Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is dit werklik so skadelik?

Is dit werklik so skadelik?

Is dit werklik so skadelik?

SOOS ons gesien het, het die Internet pornografie binne die bereik van volwassenes sowel as kinders gebring. Moet jy daaroor besorg wees? Is pornografie werklik skadelik?

Baie dink dat dit geen skade doen as ’n mens vlugtig na pornografie kyk nie. Maar die feite bewys die teendeel. Beskou byvoorbeeld die geval van ’n egpaar wat op die oog af ’n ideale huwelik gehad het. Hulle het geen finansiële bekommernisse gehad nie en het daarvan gehou om te reis. Hulle vriende het hulle as ’n hegte, liefdevolle en toegewyde egpaar beskou, en dit was in baie opsigte waar.

Maar probleme het ontstaan toe die man na pornografie begin kyk het. Sy besorgde vrou het haar bekommernis in ’n brief aan ’n gewilde adviesrubriekskrywer beskryf: “Toe [my man] begin het om in die middel van die nag en vroeg in die oggend baie tyd voor die rekenaar deur te bring, het hy vir my gesê dat dit ‘navorsing’ is. Een oggend het ek by hom ingestap en hom betrap terwyl hy besig was om na [pornografie] te kyk . . . Hy het gesê dat hy net nuuskierig was. Toe ek sien waarna hy kyk, het dit my siek gemaak. Hy was verleë en het belowe om op te hou, en ek het geglo dat hy dit bedoel het. Hy was nog altyd eerbaar—’n man van sy woord.”

Soos hierdie man het baie aanvanklik uit nuuskierigheid by pornografie betrokke geraak. Omdat hulle bang is om betrap te word, skakel hulle laat in die nag of vroeg in die oggend op die Internet in. As hulle betrap word, probeer hulle dikwels wegsteek wat hulle doen deur leuens te vertel, soos hierdie man gedoen het. Kan enigiemand redelikerwys beweer dat ’n “stokperdjie” wat “’n man van sy woord” in die middel van die nag laat rondsluip en vir geliefdes leuens laat vertel onskadelik is?

Die gebruik kan tot ernstige persoonlike en gesinsprobleme lei. Party het erken dat hulle betrokkenheid by pornografie hulle verhinder het om intieme verhoudinge met ander te ontwikkel. Hulle wil nie mense om hulle hê wanneer hulle hulle drang na pornografie bevredig nie. Mense is geneig om te fantaseer wanneer hulle na pornografie kyk, en fantasie rus ’n mens nie toe om hegte verhoudinge aan te knoop of die werklikhede van die lewe te hanteer nie. Kan ’n tydverdryf wat mense vervreem van diegene wat die meeste vir hulle omgee waarlik geen skade doen nie?

In party gevalle is dit vir mense wat na pornografiese materiaal kyk of dit lees selfs moeilik om normale geslagsgemeenskap met hulle huweliksmaat te geniet. Om te verstaan waarom dit die geval is, moet ’n mens aan God se oorspronklike voorneme vir getroude mense dink. Hy het mans en vrouens liefdevol die vermoë gegee om hulle liefde vir mekaar op ’n vreugdevolle wyse te betoon deur eerbare geslagsgemeenskap. Spreuke 5:18, 19 toon dat dit bedoel is om genotvol te wees: “Verheug jou oor die vrou van jou jeug . . . laat haar boesem jou altyd vermaak, mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd wees.”—Ons kursiveer.

Let op dat liefde veronderstel was om die grondslag vir geslagsgemeenskap te wees. Kweek die persoon wat na pornografie kyk ’n hegte band van liefde en intimiteit? Nee, hy bevredig sy eie seksuele begeertes—alleen, in die meeste gevalle. ’n Getroude man wat na pornografie kyk, kan sy vrou as ’n blote voorwerp begin beskou—iemand wat alleenlik vir sy plesier bestaan. Dit is lynreg in stryd met die waardigheid en eer waarmee die Skepper wou hê dat ’n man sy vrou moet behandel (1 Petrus 3:7). Kan ’n gebruik wat ’n negatiewe uitwerking op die intiemste aspekte van die huwelik het as gewens beskou word?

Bowendien kan wat moontlik net ’n vlugtige kykie sou wees tot ’n langtermynverslawing lei. Een skrywer sê: “Net soos dwelmverslaafdes sterker dwelms nodig het om ‘hoog’ te raak, het mense wat na pornografie kyk intenser ondervindinge nodig om dieselfde euforiese gevoelens as tevore te ervaar.”

Dit is blykbaar wat met die man gebeur het wat vroeër in hierdie artikel genoem is. Een aand, maande nadat hy belowe het om op te hou om na pornografie te kyk, het sy vrou huis toe gekom en hom by die rekenaar gevind. Uit sy houding kon sy sien dat iets verkeerd was. “[Hy] het baie senuweeagtig en ontsteld gelyk”, het sy geskryf. “Ek het na die rekenaar gekyk, en jou waarlik, hy was besig om na ongelooflike vuil goed te kyk. Hy het gesê dat hy opreg was toe hy belowe het om op te hou, maar hy kon net nie daarvan wegbly nie.”

In die lig van die skade wat pornografie kan doen en hoe maklik dit verkrygbaar is, het jy meer as genoeg rede om daaroor besorg te wees. Hoe kan jy jouself en jou kinders beskerm? Die laaste artikel in hierdie reeks sal hierdie vraag bespreek.

[Prent op bladsy 6]

Pornografie is vernietigend