4:6, 7). Jy sal natuurlik onheilsame gedagtes moet vervang met gedagtes wat ‘waar, van ernstige belang, regverdig, kuis en lieflik is en waarvan goed gepraat word’.—Filippense 4:8.

Jy sal dit dalk nuttig vind om Bybeltekste soos die volgende te memoriseer en daaroor te peins.

“o Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad!”—Psalm 97:10.

“Ek kasty my liggaam en lei dit as ’n slaaf, sodat ek, nadat ek vir ander gepreek het, nie self op die een of ander wyse afgekeur sou word nie.”—1 Korintiërs 9:27.

“Maak dus julle liggaamsdele wat op die aarde is dood wat betref hoerery, onreinheid, geslagslus.”—Kolossense 3:5.

“Elkeen van julle moet weet hoe om in heiliging en eer sy eie vat in besit te kry, nie in hebsugtige geslagslus [nie].”—1 Tessalonisense 4:4, 5.

‘Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.’—Matteus 5:28.

“So behoort mans hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggame. Hy wat sy vrou liefhet, het homself lief.”—Efesiërs 5:28.

Daar is baie redes om pornografie te vermy. Dit kan ’n ernstige uitwerking op jou lewensgehalte hê, jou oordeel benewel, jou verhoudinge met ander skade aandoen en, belangrikste van alles, jou verhouding met God verwoes. As jy nie tans na pornografie kyk nie, moenie begin nie. As jy begin het, hou onmiddellik op! Hetsy dit in ’n boek of ’n tydskrif of op die Internet is, pornografie is nie vir Christene nie. Vermy dit ten alle koste!

[Venster/Prent op bladsy 9]

Beskerm kinders teen pornografie

Die volgende wenke kan jou help om jou kinders teen die gevare van pornografie op die Internet te beskerm.

● Moenie jou kind toelaat om in sy slaapkamer op die Internet in te skakel nie. Plaas enige gekoppelde rekenaars in ’n vertrek waartoe alle gesinslede vrye toegang het.

● Leer ken die rekenaardienste wat jou kind gebruik.

● Kyk of jou kind sonder jou wete sy eie webtuiste geskep het. Om dit te doen, moet jy sy naam probeer soek deur middel van soekprogramme wat die hele Internet fynkam. Soek sy volle naam tussen aanhalingstekens om te keer dat jy op die verkeerde plek uitkom.

● Moenie jou kind toelaat om ’n persoonlike ontmoeting te reël met ’n ander rekenaargebruiker wat jy nie ken nie.—Sien die venster “Meer as net kletspraatjies”.

● Moet nooit op boodskappe of items op bulletinborde reageer wat suggestief, onwelvoeglik, aggressief of dreigend is nie.

● Waarsku jou kinders om nie na ongepaste materiaal op die Internet te kyk nie. Leer hulle om hulle eie sensor te wees wanneer jy nie daar is nie. Onthou dat daar dalk geen voorsorgmaatreëls teen pornografie getref is op rekenaars by die skool of in die huis van ’n vriend nie.

[Erkenning]

Inligting deels gebaseer op Child Safety on the Information Highway en ’n artikel in die Los Angeles Times, 5 Julie 1999.

[Venster/Prent op bladsy 10]

Meer as net kletspraatjies

’n Mens moet uiters versigtig wees wanneer jy ’n rekenaarkletskamer gebruik. ’n Kletskamer is ’n medium wat Internetgebruikers toelaat om met mekaar te kommunikeer. Baie mense kommunikeer natuurlik met goeie vriende deur middel van e-pos. Party wat ver van gesinslede woon, kan op hierdie manier gereeld met mekaar in aanraking bly. Maar dit is iets heel anders om e-pos te stuur aan iemand wat jy ken as om met iemand te praat wat jy nie ken nie. Sal jy dit oorweeg om sommer enige telefoonnommer te bel en dan vriende te maak met wie ook al die telefoon optel? Natuurlik nie! Waarom sou ’n mens dan op die Internet ’n verhouding met ’n wildvreemde persoon aanknoop?

Een probleem as ’n mens met ’n vreemdeling kommunikeer, is dat hy dalk nie is wat hy voorgee nie. Hy kan byvoorbeeld ’n pedofiel wees wat hoop om misbruik te maak van ’n niksvermoedende kind of jongmens.

Parry Aftab, ’n regsgeleerde wat spesialiseer in gevalle waarby die Internet betrokke is, verduidelik hoe maklik dit kan gebeur. Hy het gesê: “Kinders besoek gewoonlik kletskamers. Pedofiele let dit op, volg die gesprekke en sonder kinders uit wat eensaam is. Een kind stuur dalk boodskappe soos: ‘My ouers is besig om te skei . . . Ek haat my ma, sy koop nooit vir my die rekenaarspeletjie wat ek wil hê nie.’ . . . Die pedofiel kom in en sê: ‘My ouers is besig om te skei . . . Ek haat my ma . . . Ek kan nooit die speletjie kry wat ek wil hê nie, totdat oom Timmy dit vir my gekry het. . . . Al wat jy moet doen, is om na die winkelsentrum te gaan en oom Timmy daar te ontmoet.’” “Oom Timmy” is in werklikheid die pedofiel wat op soek is na ’n slagoffer.

Ouers moet gevolglik ’n hegte, liefdevolle verhouding met hulle kinders behou. Hou die kommunikasiekanale oop sodat die jonges nie emosionele ondersteuning op die verkeerde plek sal soek nie.

Volwassenes wat eensaam is of nie gelukkig getroud is nie, moet hulle nie tot rekenaarkletskamers wend vir emosionele ondersteuning nie. Dit is gevaarlik om jou tot vreemdelinge te wend. Party volwassenes het hulle huweliksmaat verlaat vir iemand wat hulle op die Internet “ontmoet” het. *

[Voetnoot]

^ par. 38 Sien asseblief die artikel “Jongmense vra . . . Hoe kan ek gevare op die Internet vermy?” in die Ontwaak! van 22 Januarie 2000 vir bykomende inligting oor rekenaarkletskamers.

[Prent op bladsy 8]

Gebed kan jou help om versoeking te weerstaan