Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is evolusie logies?

Is evolusie logies?

Is evolusie logies?

VOORSTANDERS van die evolusieteorie sê vandag dat evolusie ’n feit is. Maar hoe logies is die bewerings wat hulle so dikwels maak? Kyk na die volgende.

Sy, wat deur spinnekoppe gemaak word, is een van die sterkste materiale waarvan ons weet. Volgens die New Scientist “kan elke draad met 40 persent van sy lengte rek en honderd keer meer energie as staal absorbeer sonder om te breek”. Hoe word hierdie merkwaardige sy gemaak? ’n Klewerige vloeistof, ’n proteïen, gaan deur klein buisies in die spinnekop se liggaam, en die vloeistof word ’n soliede draad wanneer sy proteïenmolekules herrangskik word, verduidelik die Encyclopædia Britannica.

New Scientist sê dus: “Die spinnekop het deur evolusie tegnieke ontwikkel wat dié van selfs die vaardigste skeikundige ver oortref.” Is dit redelik om te dink dat die spinnekop ’n vervaardigingstegniek deur evolusie ontwikkel het wat so ingewikkeld is dat die mens dit nog moet ontrafel?

’n Artikel in The Wall Street Journal, deur Phillip E. Johnson, ’n professor in die regte aan die Universiteit van Kalifornië, sê dat daar onvoldoende bewyse vir evolusie is, maar dat die voorstanders daarvan diegene wat dit bevraagteken nog steeds dikwels bespot. Die artikel sê: “Die evolusieteorie het ernstige probleme met die getuienis—maar die voorstanders daarvan wil nie ’n openhartige debat hê wat dalk die wêreld se beskouing van hulle sal ondermyn nie.”

Nog ’n voorbeeld wat die gebrek aan logika in evolusionêre denke toon, hou verband met plante. Wetenskaplikes wat navorsing in Marokko doen, het 150 fossiele van archaeopteris opgegrawe, “die naaste familie wat tot dusver ontdek is van die eerste saadplante, voorouers van die meeste van vandag se bome”, sê The Daily Telegraph van Londen. Die koerant se wetenskapsredakteur sê dat hierdie plant “gehelp het om aan die moderne wêreld vorm te gee deur blare en takke te ontwerp”. “Om te ontwerp”, beteken “om deur denke tot stand te bring”. Is dit logies om te sê dat ’n plant kan dink en dinge ontwerp?

Salomo, wat een van die wysste mense was wat nog geleef het, spoor ons aan om ‘ons denkvermoë te bewaak’, om vir onsself te dink. Daar was nog nooit ’n groter behoefte hieraan nie.—Spreuke 5:2, NW.