Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dasse—destyds en vandag

Dasse—destyds en vandag

Dasse—destyds en vandag

MANS is al duisende jare lank daarop gesteld om hulle keel en nek te versier. Om en by 1737 v.G.J het Farao van Egipte byvoorbeeld vir Josef ’n goue halsketting gegee.—Genesis 41:42.

In baie dele van die wêreld dra mans vandag wat ons dasse noem. Volgens verskeie bronne het die voorlopers van die moderne das in die tweede helfte van die 16de eeu in Engeland en Frankryk verskyn. Mans het ’n baadjie gedra wat ’n doeblet genoem is. As versiering het hulle ’n plooikraag om die nek gedra. In baie gevalle was die plooikraag, wat etlike sentimeter dik kon wees, ’n groot bordagtige skyf wat om die nek gegaan het. Dit is van wit lap gemaak en is gestyf sodat dit sy vorm sou behou.

Uiteindelik is die plooikraag vervang deur wat die puntkraag genoem is. Dit was ’n wit kraag wat die hele skouer bedek het en oor die boonste deel van die arm gehang het. Hierdie krae is ook Van Dyck-krae genoem. Die Puriteine was van dié wat dit gedra het.

In die 17de eeu is ’n lang onderbaadjie onder die gewone lang baadjie gedra. ’n Serpagtige nekdoek, of krawat, is om die draer se nek gedra. Die krawat is meer as een keer om die nek gedraai. Die los punte het aan die voorkant van die hemp gehang. Skilderye van die tweede helfte van die 17de eeu toon dat krawatte teen daardie tyd baie gewild was.

Krawatte is van moeselien, linon en selfs kant gemaak. Die kantkrawatte was duur. Jakobus II van Engeland het glo 36 pond en 10 sjieling (R230) vir een vir sy kroning betaal, nogal ’n groot bedrag in daardie tyd. Party kantkrawatte was groot. Die krawat in die standbeeld van Karel II in Westminster-abdy is 15 sentimeter breed en 86 sentimeter lank.

Daar was baie soorte knope wat gebruik is om die krawatte vas te maak. Soms is ’n sylint oor die krawat gesit om dit in posisie te hou en is dit dan in ’n groot strik onder die ken geknoop. Hierdie soort nekdoek is ’n solitêr genoem. Die strik het soos ’n moderne strikdas gelyk. Daar was glo ten minste honderd maniere om ’n krawat te knoop. Beau Brummell, ’n Engelsman wat mansmodes beïnvloed het, het na bewering ’n hele oggend geneem om een krawat te probeer knoop om dit presies reg te kry.

Teen die 1860’s het die krawat met lang punte soos die moderne weergawes van nekbykomstighede begin lyk en het dit as die knoopdas bekend geword. Dit is in Engels ook ’n four-in-hand genoem. Hierdie naam kom van die knoop wat deur drywers van ’n span van vier perde gebruik is. Hemde met krae het mode geword. Die das is onder die ken geknoop, en die lang punte daarvan het aan die voorkant van die hemp gehang. Dit is toe dat die das soos ons dit ken, verskyn het. ’n Ander soort das, die strikdas, het gedurende die 1890’s gewild geword.

Vandag word die das deur baie as ’n belangrike deel van ’n man se kleredrag beskou. Party mense sal selfs ’n mening omtrent ’n vreemdeling vorm gegrond op die soort das wat hy dra. Gevolglik is dit verstandig om dasse te dra wat skoon is en patrone en kleure het wat by jou hemp, broek en baadjie pas.

Die knoop wat jy kies, moet netjies gedoen word. Die gewildste knoop is heel moontlik die four-in-hand-knoop. (Sien diagram op bladsy 14.) Dit is netjies en beskeie en is algemeen aanvaarbaar vir formele geleenthede. Nog ’n gewilde knoop is die Windsor-knoop, wat ietwat groter is. ’n Kuiltjie word gewoonlik in die das net onder die knoop gemaak.

Baie mans voel ongemaklik wanneer hulle ’n das dra. Hulle hou nie van die drukking teen hulle keel nie. Maar party wat hierdie probleem ondervind het, het ontdek dat die ongemak meer met die grootte van die hemp te doen het. As jy hierdie probleem het, moet jy seker maak dat jou hemp se kraag nie te klein is nie. Wanneer dit die regte grootte is, sal jy dalk nie eers agterkom dat jy ’n das dra nie.

In baie lande is die das ’n noodsaaklike deel van kantoor- en formele drag. Dit is waarom baie Christenmans ’n das dra wanneer hulle aan formele aspekte van hulle bediening deelneem. Ja, ’n stuk lap om ’n man se nek kan hom deftiger en netjies laat lyk.

[Diagram op bladsy 14]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Hoe om ’n four-in-hand-knoop te maak *

1 Begin met die das se breë punt omtrent 30 sentimeter onder die nou punt, en vou dit oor die nou punt en bring dit onderdeur.

2 Vou die breë punt weer oor, en bring dit op deur die lus.

3 Terwyl jy die voorkant van die knoop lossies met jou wysvinger vashou, trek die breë punt deur die lus aan die voorkant.

4 Trek die knoop stadig vas terwyl jy die nou punt vashou en die knoop na die kraag skuif.

[Voetnoot]

^ par. 15 Van die boek Shirt and Tie.

[Prente op bladsy 15]

Dasstyle van die 17de eeu tot vandag